Johannes 1:18 Opsomming en slot van die proloog tot die Evangelie.
Johannes 1:18 Opsomming en slot van die proloog tot die Evangelie. – Francois Malan
1:18 ‘Niemand het God ooit gesien nie’ – In Eksodus 33:18-20 vra Moses om God se heerlikheid, kabood, (NAV magtige verskyning) te sien. Die Here sê Hy sal al sy goedheid toob (NAV voortreflikheid) by Moses laat verbygaan, sy Naam voor hom uitroep, sy genade en ontferming skenk aan wie Hy wil, maar niemand kan sy gesig sien en bly lewe nie.
Nadat Moses die twee kliptafels stukkend gegooi het, toe Israel die goue bulkalf aanbid het, en hy die Here gesmeek het om saam met hulle te trek, het die Here dit belowe, tot groot vreugde van Moses (Eks. 33:1-17). Voordat Moses die tweede stel kliptafels van die Here ontvang het, was sy versoek om die heerlikheid van die Here te sien – ‘n versoek dat die Here die belofte van sy teenwoordigheid sal bewys. Sy heerlikheid is sy teenwoordigheid. Maar vir Moses se beswil weier die Here dit. Die gaping tussen ‘n beperkte mens en die ewige God is te groot, en van die ewige God kan geen ware afbeelding of selfs ‘n prent in jou gedagte gemaak word nie. Daar is ‘n grens tussen die menslike en die goddelike. Maar wat die Here wel vir Moses sal wys, is nie ‘n beskrywing van hoe Hy lyk nie, maar van hoe Hy is en wie Hy is: sy goedheid, sy seënende invloed, sal voor Moses verbygaan en die Here (Jahweh) sal sy Naam uitroep (Eks. 3:14 ‘Ek is’ – verwys na God se ‘aktiewe teenwoordigheid’; so het Hy Hom aan Moses bekend gestel het by sy roeping om Israel uit te lei). Die Here se genade en sy erbarming gee Hy op sy eie voorwaardes. Daarom kon Moses in die rotsskeur staan, deur die Here bedek om nie nuuskierig te kyk terwyl die teenwoordigheid van die Here verbykom nie, en bly lewe. Uit hierdie ontmoeting volg die tweede uitreiking van die wet in Eks 34.
‘Sy enigste Seun, self God’, … dié het Hom ten volle en duidelik bekend gemaak. Hy het die outentieke bekendstelling en verduideliking van God aan die mens kom gee. Die woord ‘bekendmaak’ is deur die rabbi’s gebruik vir die verklaring van die wet. Die Seun kom die Vader uitlê. Sy uitleg van God is outentiek op grond van die eenheid van die Seun met die Vader ‘Hy wat in die boesem van die Vader is’ (NAV wat die naaste aan die Vader i) Vergelyk 13:23 waar die selfde woord gebruik vir die geliefde dissipel wat op die bors van Jesus lê (NAV wat die naaste aan Hom gesit het) soos wat hulle aan tafel op rusbanke gelê het – Jesus openbaar as’t ware God se hart. Daarmee word die innigste gemeenskap tussen Jesus en die Vader aangewys. Dit het reeds voor die skepping bestaan. Die verhouding gaan voort tussen die mensgeworde Woord en die Vader, Hy is in die boesem van die Vader.. God kan alleen reg geken word soos Hy Hom in Christus geopenbaar het (14:8-11).
1:1-18 In die proloog van die Johannes-Evangelie word die lewe van Jesus geskets teen die agtergrond van sy verhouding met die ewige God.. Jesus Christus is die voltooiing en vervulling van alle vorige openbarings en verlossings deur God. Hy is die Woord van God wat dwarsdeur die Ou Testament praat en optree, die bron van alle lewe en lig in die duister wêreld. Hy is die Lewe, die bron van alle lewe in die skepping en van die nuwe lewe as middelaar van die nuwe skepping. Die Evangelie begin met Christus wat by God is, en mens word om ons ‘n deel te maak van God se ewige lewe (vgl. 20:31). Die proloog is soos ‘n opera se overture, wat die luisteraars inlei in die temas van die hele werk.
Skrywer: Prof Francois Malan