Jesus verskyn aan die dissipels (20:19-23)

image_pdfimage_print

Jesus verskyn aan die dissipels (20:19-23) – Francois Malan

Die dissipels as getuies van Jesus se opstanding

20:19 Teen die aand van daardie eerste dag van die week, na die vroegoggend verskyning aan Maria Magdalena  (20:1) is die dissipels van Jesus bymekaar in vrees vir wat die Jode, wat ‘n oorwinning oor Jesus gesmaak het, aan hulle sal doen. Daarom sluit hulle die deur vir hulle veiligheid. Jesus kom en staan tussen hulle. Die Evangelis beskou dit as ‘n wonder. Sy opstandingsliggaam is nie aan ruimte en tyd gebonde nie. Die Here openbaar Homself waar Hy wil, op ‘n wyse bokant ons begrip.

Jesus groet die bevreesde groepie dissipels op die gewone Joodse manier: ‘Sjaloom ‘alêka!’ ‘Vrede vir julle!’ (Joh.14:27; 16:33; Ef. 2:14). Nooit was dié gewone groet so gevul met betekenis as toe Jesus dit op dié Paassondag uitgespreek het nie. Dit is die vrede waarvan die profete gepraat het: Ps. 85:11 ‘…geregtigheid en vrede sal mekaar ontmoet…’ ; Jes.53:5 ‘die straf  vir ons vrede was op Hom.’ Jes.66:12 ‘Ek laat vrede na haar toe aankom soos ‘n rivier.’ Dit is vrede met God, wat Hy aan die kruis bewerk het.

 

20:20 Jesus wys hulle sy deurboorde hande en sy deursteekte sy om hulle te verseker dat dit Hy is, hulle gekruisigde Here, wat voor hulle staan.  Dit is vir die kerk van kardinale belang: die Gekruisigde is die opgestane Here; en die opgestane Here is die Gekruisigde. Sy egte dood en egte opstanding het verlossing bewerk vir die hele mens en vir die hele wêreld. Sy belofte aan sy dissipels na die voetwassing dat Hy weer na hulle toe kom, is vervul (14:18) en dit het hulle droefheid in vreugde verander (16:19-22). Paasfees is gevul met vreugde oor ons Heer. Toe die dissipels deur hierdie merktekens oortuig is dat dit die Here is, het blydskap hulle harte vervul, soos Jesus beloof het (15:11). Hy het sy lyding en dood oorwin.

 

20:21 Jesus herhaal sy vredes-toesegging as grond vir sy opdrag. Soos Hy vir hulle vrede met God bewerk het (20:19), moet hulle die vrede uitdra na die wêreld. Soos wat Jesus deur die Evangelie telkens gesê het dat Hy deur die Vader gestuur is om alles te sê en te doen wat die Vader aan Hom opgedra het, netso stuur Hy sy volgelinge uit met die boodskap van vrede met God en vrede met mekaar; die vrede wat Hy aan die kruis bereik het. Op die Paasmôre het die dissipels teruggegaan huis toe (20:10) en in vrees vir die Jode bymekaar gekom; in die aand word hulle uitgestuur om die vrede met God deur geloof in Jesus vreesloos te gaan verkondig. Hy gaan deur hulle sy werk werk in die wêreld voortsit (Joh.13:20; 17:17-19). Soos Jesus permanent die Gestuurde van die Vader is (die werkwoord ‘gestuur’ is in die voltooide tyd om aan te dui dat Hy Gestuurde bly), gaan sy sending voort en bly dit effektief. Hy gaan deur hulle groter dinge doen as in die dae van sy omwandelinge saam met hulle, sodat die Vader verheerlik kan word in die Seun (Joh.14:12-14).

 

‘Ontvang die Heilige Gees!’

20:22 Toe blaas Jesus op hulle. Die Griekse woord emfusaoo, wat slegs hier in die Nuwe Testament gebruik word, verwys terug na Genesis 2:7 toe God sy asem in die neus van die mens geblaas het vir die skepping van die mens, en in Eseg.37:9,10 toe die Gees in die dooie bene geblaas is om hulle weer lewendig te maak – hier van Jesus wat  in die dissipels blaas om hulle toe te rus met sy Gees om Jesus se taak voort te sit in die wêreld. Hiermee word die mens opgeneem in die nuwe skepping deur die menswording, dood en opstanding van Jesus Christus, die Woord van God, deur wie alles geskape is (Joh.1:3), en in wie daar lewe is,dié lewe wat die lig is vir die mense (Joh.1:4). Jesus sê: Ontvang die Heilige Gees!’ – ontvanklik, om deur die Gees oortuig te word dat ongeloof in Jesus sonde is; om gelei te word tot geloof in Jesus, wat ons verhouding met God reggemaak het deur ons sonde te vergewe en van ons kinders van God te maak; om in die liefde van God opgeneem word (16:8-10); om ook mekaar lief te hê, soos die Vader die Seun lief het (15:9).

            Johannes verbind die gawe van die Heilige Gees met die Paasgebeure van Jesus se sterwe en opstanding. Lukas, wat twee boeke skryf, verbind die gawe van die Heilige Gees met Pinkster, die oesfees, vyftig dae na die Paasfees, met die eerste gerwe van die oes, maar ook met die Paasfees se opstanding in Petrus se verklaring van die Pinkstergebeure (Hand.2:24: ‘Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan’). Soos Johannes die reiniging van die tempel reeds aan die begin van sy Evangelie beskryf om die Woord van God wat mens geword het se bediening te verduidelik (2:13-21), doen hy dit ook met die instorting van die Heilige Gees aan die einde van sy enkele boek, om die voortsetting van die Woord van God wat mens geword het se bediening deur sy volgelinge te verduidelik.

 

20:23 Jesus se koms na die wêreld en sy kruisiging beteken die oordeel oor die wêreld (12:31), soos ‘n regter se beslissing in ‘n hofsaak, wat vryspreek of veroordeel. Jesus sit sy werk voort deur sy dissipels: Hulle verkondig verlossing van sonde en opname in die huisgesin van God, waar Hy in liefde regeer, en veroordeling van dié mens wat die openbaring en verlossing deur Jesus verwerp (Joh.3:36 die toorn van God bly op hom). Die hoof taak van Jesus se volgelinge is die verkondiging van die vergewing van sonde deur Jesus se liefdesoffer aan die kruis. Maar wie nie in die enigste Seun van God glo nie, is daarom reeds veroordeel (Joh.3:18). God se vergewing is ‘n skeppende mag, wat van die sondaar  voor God ‘n regverdige kind van God maak en nuut begin lewe in die liefde van God en liefde vir mekaar.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...