Liefde vir jou naaste
Liefde vir jou naaste – Francois Malan
Johan vra:
As wedergebore Christen, hoe belangrik is dit dat jy medegelowiges moet liefhê, of kan jy ‘n mens lief hê, maar nie van die persoon hou nie?
Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
Jesus se opsomming van die wet behels ook ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Mat.22:39), dit is die maatstaf vir die wyse waarop ons moet liefhê. In die bergrede sê Jesus selfs: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar so nie? Wees dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is (Mat 5:43-48; vgl. ook Lukas 6:27-36 waar dit selfs meer prakties uitgewerk word).
Liefde is nie slegs ‘n toegeneëntheid nie, maar ‘n wilsbesluit, om selfs jou vyand lief te hê, omdat ons deel geword het van God se groot liefde. Liefde is die vrug van die werk van die Heilige Gees in ons (vgl. Gal.5:22).
1 Joh 4:7-8 sê: Geliefde, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.
1 Joh 4:19-21: Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. As iemand sê: ‘Ek het God lief’, en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar, want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.
1 Joh 3:15-16: Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.
‘Wedergebore Christen’ – die wedergeboorte kom van God af, en is nie uit ons self nie. Dit is die werk van die Heilige Gees wat ons kom oortuig dat Jesus God is wat uit liefde die straf op ons sonde gedra het in ons plek (vgl. Joh 3:3 opnuut gebore/van Bo gebore; Joh 3:5: uit die Gees gebore; Joh 14:16:8 die Heilige Gees wat ons oortuig van sonde, van die geregtigheid wat Jesus vir ons verwerf deur ons verhouding met God reg te maak, en van oordeel as ons nie glo nie; Joh 1:29 Jesus as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem; Joh 1:1 Jesus is self ook God).
Romeine 8:14-16: Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God….julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: Abba, dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons Gees dat ons kinders van God is.
2 Kor 3:18 sê die Gees is besig om ons al meer te verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.
‘n Wedergebore Christen het ‘n kind van die God van liefde geword, deur aan die liefdesoffer van sy Seun verbind te word deur God self, wat as die Gees van God ons kom wortel en grondves in die onmeetlike liefde van Christus, sodat ons deel word van die liefdeskrag van God om innerlike sterk te word in liefde, vervul met die volheid van God se liefde teenoor ander mense (Efesiërs 3:14-19).
‘Kan jy ‘n mens lief hê maar nie van die persoon hou nie?’ – die liefde is juis bedoel om ons natuurlike voorkeure te oorskry. Daarin is ‘n wedergebore Christen anders as die tollenaars en heidene van Mat. 5:46,47 en die sondaars van Lukas 6:32-34. Ook ons as gelowiges hou van sekere mense en van ander nie, self van mede broers en susters in die Here. Maar as kinders van God is ons juis geroep om eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe, wat niks doen uit selfsug of eersug nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself; nie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in ons wees wat daar ook was in Christus Jesus wat Homself verneder het tot die dood aan die kruis (vgl. Filippense 2:2-11).
1 Petrus 1:22,23 sê: Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.
Dit is so dat ‘n mens meer aanklank vind by sekere persone as by ander; dat sommige mede-gelowiges se optrede en gesindhede dit moeilik maak om van hom of haar te hou, deurdat so ‘n persoon hooghartig en selfsugtig optree. Maar die liefde is juis daar om my voorkeure en afkeure te oorskry, om so ‘n persoon met liefde te wen.
Jesus het twaalf dissipels uitgekies uit ‘n skare van volgelinge, en een van die twaalf was ‘n verraaier, wat Hy tot op die end probeer wen het (Mark 3:13-19). Van die twaalf het hy by sekere geleenthede vir Petrus en Johannes en Jakobus saam met Hom geneem (vgl. Luk 8:51; Mat 17:1). Maar vir Petrus moes Hy een keer selfs sê ‘Satan! Jy is vir my ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê (Mat 16:23), maar as hy Jesus liefhet, gee Hy opdrag om sy skape te versorg (Joh 21:15-17); vir Johannes en Jakobus noem Hy seun van die donder (Mark 3:17), en as hulle vuur uit die hemel wil afbid op ‘n dorp van die Samaritane het Jesus hulle skerp tereggewys (Luk 9:54,55). En dan word Johannes die dissipel vir wie Jesus baie lief was, aan wie Hy sy moeder se versorging opdra voor Hy sterf (Joh 19:26,27).
Skrywer: Prof Francois Malan