Kerk en staat – Francois Malan
Magda vra
Verduidelik asb die skeiding tussen die funksies van kerk en staat
Antwoord:
Pof Francois Malan antwoord:
Elke land en tyd het verskillende opvattings en wette oor die verhouding tussen staat en kerk. In Suid-Afrika het die wette daaroor byvoorbeeld na 1994 verander. Kyk bv. na afdelings15 en 234 van die konstitusie van Suid-Afrika wat in 1996 wet geword het.
Google bv. Pieter Coertzen se artikel ‘Constitution, Church and religions in South Africa’
Die Nuwe Testament gee sekere riglyne wat verskil van party van die Ou Testament se verskillende verhoudings onder verskillende konings van Israel en Juda en van die rol van die verskillende profete van God.
Volgens Mattheus 22:21 het Jesus oor die keiser se belasting en die mense se alledaagse gebruik van die keiser se geldstelsel gesê: ‘Gee aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.’ (ook in Markus 12:17; Lukas 20:20-26).
So skryf 1 Petrus 2:13-17 : ‘Wees ter wille van die Here onderdanig aan elke menslike instelling, sowel aan die keiser, die hoogste gesagsdraer, as aan die amptenare – die mense deur die keiser gestuur om die misdadigers te straf, én die wat goed doen, aan te prys. God wil immers hê dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase stopsit. Leef as vry mense – nie soos hulle wat die vryheid as ’n dekmantel vir die kwaad beskou nie, maar as mense wat God dien. Julle moet alle mense respekteer, die medegelowiges met liefde bejeën, ontsag vir God hê, die keiser respekteer.’
Paulus het dit verder omskryf in Romeine 13:1-7 ‘Elke mens moet onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel (vgl. Jesus se woorde aan Pilatus in Joh 19:11: U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee is nie). Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instellng van God, en diegene wat hulle verset, sal ’n oordeel oor hulleself bring. Die owerhede boesem immers nie vrees in as dit kom by goeie optrede nie, maar wel by verkeerde optrede. Wil jy sonder vrees vir die owerhede leef? Doen dan wat goed is, en jy sal lof van die owerheid ontvang. Want die owerheid is ’n dienskneg van God tot jou beswil. Maar as jy doen wat sleg is, moet jy bang wees. Die owerheid dra nie verniet die swaard nie. Hy is immers ’n dienskeg van God, aangestel om kwaaddoeners te straf. Dit is dus noodsaaklik om onderdanig te wees, nie net uit vrees vir straf nie, maar ook ter wille van jou gewete.
Daarom betaal julle ook belastings, want hulle is diensknegte van God wat hulle juis hiermee bemoei. Betaal aan almal wat hulle toekom: belasting wie belasting, tolgeld aan wie tolgeld, ontsag aan wie ontsag, eer aan wie eer toekom.’
Jesus en Petrus en Paulus het gelewe in ’n staat waar die keiser en die senaat die seggenskap oor die hele Romeinse ryk gehad het. Ons leef in ’n demokratiese staat, waar die mense (Grieks dêmos ‘volk’) die seggenskap het (Grieks krateō regeer) met hulle stemreg en die reg van spraak en kritiek op die regering. Maar die beginsels wat in die Bybel gestel word as die wil van God vir ons lewe, is waarvolgens gelowiges in ’n sekulêre staat lewe.
Die funksie van die staat is om te sorg vir reg, geregtigheid en die versorging van die mense. Die funksie van die kerk is om te dien, om God te dien deur ons medemens in liefde en barmhartigheid te dien. Terwyl mense en die staat strewe na grootheid en uitnemendheid, strewe Jesus se volgelinge na nederige diens. Volgens Markus 10:42-45 het Jesus vir sy volgelinge gesê: ‘Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen. By julle is dit egter nie so nie, maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. Want ook die Seun van die mens (soos Jesus Homself noem) het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.’
Skrywer: Prof Francois Malan