Judas Iskariot
Judas Iskariot – Coen Slabber
Judas was een van Jesus se twaalf apostels. In die lys van dissipels verskyn sy naam telkens laaste (Matteus 10:4; Markus 3:19; Lukas 6:16). Hy word veral onthou vir die soen waarmee hy Jesus in die tuin van Getsemane verraai het. Judas is die Griekse vorm van ‘n algemene Hebreeuse naam: Jehuda (dit beteken God word geloof). Die oorsprong van Iskariot is onseker. Moontlikhede sluit in:
- Dit beteken “man van Keriot.” Keriot mag na ‘n streek in Judea verwys, maar daar was ook twee stede wat as Keriot bekend gestaan het. In Jeremia 48:24 word verwys na Kerijot oos van die Jordaanrivier in Moab. In Josua 15:25 word Kerijot-Gesron, dit is Gasor, as een van die stede in die gebied van Juda geïdentifiseer. Wat egter duidelik is, is dat Judas, anders as die ander dissipels, nie ‘n Galileër was nie.
- Iskariot identifiseer Judas as ‘n lid van die sicarii – ‘n groep sluipmoordenaars wie se doel was om die Romeine uit Judea te verdryf. Sommige historici glo egter dat die sicarii eers tussen 40 en 50 nC ontstaan het. Judas kon dus nie ‘n lid van hierdie groep gewees het nie.
- Sommige meen dat Iskariot “leuenaar” of “die vals een” beteken.
- Iskariot is ‘n afleiding van ‘n Aramese woord wat “rooi kleur” beteken.
- Dit mag verwys na die manier waarop Judas gesterf het. Dit kom van ‘n mengwoord (Grieks en Aramees) wat “wurg” beteken. Dit beteken die naam is eers na sy dood deur die ander dissipels aan hom gegee. Dit is baie onwaarskynlik.
Hierdie is ‘n afbeelding van “Die Judas Kus” van die kunstenaar Gustave Doré (1866).
Ons lees van Judas in die vier evangelies en aan die begin van Handelinge.
Judas se verraad
Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na ‘n plan om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak (Markus 14:2). Omdat hulle bang was vir ‘n oproer onder die volk, wou hulle dit nie op die paasfees doen nie. Daarom besluit hulle om Hom op die nag voor die fees gevange te neem. Lukas sê: Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was, ingevaar (Lukas 22:3). Hy onderhandel daarna met die priesterhoofde en offisiere van die tempelwag om Jesus te verraai. Daarvoor sou hulle hom betaal – dertig silwerstukke. Die inisiatief kom van Judas.
Hoekom het Judas vir Jesus verraai?
(1) Geld. Een van Judas se swakhede wat sy liefde vir geld. Toe Maria ‘n halfliter duur nardusolie op Jesus se voete uitgegiet het, maak Judas beswaar – hulle kon die olie vir baie geld verkoop het en die geld vir die armes gegee het. Johannes gaan verder en noem hom ‘n dief: Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat (Johannes 12:4 – 6).
(2) Judas was ontnugter, want hy het geglo dat Jesus die Romeinse heerskappy oor Israel sou verbreek. Judas het sy land liefgehad en het geglo dat Jesus misluk het. Hy besef dat ‘n onafhanklike staat van Israel los van die Romeine nie een van Jesus se doelwitte was nie.
(3) Satan het in hom ingevaar (Johannes 13:27; Lukas 22:3 – 6).
(4) In die Evangelie van Judas, ‘n gnostiese teks van ongeveer 300 nC, word beweer dat Jesus vir Judas oorreed het om Hom te verraai. Die waarheid hiervan word nie aanvaar nie.
Jesus het vooraf geweet wie Hom sou verraai: Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai (Johannes 6:64). Jesus laat dit toe. Nadat Hy sy verraaier aangewys het, sê Hy vir Judas: Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen (Johannes 13:27). Hoekom laat Jesus dit toe?
- Hy laat die verraad toe sodat God se plan uitgevoer kan word.
- Hy was in ieder geval bestem om gekruisig te word – met of sonder Judas se verraad.
Judas se dood
Daar is ‘n paar beskrywings van Judas se dood:
(a) Matteus 27:2 – 10: Toe Judas sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry oor wat hy gedoen het. Hy neem die silwerstukke en gooi dit in die tempel en gaan hang hom op. Die priesterhoofde neem die geld en koop daarmee grond van die pottebakker: Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem.
(b) Handelinge 1:18 – 19: Judas gebruik die geld en koop daarmee ‘n stuk grond. Daar het hy vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul … Daarom word die plek in hulle taal Akeldama genoem. Dit beteken Bloedgrond.
(c) In die Evangelie van Judas (nie deel van die kanon nie) sê Judas dat hy ‘n visioen gehad het van die dissipels wat hom vervolg en stenig. Hy pleeg daarom selfmoord.
(d) Die vroeë Christenleier, Papias, sê dat Judas se liggaam vreeslik opgeswel het. ‘n Koets het hom vergruis sodat sy derms uitgepeul het.
Hoe moet ons hierdie verskillende weergawes verstaan? C. S. Lewis sê dat elke stelling in die Bybel nie noodwendig histories waar is nie. Augustinus probeer die verskillende weergawes versoen: Judas het homself opgehang; die tou het gebreek; Judas se liggaam bars oop. Moontlik moet ons aanvaar dat Matteus die gebeurtenis as ‘n vervulling van ‘n Ou Testamentiese profesie wou beskryf. Matteus sê dan ook: Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het (27:9). In Jeremia word beskrywe hoe hy grond by Anatot koop. In Sagaria 11:12 – 13 lees ons van dertig stukke silwer wat in die huis van die Here gegooi word. Augustinus, Hieronimus en Calvyn glo dat Matteus hier ‘n fout begaan het – hy moes na Sagaria en nie na Jeremia verwys het nie. ‘n Ander moontlikheid is dat Matteus hier na Jeremia 18 en 19 of 32 verwys.
Vandag word die naam Judas algemeen as sinoniem met verraaier gebruik. Judas, ‘n tragiese figuur wie se geldgierigheid waarskynlik tot sy verraad en dood gelei het.
Skrywer: Dr Coen Slabber