Kosse (Levitikus) – Hermie van Zyl

Eric vra:

Daar word in die Bybel genoem dat ons nie vark, kreef, mossels, ens, mag eet nie. Wat behels hierdie “koslys” alles? Was dit bedoel vir die Israeliete in die Ou-Testamentiese tyd of is dit vandag nog geldig?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In Levitikus 11 en Deuteronomium 14 word daar uitgebreide lyste gegee van kossoorte wat vir die gelowige Israeliet veroorloof of verbode was om te eet. Die twee lyste is basies dieselfde (hoewel Deuteronomium s’n ’n bietjie korter is), wat laat vermoed dat hulle dieselfde oorsprong het en teruggaan op baie ou tradisies. Dit gaan in die lyste hoofsaaklik oor die soort diere wat as veroorloofde, enersyds, of as verbode kossoorte, andersyds, beskou is. Hoewel die lyste nie uitputtend is nie, is hulle volledig genoeg om as riglyn te dien vir die praktyk. Die diere word geklassifiseer volgens die plekke waar hulle voorkom: soogdiere op land, waterdiere, en voëls en insekte in die lug en op die land.

Daar word nie redes gegee waarom sekere diere by die gelowige Israeliet se dieet ingesluit en ander uitgesluit word nie. Maar wat duidelik is, is dat dit verband hou met hulle diens aan die lewende God. Want pertinent word gesê dat jy jou van sekere diere moet weerhou omdat hulle onrein is. Hulle sal jou besoedel sodat jy kulties onrein word en nie in die teenwoordigheid van die Here sal kan verskyn nie. Die Here is immers heilig, en daarom moet dié wat Hom dien, ook heilig lewe. Die Here is die Een wat hulle uit Egipte verlos het, daarom moet hulle toegewyd aan Hom leef (Lev 11:43-45; Deut 14:1-2,21).

Waarom sekere kossoorte jou onrein maak, is egter nie duidelik nie. Maar dat dit verband hou met Israel se onderskeidende status as God se eiendomsvolk word duidelik uit Deuteronomium 14:21 waar gesê word dat die Israeliete nie self onrein diere mag eet nie, maar toegelaat word om dit aan vreemdelinge of uitlanders te gee of te verkoop. Israeliete se eetgewoontes hou dus direk verband met die feit dat hulle anders moet lewe as die omringende heidenvolke. En dit is waarskynlik ook die rede waarom sekere diere vir Israel verbode was. Hoewel baie hiervan vir ons vandag in duisternis gehul is, is dit duidelik dat dit op een of ander manier verband gehou het met die feit dat Israel op hierdie manier uitdrukking gegee aan hulle andersheid, dat hulle anders lewe as die ander volke, dat hulle die lewende God se eiendomsvolk is en daarom sy voorskrifte volg. Ons weet dat sekere diere in die heidense kultusse ’n belangrike rol gespeel het, soos die slang, wat deur die Egiptenare verbind is met vrugbaarheid, en die vark, wat in die Siriese en Fenisiese kultusse as ’n heilige dier beskou is. Deur nie hierdie diere te eet nie, distansieer jy jouself van hierdie heidense kultusse. Daarbenewens kon varke ook draers van siektes wees, en is hulle moontlik ook om higiëniese redes van die dieet uitgesluit. En dat jy nie ’n dier in sy ma se melk mag kook nie (Deut 14:21, vgl Eks 23:19), hou dalk verband met ’n Kanaänitiese vrugbaarheidsrite waar dit gebruiklik was en wat om daardie rede vir die Israeliete verbode was.

As mens spesifiek na die offerkultus van Israel beweeg, word dit ook duidelik waarom sekere dele van die dier verbode was. So was dit nie veroorloof om die vet of bloed van diere te eet nie (Lev 7:22-27; 17:10-14). Die vetdele, as die kosbaarste dele van die dier, was geoormerk vir God en moes aan Hom geoffer word (Lev 3:9-11,14-17), en was daarom verbode om te eet. Die alledaagse gebruik daarvan was egter wel geoorloof, as dit nie deel van die offerande was nie (Lev 7:24). En wat bloed betref – omdat geglo is dat die siel of lewe van die dier in die bloed gesetel was, was dit as versoeningsmiddel namens die mens vir God op die altaar aangebied. Mens mag bloed dus nie by jou alledaagse dieet insluit nie, want dan ontheilig jy die bloed as versoeningsmiddel. Tot vandag toe word diere uitgebloei sodat die vleis vir Jode as kosher (aanvaarbaar) kan geld.

