Judas word uitgewys (13:26-30)

image_pdfimage_print

Judas word uitgewys (13:26-30) – Francois Malan

13:26 In aansluiting by v18 se aanhaling uit Ps 41:10  ‘hy wat my brood eet’ gee Jesus ‘n aanduiding van wie die verraaier is. Soos Hy gesê het, breek Hy ‘n stukkie brood, doop dit in die bitter kruiesous van die paasmaal en gee dit vir Judas, seun van Simon, die man Kariot – ‘n teken van intieme tafelgemeenskap wat aan Judas aangebied word, as ‘n laaste beroep op Judas om van sy plan af te sien (Judas het waarskynlik net agter Jesus of regoor Hom gelê, binne reikafstand).

13:27 Die teken van intieme gemeenskap plaas Judas op die mespunt om te besluit of Hy Jesus se liefdesaanbod aanvaar of verwerp. Die finale daad van liefde word ‘n beslissende oomblik van oordeel (die Griekse woord vir ‘oordeel’ is krisis,en kom in Johannes voor in 3:19; 5:22,24,27,29,30; 7:24; 8:16; 12:31; 16:8,11 – wie in Jesus glo word nie veroordeel nie, wie nie glo nie is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie, 3:18). Toe Judas die stukkie brood by Jesus neem,  sonder wederliefde vir Jesus, neem hy die finale besluit om met sy plan voort te gaan en vaar die Satan in hom in, ‘n moordenaar van die begin af, die vader van die leuen (8:44; Romeine 1:18-32 sê: God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid  deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk…deur hulle aan die drange van hulle hart oor te gee…aan o.a. hebsug en gemeenheid, moord en kwaadwilligheid, hulle dink kwaad uit, is onbetroubaar, liefdeloos). Jesus neem as Heer van die paasmaal oor en beveel Judas: wat jy besig is om te doen, doen dit baie gou! (gouer as wat hy beplan het – die Griekse woord tachion kan ‘gouer’ of  ‘baie gou’ beteken). Jesus bepaal die tyd van sy verraad. Hy is in beheer van sy eie lydensweg.

 

13:28-29 Die ander dissipels verstaan nie wat hier aangaan  nie, omdat Jesus nie vir Judas openlik beskuldig nie. Omdat Judas die geldsake van die apostelgroep hanteer het, meen hulle dat Jesus ‘n opdrag gegee het om iets vir die feestyd te gaan koop, of vir die versorging van die armes, waaroor Judas skynbaar so bekommerd was (12:4). Eers na die tyd het die dissipels agter die kap van die byl gekom.

 

13:30 Judas neem die stukkie brood aan, en die teken van tafelgemeenskap word die aanwysing van die verraaier, die simbool van liefde word die kenteken van haat. Judas aanvaar die tafelgemeenskap, maar verbreek dit onmiddellik en finaal. Hy verlaat die gemeenskap met Jesus en sy volgelinge. ‘En dit was nag’ – buite skyn die volmaan met paasfees, maar Judas verwerp die ware lig wat elke mens verlig (1:9; 8:12; 11:10 sê: maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie; 3:19 sê: En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg). Ook vir Jesus is dit die nag van die dood wat op Hom wag., maar die duisternis kon sy lig nie uitdoof nie (1:5).

 

Vertrek en terugkeer van Jesus (13:31-14:31)

 

Die tweede gesprek begin as ‘n meer intieme gesprek met die dissipels, nadat Judas weg is. Dit word ingelei in 13:31-38. Daarop volg die gesprek oor Jesus se weggaan en terugkoms (14:1-26) en ‘n epiloog waarin Jesus vir hulle sy vrede gee (14:27-31).

 

Inleiding: verheerliking van Jesus  (13:31-38)

 

13:31-32 Jesus se reaksie op Judas se vertrek stem ooreen met sy reaksie op die Grieke se versoek om Hom te sien: die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word (12:23) en ‘Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik’ (13:31). Die einde het gekom. Jesus se verheerliking is sy verhoging aan die kruis, die hoogste offer van sy liefde, dat Hy sy lewe aflê vir sy vriende (15:13). God het die Seun verheerlik deur sy liefdesoffer aan die kruis vir sonde van die wêreld te aanvaar. God is deur die Seun se volmaakte gehoorsaamheid en selfopofferende liefde verheerlik, en God verheerlik die Seun onmiddellik in sy dood en opwekking uit die dood. In die gekruisigde en opgestane Christus word ons verhouding met God reggestel (Rom 1:17 dikaiosune), word ons verlos (Ef 1:7  apolutroosis), met God versoen (2 Kor 5:19 katallage). Christus Jesus het vir ons geword die wysheid wat van God kom, die vryspraak (regverdiging dikaiosune), die heiliging (hagiasmos) en die verlossing (apolutroosis, 1 Kor 1:30) – dit is sy verheerliking, so trek Hy almal na Hom toe as Hy verhoog word (12:32).   

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...