Job bid vir sy drie vriende

Job bid vir sy drie vriende – Francois Malan

Johan vra:

Is daar `n verklaring waarom Job vir sy drie vriende gebid het? Moet dit verstaan word dat hy dit uit eie beweging sou doen of in opdrag?Waarom was Elihu nie ingesluit by die gebed wat Job gedoen het en geen verdere vermelding van hom gemaak na hoofstuk 37 nie?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

1 Elihu

Die inleiding van Job, hoofstukke 1-2, en die slot, 42:7-17, is in verhaaltrant geskryf oor ‘n persoon wat in die tyd van die aartsvaders (Abraham, Isak en Jakob) geleef het. Die middelste deel, van hoofstuk 3 tot 42:8, is in digvorm geskryf, as ‘n wysheidsgeskrif oor hoe om voor die oë van God reg te lewe as jy ly.

Die skrywer van die boek is onbekend, en ook die tyd wanneer die boek geskryf is. Maar daar word gemeen dat die verhalende dele eerste geskryf is, en dat aan die digterlike deel oor ‘n lang typerk gewerk is, totdat die boek in sy finale vorm saamgestel is. Soos die boek Prediker is Job ook ‘n kritiek op die boek Spreuke se leer van beloning vir die goeie en vergelding vir die kwade, wat deur Job se drie vriende verkondig is.

Na hoofstuk 3, oor die verbitterede Job, volg drie reekse waar Job telkens antwoord op Elifas, dan Bildad en dan Sofar se sienings (4-27), maar Sofar kom nie in die derde reeks aan die woord nie. Na Job se toespraak oor wysheid in 28 en sy klag in 29-31, word die toespraak van Elihu ingeskuif in 32-37, voordat God begin in 38-39 antwoord op Job se klag van 29-31. Na Job se eerste reaksie op God se antwoord (39:36-38) gaan God voort in 40:1-41:25, en die oormoedige Job antwoord in 42:1-6. Normaalweg sou ‘n mens verwag dat God se antwoord in 38-39 direk sou volg op Job se klag in 29-31. In die skema lyk dit of Elihu se toespraak later ingevoeg is, toe die res van die boek reeds bymekaargemaak was, en daarom word Elihu nie in die slotgedeelte genoem nie.

2 Waarom Job vir sy drie vriende gebid het.

Omdat die Here kwaad was vir Job se drie vriende, omdat hulle nie die waarheid oor God gepraat het soos Job nie, omdat hulle siening van God se beloning en vergelding foutief was, was die Here se opdrag aan die drie vriende: ‘Vat sewe bulle en sewe ramme en gaan na my dienaar Job toe en offer dit as ‘n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor (letterlik: vir hom alleen sal Ek gunstig ontvang) en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie’ 42:7-8).

Die drie vriende kom toe terug na Job in sy ellende op die ashoop en offer daar by Job die groot brandoffer wat die Here beveel het vir hulle verkeerde voorstelling van God in hulle gesprekke met Job. Hulle sou vir Job verduidelik het waarom hulle dit doen, en dat die Here gesê het dat Job vir hulle moet bid, omdat die Here vir Job alleen gunstig sal ontvang as voorbidder vir hulle sonde.

En dan, nadat Job vir hulle gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander (letterlik: en die Here het Job in guns aangeneem – dit impliseer dat die Here die drie vergewe het). Vers 10 vertel dan hoe die Here Job van die ashoop af teruggebring het in die samelewing (letterlik: sy gevangenskap verander het) nadat hy vir sy vriende gebid het, en dat die Here aan Job twee keer soveel gegee het as wat hy gehad het. Daarin was Job in ‘n sekere sin ‘n voorafskaduwing van Christus wat Homself vir ons as offer vir ons sonde gegee het aan die kruis, en tans vir ons intree by God (Hebr. 7:25,27).

 

Skrywer: Prof Francois Malan