Levitikus: Moet ons die boek nog lees? (5)

image_pdfimage_print

If an unholy man were to get to heaven, he would feel like a hog in a flower garden. —Rowland Hill

Levitikus: Moet ons die boek nog lees?  (5)

In die vorige blog het ons na die inhoud van die Ou Testamentiese wette gekyk. Die vraag nou is: Hoekom onderhou ons nie al die wette nie?

Natuurlik onderhou ons nie al die Ou Testamentiese wette nie – soos om klere wat van gemengde vesels gemaak is, te vermy; om mense wat hulle mans verneuk, te stenig; om te weier om seekosse sonder vinne en skubbe te eet. Baie van hierdie wette kan ons nie onderhou nie, want dit sou van die wette van ons tyd verbreek. Ons kan byvoorbeeld nie die wette oor die hantering van slawe nakom nie, want om ‘n slaaf te besit, is nou onwettig. Die geskiedenis het aanbeweeg … en God het geweet dit sou.

 

Ons mag egter nooit sê: ‘Ek steur my nie aan daardie dinge nie – dit is net Ou Testamentiese reëls.” Daar is redes waarom  ons nie hoef – nie behoort – sekere Ou Testamentiese reëls na te kom nie. Oor twee tipes wette gee die Nuwe Testament vir ons daardie redes:

·         Die offerwette. Die Nuwe Testament maak dit duidelik dat die godsdienssisteem van tempel, altaar, diereoffers, priesters en die Dag van Versoening deur Jesus Christus se kruis en opstanding vervul is. Hy vervul eens en vir altyd dit waarna die ou sisteem verwys het.  Die Hebreërboek  beklemtoon dat ons nie na daardie sisteem moet terugkeer nie, want ons het reeds alles wat daardie sisteem verteenwoordig het deur Christus se offerdood en verhewe lewe in die teenwoordigheid van die Vader.

·         Die voedselwette. Die onderskeid tussen rein en onrein diere en kos was simbolies van die onderskeid tussen Israel as God se heilige volk en die heidennasies. In die Nuwe Testament word daardie skeiding in Christus afgeskaf.  Deur die kruis maak God nou hierdie twee kulture een. Dit ontdek Petrus op pad na Kornelius deur sy visioen in Handelinge 10. Wat God rein verklaar het, mag ons nie onrein verklaar nie. Gelowiges is vry van die voedselwette.

 

Die feit dat ons nie meer hierdie wette onderhou nie, beteken nie dat hulle ons nie iets kan leer nie. Ons word gevra om ons liggame as lewende offers in diens van God te gee. Ons word gevra om lof aan Hom te offer. Ons word gevra om rein te lewe in ‘n korrupte wêreld. Die Nuwe Testament beklemtoon steeds die morele en geestelike andersheid van gelowiges.

 

Ons kry beginsels in Israel se wette wat selfs vandag van toepassing is. Toe Paulus vir die Korintiërs skryf, neem hy ‘n Ou Testamentiese wet – Jy mag nie ‘n bees waarmee jy gaan dors, se bek toebind nie (Deuteronomium 25:4) – en pas dit toe op Christenwerkers in Korinte (1 Korintiërs 9:8 – 10). Hy sien ‘n beginsel in die wet – oorspronklik bedoel vir diere – en pas dit toe op werkers. Die beginsel: Werk moet beloon word. Later gebruik hy ‘n ander opdrag oor hoe manna bymekaar gemaak moet word (ons dink van geen toepassing op Korintiërs nie) en pas dit toe: Moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly (2 Korintiërs 8:13 – 15). Hierdie is voorbeelde van kreatiewe toepassing van Bybelse wette op ‘n nie-letterlike maar toepaslike wyse.

 

So ons moet kyk of ons nie sekere beginsels uit hierdie ou wette kan kry nie. Hoe kry ons hierdie beginsels? Daarna kyk ons volgende keer.

 

image_pdfimage_print

You may also like...