Jesus se worstelstryd (12:27-31)
Jesus se worstelstryd (12:27-31) – Francois Malan
12:27-28a Jesus sê: ‘Nou is my hele wese (psuche binneste/hart/denke/gevoel/emosies), ek, in diepe benoudheid/beroering (tetaraktai)’ – sy innerlike stryd word geopenbaar. Sy uur, waarop die Lam van God die sonde van die wêreld op Hom moet neem en wegneem (1:29), het gekom. ‘En wat sal Ek sê? Hy moet die grootste besluit van sy aardse lewe neem. ‘Vader, red My uit hierdie uur!’ is sy gebed. Johannes het nie die ander Evangelies se berig oor Jesus se drie maal herhaalde gebed in Getsemane oor die beker wat Hy moet drink nie, maar slegs hierdie enkele vers oor sy worsteling as mens, oor wat Hy geweet het dat dit vir Hom voorlê, as Hy die toorn van God oor die sonde van die hele wêreld moet dra.
‘Maar daarvoor het Ek gekom, vir hierdie uur.’ Vir hierdie besluit van Jesus, sy aanvaarding van die Vader se wil, vergelyk Mat.26:42. En daarom sy gebed: ‘Vader, verheerlik U Naam!’ – sy gehoorsaamheid, sy sterwe aan Homself, ís die verheerliking van die Vader se Naam (vgl. Mat 6:9), en is die fondament van die Christelike geloof en lewe (vgl. Hebr 5:7-10).
12:28b Toe kom daar ‘n stem uit die hemel oor wat Jesus gedoen het en gaan doen (Johannes vertel nie van die stem oor wie Jesus is, soos by Jesus se doop en op die berg van verheerliking nie. Die ander Evangelies het weer nie hierdie geval nie). ‘Soos in die verlede’ verwys na Jesus se hele optrede tot dusver, met sy openbaring van die Vader dwarsdeur sy bediening, ‘het Ek dit verheerlik, en sal Ek dit verheerlik’ – met die kruisiging, opstanding en hemelvaart wat voorlê, sal die Vader die heiligheid van sy Naam bevestig en verheerlik. Die Vader se Naam is sy Persoon en alles wat Hy van Homself openbaar oor die redding van die sondaar. Hy het sy beloftes waar gemaak, en so sy betroubaarheid bevestig, en sy eer gehandhaaf. Die eer van die Vader is ook die eer van Jesus (5:37; 7:18; 9:4; 11:4; 17:4).
12:29 Party van die skare wat daar gestaan het, interpreteer die stem van God as ‘n donderslag, en ander dat ’n Engel met Hom gepraat het. Al is albei die verklarings nie voldoende nie, bevestig hulle daarmee dat daar ‘n reaksie uit die hemel was op Jesus se gebed.
12:30 Jesus en die Vader is een, en daarom het Hy die woorde van die Vader nie so nodig soos die mense nie. Al het hulle die woorde van die stem nie verstaan nie, het dit tog duidelik geword dat God aan die werk is deur Jesus se optrede.
12:31 Nou, dat Jesus se worstelstryd oorwin is en bevestig is deur die Vader se stem uit die hemel, is dit die oordeel oor die wêreld. Die beslissing het geval in die sterwe van Jesus, die Seun van God, wat self ook God is. Die sonde van die wêreld se eiewilligheid en ongehoorsaamheid aan God word op Hom gelê, wat vrywillig in gehoorsaamheid aan die Vader die straf daarvoor dra. Die mensdom se opstandigheid teen God verskyn in onbedekte naaktheid aan die kruis, en daarmee ook God se verwerping van alles en almal wat sy Offerlam in ongeloof verwerp (vgl. Joh. 3:36). Agter die boosheid van die wêreld staan die owerste van hierdie wêreld, die Satan, wat van sy mag ontneem word. Jesus se sterwe is die oorwinning oor die persoonlike mag van die Satan (sy ‘teenstander’), wat Hom nog tot op die end geteister het in die worstelstryd in Homself. Selfs die mensemoordenaar (Joh. 8:44) se werktuig, die dood, word deur Jesus se opstanding uit die dood oorwin en van sy betekenis ontneem, en die Satan sal uiteindelik uit die wêreld uitgegooi word (vgl. Mat.25:41).
Skrywer: Prof Francois Malan