Jesus tot trane beweeg (11:28-37)
Jesus tot trane beweeg (11:28-37) – Francois Malan
11:28 Na haar belydenis (v27) gaan roep Marta haar suster Maria ‘in die geheim’ sodat die besoekers nie hoor nie en sy alleen met Jesus kan gaan praat, wat haar laat roep het. Marta verwys na Jesus as ‘die Leermeester (ho didaskalos)’ – Marta en Maria is ook leerlinge van ‘die Leermeester.’ ‘n Joodse rabbi het nie vroue leerders gehad nie; Jesus aanvaar mans en vroue as sy leerders.
11:29-31 Maria haas haar na Jesus wat nog buite die dorp is. Die Jode wat haar kom troos het, het nie gehoor wat Marta vir Maria gesê het nie, en dink sy gaan by die graf huil. Hulle gaan om haar daar te troos, en word so getuies van die wonderwerk van Lasarus se opwekking uit die dood deur Jesus.
11:32 Maria kry Jesus nog op dieselfde plek waar Marta met Hom gepraat het. Toe sy Hom sien val sy voor sy voete neer om haar hart voor Hom uit te stort. Sy spreek Hom aan as ‘Here’ (kurios). Sy glo ook dat Jesus as die Here hulle siek broer kon genees het; nou is dit te laat; sy dink nie aan ‘n moontlike opwekking uit die dood nie.
11:33 Daar bestaan twee tradisies oor die vertaling van die twee Griekse uitdrukkings in hierdie teks: (i) ‘het sy gemoed vol geskied’ of ‘Hy was kwaad in sy gees’ (ii) ‘en was Hy aangedaan’ of ‘en Hy was self erg ontsteld.’
Die Afrikaanse vertalings volg die Engelse tradisie en vertaal op die eerste manier, wat beter pas by 11:35 ‘Jesus het gehuil.’: Toe Jesus die huilende Maria en die huilende Jode by haar sien, het sy gemoed vol geskied en was Hy aangedaan. Jesus, ware God en ware mens, was diep bewoë deur innige meegevoel met die geliefde gesin (vgl. Rom 12:15; Mat 5:4).
Die Duitse tradisie volg Luther se vertaling van die Griekse woord in (i): ‘kwaad wees,’ ‘n betekenis van die Griekse woord wat ook gebruik word vir ‘n perd wat snork van ontsteltenis of van woede. In Daniël 11:30 gebruik die Griekse vertaling dié woord vir ‘woedend wees,’ Matteus 9:30 gebruik die woord vir ‘streng beveel’; Markus 9:43 ‘ernstig aanspreek; Markus 14:5 ‘teen haar uitgevaar.’ (ii) Die tweede uitdrukking sê: Hy was self erg ontsteld. Die Duitse tradisie verklaar sy ontsteltenis as sy woede oor die ongeloof van die skare huilendes wat treur omdat hulle geen hoop het nie (1 Thes.4:13) en oor die verwoestende werk van die dood op die mens.
Moontlik het Johannes die dubbelsinnige Griekse woorde gebruik om altwee die betekenisse oor te dra.
11:34 Jesus begin optree. Hy vra waar die graf is. Grafte is dikwels uitgekap in rotse in die berge, om ‘n klein kamer te vorm wat ‘n mens kon binnegaan. Die opening is oop- en toegemaak met ‘n plat ronde klip, wat in ‘n groef voor die opening gerol kon word. Betanië lê aan die oostekant van die Olyfberg. Hulle nooi Jesus om te kom kyk.
11:35 ‘Jesus het gehuil’ (dit is die kortste vers in die Bybel); hy stort trane van droefheid en hartseer (vgl. Hebr.2:14,17; 4:15 vir sy barmhartige medelye as mens). Die Griekse woord dakruoo verwys na die trane, maar nie na ‘n luide gehuil klaioo soos Maria en die Jode nie (v31), of alalazoo soos die roubeklaers se geskreeu by Jaïrus se dogtertjie nie (Mk 5:38,39).
11:36-37 Die vyandiggesinde Jode probeer Jesus se trane verklaar. Party meen dit is ‘n bewys van die liefde tussen Jesus en Lasarus. Ander verwyt Hom dat Hy nie die siek Lasarus gesond gemaak het nie, en nou uit frustrasie huil. Daarmee werp hulle twyfel oor Jesus se mag om te kan red. Later, met sy intog in Jerusalem, huil Jesus hardop oor die onbekeerlikheid van die stad se mense, dat hulle blind is vir Hom wat vir hulle vrede bring en nie besef dat God gekom het om hulle te red nie (Lukas 19:41-44). Die Jode besef nie dat Jesus oor hulle huil en nie oor Lasarus nie (vgl. die rede vir sy gebed in 11:41).
Skrywer: Prof Francois Malan