Al bogenoemde maak dit duidelik dat sekere kossoorte opgeneem was by óf heidense rites óf die Israelitiese offerkultus en om daardie rede uitgesluit was van die normale dieet. Deur Israel se eetgewoontes moes hulle wys dat hulle aan die Here behoort, dat hulle sy eiendomsvolk is, dat hulle toegewyd aan Hom lewe, dat hulle anders as die heidene is. So was die gewone praktiese lewe deel van die Israeliete se diens aan God. Dit laat dink aan 1 Korintiërs 10:31 wat sê dat wat ’n mens ook al doen, selfs eet en drink, dit moet gedoen word tot eer van God.

Bostaande oorsig toon duidelik dat die eetgebruike van die Ou Testament in die eerste plek gegeld het vir die Israeliete in Ou-Testamentiese tye. Met die koms van die Nuwe-Testament het dinge egter verander. Hebreërs 9:10 sê dat hierdie eetvoorskrifte slegs die uiterlike raak en opgelê was totdat God ’n beter orde sou instel. En hierdie beter orde het aangebreek met die koms van Jesus. Daarom was Jesus taamlik krities ingestel teenoor blote uiterlike dinge wat nie jou ware toewyding aan God weerspieël nie. Hy sê dat mens nie so bekommerd moet wees oor wat by die mond ingaan nie (eetgewoontes), maar eerder oor wat by die mond uitgaan. Dít maak ’n mens onrein (Matt 15:10-11, 16-20). Maar dit sou ’n lang tyd duur voordat dit vir die eerste Christene (wat aanvanklik hoofsaaklik uit die Jodedom gekom het) duidelik geword het dat eetvoorskrifte nie die vernaamste manier is waarop mens jou toewyding aan God bewys nie. In Korinte was daar byvoorbeeld ’n taamlike dispuut hieroor. Sommige Christene het dit as ’n doodsonde beskou om vleis te eet wat aan afgode geoffer is, ander – waaronder Paulus self – het dit nie as iets ernstig beskou nie. Volgens hom bestaan afgode in elk geval nie; vleis is vleis, dit maak nie saak waar dit vandaan kom nie (1 Kor 8; 10:23-33). In Romeine 14 handel Paulus ook hieroor. Maar hoewel hy ’n oop benadering hieroor gehad het, dat mens kan eet wat jy wil, sonder enige gewetensbesware, waarsku hy dat ’n mens jou broer en suster in ag moet neem. As jy weet dat jy hulle gevoelens sal seermaak en hulle gewetens beswaar, dan moet jy jouself liewer van die eet van verbode kossoorte weerhou. Die liefde weeg immers swaarder as jou reg om te eet wat jy wil (Rom 14:15). Die beginsel is dus duidelik: Die spesifieke kos- en dieetvoorskrifte van die Ou Testament geld nie meer vir Christene van die Nuwe Testament nie. Kos as sodanig maak jou nie rein of onrein nie. Soos wat die Christendom onder heidennasies uitgebrei het, sou dit in elk geval toenemend moeilik word om die spesifieke Joodse eetgewoontes aan almal op te dring. Aanvanklik was daar wel nog ’n sensitiwiteit vir die Joodse gebruike (vgl Hand 15:29), maar gaandeweg het dit al hoe onbelangriker geword. Paulus waarsku ook in Kolossense 2:20-23 dat mens jou nie moet laat mislei deur wettiese godsdienstige reëls nie, soos: hieraan mag jy nie vat nie, daaraan mag jy nie jou mond sit nie. Paulus noem dit ’n selfgemaakte godsdiens. Dit doen baie vroom voor, maar het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie. Ons vroomheid en toewyding aan die Here word nie meer, soos in oud-Israel, bepaal deur eetvoorskrifte nie. Ja, die opdrag is nog steeds: wees heilig, want Ek is heilig (1 Pet 1:15-16), maar die manier waarop dit nou uitgelewe word, is deur ’n heilige lewenswandel, deur die manier waarop ons in liefde teenoor God en ons naaste lewe, veral hoe ons die liefde van God aan ons naaste deurgee. Dít is die dinge wat by God ewigheidswaarde het (vgl Matt 25:31-40).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl