Leef uit jou Doop: 1.1 ‘n Donker Doopgeskiedenis
Leef uit jou Doop: ‘n Donker Doopgeskiedenis – Adrio König
1.1 ’n Donker doopgeskiedenis
Dis lekker om al ’n taamlike lang stuk van jou lewe agter die rug te hê. Jy kan al terugkyk en sien hoe dinge verander het. Natuurlik nie altyd ten goede nie, maar soms tog wel! En kerke se huidige houding oor die doop is regtig een van die ligpunte na donker dekades.
Die middel van die vorige eeu was donker tye tussen die sogenaamde “Afrikaanse kerke” en die Pinksterkerke. Die Pinksterkerke is “sektes” genoem, en die Afrikaanse kerke is “dwaalkerke” genoem. Die Pinksterkerke was “krokodille”: Alles wat hulle in die hande gekry het, het hulle water toe gesleep. Maar die Afrikaanse kerke was dooie kerke, witgepleisterde grafte.
Die doop was die groot twisappel. Die Afrikaanse kerke het ernstige probleme oor die doop gehad, en die Pinksterkerke het “dankbaar” daarvan gebruik gemaak. Die Afrikaanse kerke het omtrent net kinderdoop gehad, en ook selde oor die betekenis van die doop gepreek. Dit het gewoonlik oor die opvoeding van die kinders gegaan. Wanneer lidmate dan by Pinkster inloer en ’n sterk boodskap oor die doop hoor, en veral dat daar niks van die kinderdoop in die Bybel staan nie, en dat die doop in die Nuwe Testament uitsluitlik aan gelowiges bedien is, was daar moeilikheid. Talle van hierdie lidmate het hulle dan by die Pinksterkerke laat doop. Die kerkraad het dan skerp teen hulle opgetree en sondebelydenis van hulle geëis. Dit het nie lank gevat voor hulle vertroue in hul eie kerk en predikant verloor het en by Pinkster ingeskakel het nie. Terwyl hulle eie gemeente hulle dan van “oordoop” beskuldig het, het die Pinksterkerk hulle verseker dit is maar net die gewone Bybelse doop wat hulle nou eers ontvang het, omdat “kinderbesprinkeling” niks met ware doop te doen sou hê nie. Hierop het die Afrikaanse kerke met venyn gereageer. Hulle het die Pinksterkerke so swart moontlik geskilder.
Die Pinksterkerke het op hulle beurt weer skerp hierop gereageer. Hulle het die Afrikaanse kerke as valse kerke beskryf wat die gelowiges vervolg soos die Katolieke Kerk dit in die tyd van die Kerkhervorming gedoen het. So het die verhoudings al slegter geword. Intussen het die Charismatiese beweging ontwikkel en voor die einde van die vorige eeu ’n reuse-aandeel in hierdie stryd gekry.
Dit is skokkend om sommige van die doopboeke te lees wat in daardie tyd geskryf is. Van beide kante is met grofgeskut geskiet. Daar was een beskuldiging wat regtig tot die uiterste oorgegaan het: die sonde teen die Heilige Gees, die sogenaamde onvergeeflike sonde. En die beskuldiging het van beide kante gekom.
In die Afrikaanse kerke is só geredeneer: As jy jou laat oordoop, verwerp jy jou eerste doop (gewoonlik die kinderdoop). Maar dit was jou inlywing in die genade-verbond. Jy verwerp dus die genade! En dit is tog die sonde teen die Heilige Gees. In die Pinksterkerke was die redenasie net andersom. As jy die kinderdoop aanvaar, glo jy dit het in die plek van die besnydenis gekom. Maar die besnydenis was deel van die Ou Testament, die ou verbond. As jy nog aan die ou verbond vashou, verwerp jy die nuwe verbond, die verbond wat Jesus gebring het. Dit beteken jy verwerp sy werk en betekenis. En dis tog die sonde teen die Heilige Gees.
Die Afrikaanse kerke se predikante was invloedryke mense in die samelewing. Hulle het op al die belangrike kommissies gedien. En natuurlik het baie van hulle “gesorg vir hulle mense”. Die Pinksterpastore was onbelangrik in die samelewing. Die gemeentetjies was meestal klein en arm. Die saaltjie waar hulle kerk gehou het, was gewoonlik in die onderdorp, met baie min fasiliteite. Ek onthou hoe die pastoor in my geboortedorp met ’n fiets gery het. Daarom het hulle lidmate ook nie die beste kanse in die samelewing gekry nie. Dit alles het natuurlik die swak verhouding net vererger.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König