Job bid vir sy drie vriende (2)
Job bid vir sy drie vriende (2) – Francois Malan
Johan het ‘n vorige vraag gevra. Prof Francois Malan het die geantwoord. U sal dit kry onder: Job bid vir sy drie vriende. Nou het Johan ‘n opvolgvraag gevra:
Baie dankie vir die antwoord. Dit lyk my egter navrae is `n moeilike saak,want dit bring nuwe vrae na vore.
In hierdie geval byvoorbeeld – wonder mens waarom Elihu se toespraak ingevoeg is,aangesien dit tog ook die sentrale mistasting van beloning op reg lewe en straf op sonde as inhoud gehad het.
En dan ook God se reaksie op die drie vriende se wanvoorstelling van Hom. Kwaad en wou hulle straf. Ek besoek pasiënte as leke-vrywilliger by `n groot hospitaal(as deel van `n Christelike organisasie wat die toestemming het van die hospitaalbestuur). Die kwessie van siekte is myns insiens nie `n eenvoudige saak nie,en ek het sekerlik die Here al wanvoorgestel aan pasiënte in hulle besondere omstandighede. Wat is die Here se houding hieroor in die lig van Job.
Ek was bewus daarvan dat die boek Job as `n wysheidsgeskrif beskou word. Volgens my persepsie was die hele boek `n wysheidsgeskrif. Dit lyk my egter volgens die antwoord asof daar wel `n werklike Job was soos geskets in die begin hoofstukke en die laaste hoofstuk. Indien dit reg is,gee dit my `n nuwe perspektief.
Antwoord:
Prof Francois Malan antwoord:
Die boek Job sê self niks oor die skrywer, die tyd of plek van ontstaan nie. Wat ons daarvan sê, is hipoteses wat uit die boek self, vergelyking met ander Bybelboeke en uit buite-Bybelse gegewens afgelei word. Wat die Joodse rabbi’s, teenstrydig met mekaar, oor Job sê, word met ‘n knypie sout geneem; ook die Siriese tradisie dat Job uit Gauran Oos van die Jordaan (Eseg.47:16,18) afkomstig sou wees. Die land Us van Job 1:1 kan na die Oos-Jordaanse gebied verwys, vgl. Job 1:3 ‘onder die mense in die ooste’. Maar Klaagliedere 4:21 plaas Us in Edom, suid van Palestina (vgl. Jerem.25:20). Volgens Job 2:11 kom Bildad van Teman in Edom (Eseg.25:13; Amos 1:12, waar daar wyse manne was Jer.49:7); Bildad uit Suag, die naam van een van Abraham en Ketura se ses seuns (Gen.25:2); Sofar uit Naäma (verder onbekend).
1 ‘n werklike Job
Esegiël 14:14,20 praat van Job in dieselfde asem as van Noag en Daniël, as ‘manne van ouds wat volgens my wil geleef het’. Jakobus 5:11 verwys na die volharding van Job as voorbeeld van lyding en geduld, wat die Here laat uitloop het op seën, uit sy ryke barmhartigheid en ontferming.
2 God se reaksie op die drie vriende se wanvoorstelling van die Here
Elifas word as versigtigste en besadigde voorgestel; Sofar is die grofste van die drie en herhaal ru wat die ander gesê het; Bildad hou tussen die twee.
Hulle uitgangspunt is dat God die sonde straf, en die straf bestaan in rampe. Daarmee verklaar hulle Job as sondaar. Die gedagte het hardnekkig in Israel voortgelewe en moes nog deur Jesus bestry word in Johannes 9:2-3, wat die blindgeborene se posisie vanuit God se siening verklaar ‘sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word’. In Lukas 13:1-5 word die saak van die menslike kant benader, as ‘n oproep tot bekering, wat tot ‘n mate ooreenstem met Elihu se standpunt in Job 33:24.
Die boek Job gaan oor die soewereiniteit van God. Dit erken Job in 1:21-22. Dit doen hy nadat sy vrou hom aanspoor om God te vloek soos die satan wil hê. Ons kan in die algemeen weet dat God met alles sy bedoeling het. Maar wat sy bedoeling in elke spesifieke situasie is, is nie vir ons om ten volle te verstaan nie, ook nie vir Job nie.
Na Job se eerste spontane antwoord, word die fundering daarvan getoets met die gesprekke met sy vriende. Hulle beskouing dat God die goeie beloon en die kwaad straf, met die aandrang dat Job hom moet bekeer om dit weer beter te kry, lyk amper soos satan se insinuasie. Maar God is nie gebonde aan die tradisionele vergeldingsleer nie. En Job begin die soewereiniteit van God aantas as hy God beskuldig van onregverdigheid. Daarom moet hy weer leer om te buig voor God se majesteit. Die drie vriende se gesprekke lei tot ‘n verdieping van Job se geloof en sy verhouding tot God deur die beproewing van hulle aanvalle. Job vervloek wel die dag van sy geboorte, maar nie vir God, soos sy vrou voorgestel het nie. Die vriende bring die waarom vraag wat Job nog nie gevra het nie. In sy eerste reaksie 1:21 het hy die rampe in aanbidding aanvaar. Die mens se reaksie oor die soewereiniteit van God is aanbidding! So word die wese van godsdiens in die boek Job geteken. Aanbidding ondanks alles, sonder vrae.
Job kom in verset teen die beskuldiging dat hy gesondig het. Die gesprek wat daaruit volg lei daartoe dat Job tot die gevolgtrekking kom dat God hom as vyand behandel, God is onregverdig. Die gevolgtrekking kom uit die satan. Maar Job wag nog steeds dat God, van wie hy verlate voel, die moeilikheid sal oplos. Hy skuil by dieselfde Persoon wat hom pla. Sy gemis aan God is groter as die kwelling van sy rampe. Hy hou vas aan God wat hom slaan. Jakobus 5:11 noem dit volharding.
God praat niks oor Job se onskuld nie, sy antwoord is slegs ‘n vertoon van sy majesteit in die storm, en dan aanbid Job weer. Job se onskuld het geen uitwerking op God se werke nie. Christus bewerk ons onskuld voor God, maar redding is nie die wese van die godsdiens nie, nl. aanbidding nie. Christus het deur sy reddingswerk dit weer moontlik gemaak dat ons God wil en kan aanbid.
God bestraf Job nie oor sy sonde nie, maar vra slegs hoe Job dit waag om sy raadsbesluit te verduister met woorde sonder verstand in sy dispuut met sy vriende. Dan erken Job die majesteit van God, dieper as tevore. Na God se eerste verskyning sit hy sy hand op sy mond. Na die tweede verskyning erken hy dat hy nou eers vir God in sy grootheid gesien het.
3 Elihu se bydrae
Tussen Job se woorde en God se vertoon van sy majesteit staan Elihu se redevoering (32-37). Hy torring aan die tradisionele opvatting, dat daar vir rampe geen ander verklaring is as sonde nie. Hy praat van regverdiges wat in boeie gaan om hulle van hoogmoed te genees (36:7-9) en praat van ‘n losprys (33:24). Dit is ten slotte die grondslag van vrede met God.
Wat Elihu sê is belangrik. Hy, Elihu, sien die redenasies het vasgeloop. Hy vind foute by die vriende en by Job (32:2-5). Hy besef ook wat God moet sê. Hy probeer nie dié verklaring gee nie, maar gee tog iets ter verklaring (34:31-33; 35:9-16; 36:1vv). Hy maak hom los van die drie vriende se starre opvatting. Hy gee ‘n verklaring wat op uitkoms gerig is, waar God se woorde laat blyk dat daar geen verklaring vir die mens is nie. Hy herhaal wat die vriende gesê het, en loop God se woorde in 38-41 vooruit. God het hom gebruik om dié dinge te sê. God wil dit nie self sê nie. God praat as die Verhewene, maar laat Elihu deur sy uitleg die boek help skryf. Party beweer dat die woorde van Elihu juis van die finale skrywer kom, wat hy hier invoeg.
Ook hoofstuk 28, oor die verborgenheid van die wysheid, lyk of dit ‘n invoeging is. Job erken hier met volle berusting die begrensdheid van die menslike kennis. Dit lyk so asof die twee gedeeltes eintlik na die woorde van God in 38-41 moes ingepas wees, maar dat die skrywer hulle hier ingevoeg het, om hy God se woord aan die einde as ‘n klimaks wou stel.
Skrywer: Prof Francois Malan