Jesus verskyn aan Maria Magdalena (20:11-18)
Jesus verskyn aan Maria Magdalena (20:11-18) – Francois Malan
‘n Vrou is die eerste getuie van die opstanding van Jesus
20:11-12 Maria het intussen teruggekeer na die graf toe. Waar sy eers langs die kruis gestaan en ween het oor haar Here aan die kruis (19:25), staan sy nou buite sy oop graf en ween oor sy liggaam wat weg is, ‘n laaste anker in haar lewe. Vier maal word na haar geween verwys in die gedeelte.
Maar toe sy afbuk om in die graf in te gaan, sien sy twee engele in wit, waar die dissipels slegs opgerolde doeke gesien het, aan die voet- en koppenent waar die liggaam van Jesus gelê het (Mark.16:5 ‘n jongman in wit klere; Luk.24:4 twee manne in glinsterende klere; Mat.28:2-3 ‘n engel soos ‘n weerligstraal met klere so wit soos sneeu) verteenwoordigers van die hemelse wêreld as bewys dat hemelse kragte hier aan die werk is. Nie grafrowers nie, maar God het Jesus weggeneem vir ‘n ander doel.
20:13-15 Anders as in die ander Evangelies vertel die engele nie vir haar dat Jesus opgestaan het nie, maar vra waarom sy huil. Haar antwoord bewys weer haar afhanklikheid van die fisiese teenwoordigheid van Jesus. Maar sy word bewus van iemand agter haar. Iemand so vroeg in die graftuin moet die tuinier wees, en sy konfronteer hom met haar begeerte om die dooie liggaam van haar Here te versorg. Soos die Emmausgangers in Luk.24:16 en die dissipels wat gaan visvang in Joh. 21:4, herken Maria nie vir Jesus sonder dat Hy Homself aan haar openbaar nie.
20:16 Met die bekende klank van sy stem en soos Hy haar gewoonlik op haar naam genoem het, daag die lig in haar op, oorstelp van vreugde. ‘Mariam’ (die alternatiewe Griekse vorm vir Maria, vir die Hebreeus Miriam, ‘geliefde,’ ‘begeerde kind’). Sy spreek Hom ook in Hebreeus aan as ‘rabboeni,’ ‘my Grote,’ die term vir ‘n leermeester. Die Goeie Herder het sy skaap op haar naam genoem, en sy het met vreugde gereageer (Joh.10:3). Jesus herstel haar persoonlike verhouding met Hom, van wie sy gedink het dat Hy vir ewig weg is. Sy het sy dooie liggaam gesoek en die lewende Here ontmoet.
20:17 Maria val plat voor Jesus neer en probeer sy voete vashou uit vreugdevolle aanbidding en die begeerte om Jesus in liefde vas te hou – liggaamlike kontak is een van die sekerste maniere om bewus te word van die wêreld om jou – hier van die opstanding van Jesus, wat nie in hierdie deel genoem word nie. Maar die nuwe kontak met Jesus is deur geloof en nie meer die fisiese kontak van sy aardse bediening nie.
Wat wel genoem word is die hemelvaart. Jesus sê Hy het nog nie opgevaar nie, daarom moet sy Hom nie vashou nie, maar uitsien na die nuwe verhouding met die hemelse Christus. Hy is op pad om na sy Vader op te vaar om so die verlossingswerk van God te voltooi. Daardeur word Jesus se Seunskap van God uitgebrei na sy volgelinge wat aan Hom verbind is. Hulle word kinders van God deur hulle eenwording met Jesus deur geloof in Hom en vertroue op Hom. Waar Jesus hulle vroeër sy vriende genoem het (15:14-15), noem Hy sy volgelinge nou ‘broers’ (Paulus sê ons word lede van die liggaam van Christus; 1 Kor.12:27; Rom 12:5). Die geloof en eenwording met Jesus word gewerk deur die Heilige Gees, wat in ons kom woon en ons lei en oortuig deur die woord van God, om al meer soos Jesus te word in die liefde (2 Kor.3:18; Rom.8:11; Gal.5:22-25). Jesus identifiseer Homself met sy volgelinge en trek hulle saam met Hom na God, sy Vader toe (12:32). Die wonderlike nuus oor die betekenis van Jesus se hemelvaart moet Maria aan sy volgelinge gaan vertel as die eerste getuie wat die opgestane Heer gesien het.
20:18 Die verhaal sluit af met Maria se uitvoering van Jesus se opdrag. Sy voeg haar eie getuienis daarby: Ek het die Here gesien. Sy noem Hom nie meer my Leermeester nie, maar ‘die Here,’ wat die seggenskap het oor my lewe, wie se opdrag ek gehoorsaam uitvoer. Terwyl vroue se getuienis nie hoog aangeslaan is in daardie tyd nie, maak Jesus van vroue sy eerste getuies (vgl. die vrou met ‘n slegte reputasie by die put naby Sigar, wat gaan getuig by die Samaritane, en Maria van Magdala, uit wie Jesus sewe duiwels uitgedryf het, by sy dissipels, Luk.8:2).
Skrywer: Prof Francois Malan