Kom terug Here (vervolg) (Jesaja 64:1-7) – Francois Malan
Die Hebreeuse teks eindig hoofstuk 63 met vers 19a en begin 64:1 met 63:19b. Die Griekse vertaling, gevolg deur die tradisionele vertalings, begin egter hoofstuk 64:1 met die Hebreeuse 63:19b, en het daarom 12 verse in hoofstuk 64, teenoor die Hebreeuse 11 verse.
64:1-3 ‘O, as U maar die hemele sou oopskeur en afkom! Voor U aangesig (teenwoordigheid) sal berge bewe/skud’ (Griekse vertaling: hulle sal wegsmelt; Latynse vertaling: wegvloei).
Die Here word gevra om die skeiding tusen die hemel, waar die Here is, en die aarde (waar Jerusalem is) oop te skeur om in hulle noodsituasie af te daal. In 63:15 is slegs gevra dat Hy sal afkyk na hulle omstandighede. Hier word gevra dat die Here sal ingryp soos by Sinai (Gen 19:18).
64:2 ‘Soos vuur’n ruigte kreupelhout aan die brand steek en water borrel/kook deur vuur – om U Naam bekend te maak aan U teenstanders/vyande (hulle is aan die brand), deur U gesig/teenwoordigheid bewe/skud die nasies’ (soos water wat borrel as dit kook).
Die Here word gevra om af te kom vir ‘n sigbare vertoning van ontsaglike krag wat die Here se vyande sal beïndruk en so ruimte te maak vir Israel om in te lewe. Vuur is hier ‘n metafoor vir God se direkte ingryping. Vuur laat dinge gebeur: bosse brand en water kook – so was die brandende braambos ‘n teken van die Here se teenwoordigheid (Eks 3:2); so het die Here swael en vuur op Sodom en Gomorra laat reën (Gen 19:24); vuur gestuur om die 250 Israelitiese leiers wat teen Moses en Aäron in opstand gekom het, te verteer (Num 16:35). Dawid sê, toe hy in die nood was het die Here so opgetree (Ps 18:8; vgl. Nahum 1:5; Hab 3:6). Die berge is ook simbole vir die farao en vir die versterkte stede in Palestina waarvan die mure geval het. Israel vra dat die Here met geweld die nasies sal skud sodat Israel die Here se getuies sal word deur sy magtige dade (soos met uittog uit Egipte). Die nasionaliste in Israel wou politieke mag verkry deur die Here se magtige optrede teen die nasies. Die Here wil egter hê dat mense uit die nasies in sy tempel kom aanbid, aangetrek deur Israel se regverdige lewe in vrede (2:2; 11:10; 42:1,6; 51:4; 55:5; 60:3; 61:9,11; 66:18).
64:3 ‘Toe U vreeswekkende dade gedoen het, wat ons nie verwag het nie, het U afgekom en die berge het gebewe voor U aangesig.’ Die digter beroep hom op die ou tradisie dat die Here hardhandig optree teen sy vyande – waarom nie nou weer in hulle noodsituasie nie?
64:4 Van die ou tyd af het niemand gehoor of geluister of met die oog gesien wat ‘n god buiten U kon doen vir dié een wat op U wag nie – by implikasie nie vir die ongeduldige aktivis, wat nie geduldig op die Here vertrou nie. Die digvers is ‘n tussenspel wat die Here se onvergelykbaarheid besing, soos Eks 15:11 in Moses se loflied ná Israel se verlossing uit Egipte. ‘n Terugblik uit vers 4 na verse 1-3, sien die Here se onvergelykbaarheid in sy ongeëwenaarde krag en vermoë om teenstanders van die Here te intimideer. In die volgende verse word die Here se onvergelykbaarheid baie anders gestel.
64:5 ‘U ontmoet/aanvaar dié een wat hom verbly en reg doen deur U te onthou in U optrede; Kyk! U, U het in die ou tyd toornig geword wanneer ons sonde doen en daardeur skuld bring oor die volk, maar ons kon tog nog (deur U) verlos word’ (1983 maak daarvan ‘n vraag wat twyfel of dit nog kan). Die Here vra van hulle: blydskap, reg, en ‘n lewe volgens sy wil. Die mense wat gesondig het kon nog vergewe word, soos ná die goue kalf, Eks 34:4-14 (1983 se vraag impliseer dat hulle nie meer vergewe kon word nie).
64:6 Die toon van die gedig verander en erken dat die huidige ellende waarin hulle verkeer, verdiende ellende is. Almal in Israel is ritueel onrein – onbevoeg om in die teenwoordigheid van die Here te kom; al hulle geregtighede/goeie werke is soos vuil klere – met verborge selfsugtige motiewe. ‘Ons verdroog soos ‘n blaar, ons almal, en ons oortredings/sonde (of skuld weens die sonde) waai ons weg soos die wind blare wegwaai. Gedryf deur hulle sonde is Israel van geen waarde nie, en daarom is dit te verstane dat Israel se ganse bestaan op die spel is.
64:7 Die belydenis bereik sy toppunt in die erkenning van hulle totale mislukking, en dat die Here goeie rede het om Homself vir hulle te verberg, en nie vir hulle beskikbaar is nie. Daar is niemand wat die Here aanroep nie (parallel met 63:19b soos diegene oor wie die Naam van die Here nie uitgeroep is nie), niemand wat homself opwek om aan U vas te hou nie, want U het U gesig vir ons verberg en ons laat wegsmelt – oorgegee aan die vernietigende hand (krag) van ons oortredings – deur die mag van hulle sonde is hulle weggesleur van die Here af. Die verbinding tussen die Here en Israel is tot niet. Dit is die logiese uitkoms van die erkenning, maar die gebed eindig met ‘n geloofsbelydenis in 64:8-12.
Skrywer: Prof Francois Malan