Jesus se verskynings na sy dood (2)
“Love is not a ‘quality’ of God, but is His Nature – Emil Brunner
Jesus se verskynings na sy dood (2)
William Lane Craig William Lane Craig is Navorsingsprofessor in Filosofie aan die Talbot School of Theology. Ek gaan baie gebruik maak van sy boekie: Did Jesus Rise from the dead.
Ook in die evangelies kry ons veelvuldige, onafhanklike verslae van verskynings van Jesus na sy dood. Dit sluit in van dieselfde mense in Paulus se lys. Dit is duidelik dat van hierdie verskynings, indien nie almal nie, histories korrek is, omdat hulle deur verskeie bronne bevestig word. Hierdie verskynings vind plaas in Jerusalem, dan in Galilea en dan weer in Jerusalem.
Paulus sê die verskynings was fisies. Hy verkondig nie net die onsterflikheid van die siel nie, maar ook die opstanding van die liggaam.
In 1 Korintiërs 15:42 – 44 stel Paulus vier kontraste tussen die huidige aardse liggaam en ons toekomstige opstandingsliggaam. Die aardse liggaam is sterflik, gering, swak en natuurlik. Die opstandingsliggaam is onverganklik, heerlik, kragtig en geestelik.
Wat bedoel Paulus as hy van ‘n natuurlike en geestelike liggaam praat? Natuurlik verwys na gedomineer deur of wat verband hou met die menslike natuur. As hy sê ons opstandingsliggaam is geestelik bedoel hy gedomineer deur of georiënteer na die Gees. Ons kry dit ook in 1 Korintiërs 2:14 – 15. ‘n Geestelike persoon verwys nie na ‘n onsigbare persoon nie – dit is ‘n persoon georiënteer teenoor die Gees. Die huidige, aardse liggaam sal bevry word van die sondige menslike natuur en sal ten volle bemagtig en gerig word deur God se Gees. Die opstanding, volgens Paulus, verwys na ‘n fisiese opstanding.
Daar is dus ‘n verskil tussen ‘n visioen van Jesus en ‘n opstandingsverskyning van Jesus. Die opstandingsverskynings van Jesus het gou opgehou, maar mense het steeds visioene van Christus gesien. Wat is die verskil? ‘n Visioen was net in die denke van die persoon wat dit gesien het; ‘n opstandingsverskyning vind in die eksterne wêreld plaas. In Handelinge 7 lees ons van Stefanus se visioen van Jesus. Hy sien ‘n visioen, maar nie van ‘n mens wat fisies teenwoordig was nie, want niemand anders sien dit nie. Die opstandingsverskynings was nie innerlike, subjektiewe ondervindings nie – hulle is deur almal wat daar was gesien.
Paulus het tydens sy lewe visioene van Jesus gehad, maar sy ontmoeting met Jesus op die pad na Damaskus was nie ‘n visioen nie, want dit betrek dinge in die eksterne wêreld soos lig en ‘n stem. Paulus se medereisigers het dit tot ‘n wisselende mate ondervind.
Die evangelies se verskyningsverhale was ook fisies en liggaamlik. Dit is belangrik, want baie Jode en al die heidene het nie in ‘n liggaamlike opstandig geglo nie. Om die fisiese, liggaamlike opstanding van Jesus te ontken, is nie histories nie, maar filosofies – baie kritici kan net nie wonderwerke aanvaar nie.
Volgende keer bespreek ons die derde bewys van Jesus Christus se opstanding: die oorsprong van die Christelike geloof.