Leef uit jou Doop: 1.3 Sienings oor die Doop in die Strydtyd

Leef uit jou Doop: Sienings oor die Doop in die Strydtyd – Adrio König

1.3 Die sienings oor die doop in die strydtyd

Intussen het ons een baie belangrike saak heeltemal uit die oog verloor: Wat beteken die doop? Ons het vroeër gekyk na die feit dat die Afrikaanse kerke omtrent net kindertjies gedoop het en omtrent net kinderopvoeding by die doop gepreek het.

Die heilsbetekenis van die doop het omtrent glad nie ter sprake gekom nie. Hulle het wel die verbond ter sprake gebring as hulle die kinderdoop probeer verduidelik het, maar dit het min onrustige lidmate oortuig.

 

Dit alles het uitgeloop op ’n baie swak doopbeskouing. Van die doop, soos van die nagmaal, is omtrent uitsluitlik as ’n “teken” gepraat. Die doop en die nagmaal het net simboliese waarde gehad. In die doop het die ouers die kindjie aan die Here toegewy, en is die kind simbolies in die verbond opgeneem. Dit het uitgeloop op ’n baie arm doopbeskouing. Tydens die doopvoorbereiding vra ek

graag aan doopouers wanneer hulle aan hulle eie doop dink, en watter waarde hulle dan daarin sien. En dan voeg ek gewoonlik by: As julle omtrent nooit aan julle doop dink nie, moet julle nie té sleg voel nie. Julle is maar net gewone NG lidmate.

Terloops, ek sal graag op hierdie punt deur getuienis weerspreek wil word: In die NG Kerk is die heilsbetekenis van die doop gruwelik verwaarloos. ’n Mens se eie doop het omtrent glad nie ter sprake gekom nie omdat die doop byna volkome vereenselwig is met klein babatjies, en nie

met die lewe van grootmense nie.

Het dit anders gegaan in die Pinksterwêreld en later in die Charismatiese beweging? Het hulle ’n helder siening van die ryk betekenis van die doop? Beswaarlik. Natuurlik het hulle baie duideliker aan die doop as ’n “grootmens-saak” gedink, trouens uitsluitlik. Maar watter betekenis het hulle aan die doop geheg? Kom ons kyk na die klassieke werk van FP Möller, die vroeëre AGS President, wat vir dekades eintlik ook hulle leidende teoloog was. Sy boek Die sakrament in gedrang is nog nooit deur ’n vergelykbare boek in die Afrikaanse Pinkster- en Charismatiese wêreld vervang nie, en is nog

steeds die voorgeskrewe boek by die Seminarie. Twee sake oorheers in Möller se siening van die doop: Dit is ’n teken en ’n simbool, en in die doop gaan dit om wat die mens doen.

Nuwe tye vra nuwe benaderings

Die doop as ’n simbool

Oor en oor verwys hy na die doop as ’n voorstelling van die verlossing (13). Die doop betuig die verlossing en beeld dit af (45). Die doop is die afbeelding van die genade (55, 56). En wat nou net so merkwaardig is, is die feit dat Möller dan by hierdie beskrywing van die doop tekste aangee soos Handelinge 22:16; Romeine 6; Kolossense 2:11-12, almal tekste waarin daar geen sprake is van die doop as teken, simbool, voorstelling, afbeelding nie, maar tekste wat heeltemal ’n ander taal praat, wat daarvan praat dat daar deur die doop iets gebeur, nie net dat die doop na iets verwys nie. Deur die doop is ons saam met Christus gekruisig, begrawe en opgewek. “Laat jou doop en jou sonde afwas,” sê Ananias vir Saulus (Hand 22:16), nie: “Die doop is die simbool dat jou sonde afgewas word” nie.

Hoe kan ’n mens dan op grond hiervan die doop ’n teken en ’n simbool noem? Dis merkwaardig dat dit presies is wat ons ook by die Afrikaanse kerke kry: die doop as teken en seël. By die Afrikaanse kerke is dit net ’n simbool van iets anders, van die inlywing in die verbond.

In die doop handel die mens

Dit is die tweede nadruk in Möller se doopbeskouing. By herhaling skryf Möller dat die doop die gebeure is waar die gelowige sy geloof en sy vereenselwiging met Christus betuig (15, 16, 48), waarin die gelowige glo, bid, dank, homself toewy (15). Die doop is die gelowige se getuienis en bevestiging dat hy nou nie meer aan die wêreld behoort nie (130). Die doop is “die gelowige se geestelike en mistieke vereenselwiging met Christus se begrafnis en opwekking uit die dood” (45).

Dit is ’n vreemde nadruk omdat die Nuwe Testament niks daarvan het nie. Trouens die nadruk in die Nuwe Testament is juis die teenoorgestelde: dat God in die doop handel. Maar wat nou baie vreemd by Möller is, is die feit dat hy juis dié tekste wat benadruk dat God in die doop handel, aanhaal om sy siening te steun dat die mens in die doop handel.

Kom ons kyk na sy gebruik van Romeine 6:4, 5 en Kolossense 2:11-12. Volgens hom beteken die

Romeine-teks dat ons ons deur die doop met Christus se sterwe en opstanding vereenselwig, maar die tekste lui: “Deur die doop is julle saam met Hom … begrawe.” Dit       gaan vir Paulus dus oor wat met die dopeling gebeur het, nie wat die dopeling gedoen het nie. En wie anders sou ons deur die doop saam met Christus begrawe het as God? Dan gaan dit in die doop oor dit wat God doen, nie dit wat ons doen nie.

Dit is dieselfde geval met die teks in Kolossense. Volgens Möller vereenselwig die gelowige hom hier met Christus se begrafnis en opwekking, maar Paulus het geskryf: “Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Christus begrawe is.” Dit gaan tog glad nie oor wat ons gedoen het, oor ons vereenselwiging nie, maar oor dit wat ons ervaar het, wat aan ons gedoen is. En nogeens, wie

anders kan ons saam met Christus begrawe as God?

Waarom hierdie vreemde siening oor die doop by Möller? Die “simbool en teken” het hy waarskynlik maar in sy eie Gereformeerde erfenis. Hy was ’n seun van die NG Kerk. Dit is die tipiese beklemtoning van die Afrikaanse kerke.

Maar die vreemde nadruk daarop dat die mens in die doop handel? Dis moeilik om dit te verklaar. In die volgende hoofstuk gaan ons in besonderhede in op die ryk betekenis wat die doop volgens die Nuwe Testament het. Ons sal sien daar is ses betekenisse, maar almal verwys na wat God in/deur die doop doen. Maar onthou, Möller skryf sy boek in die “hitte van die stryd” tussen die Afrikaanse

kerke en die Pinksterkerke. Die punt wat hy wil maak, is dat die kinderdoop onskriftuurlik is. En die sterkste argument wat ’n mens daarvoor kan kry, is om te bewys dat die mens in die doop handel, of nog duideliker gestel: dat die doop sy betekenis kry uit dit wat die mens in die doop doen. Dan is die kinderdoop outomaties uitgeskakel. Babatjies kan hulle nie met Christus vereenselwig, glo, bid, dank, hulleself toewy, en van hulle geloof getuig nie. Maar daar is nie tekste wat hierdie betekenisse aan die doop toeskryf nie.

Möller is die klassieke voorbeeld van die stryd in die middel van die vorige eeu, toe die hele doopdiskussie rondom die reg of verkeerd van die kinderdoop gegaan het. En intussen het ons die ryk betekenis van die doop heeltemal verwaarloos, die Afrikaanse kerke en Pinksterkerke net soveel. Net soos die Afrikaanse kerke toon Möller min tekens daarvan dat hy die betekenis van die doop in die Nuwe Testament verstaan.

Die een groot doel van hierdie boek is dus om net eenvoudig die Nuwe Testament se doopuitsprake na te gaan – te lees en ontleed, sodat ons iets kan verstaan van hierdie skat wat die Here ons gegee het.

 

leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König