Maria se ouers – Hermie van Zyl
Barend vra:
Ek lees nie in Jesus se geslagsregister in Lukas 3 wie Maria se ouers was nie. Haar stamboom gaan terug tot by Adam maar ek kan nie agterkom wie haar ouers was nie.
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Daar word inderdaad niks in die geslagsregisters van Jesus in Matteus 1 en Lukas 3 gesê oor Maria se stamboom nie. Trouens, in die geslagsregister volgens Lukas kom haar naam nie eens voor nie, hoewel dit darem in Matteus genoem word. Ons weet dus niks omtrent Maria se ouers of voorgeslagte vanuit die Bybel nie.
Weliswaar word daar van ’n “bloedverwant” van Maria melding gemaak – Elisabet, Johannes die Doper se ma (Luk 1:36). Maar dit bring ons nie veel nader aan Maria se ouers nie omdat die Bybel nie die aard van hierdie bloedverwantskap spesifiseer nie. Ons kan hoogstens vermoed dat Maria vanweë hierdie bloedverwantskap ook tot die priesterlike nageslag behoort het, omdat Elisabet (én haar man, Sagaria) uit die nageslag van Aäron gestam het (Luk 1:5). In die Jodedom was dit belangrik dat priesters – in hierdie geval Sagaria – hulle priesterskap tot op Aäron moes kon terugvoer. Verder is dit interessant dat Aäron se vrou ’n soortgelyke naam as Elisabet gehad het (Eliseba, Eks 6:22) en dat Aäron (en Moses) se suster dieselfde naam as Maria gehad het, naamlik Mirjam (die Hebreeuse weergawe van Maria). Mirjam was dus die skoonsuster van Eliseba, Aäron se vrou. Dit wil gevolglik lyk asof die Evangelieskrywer, Lukas, ’n soortgelyke band tussen Maria en Elisabet lê as wat tussen Eliseba en Mirjam bestaan het. Maar dit word nie in soveel woorde gesê nie; in elk geval is dit onwaarskynlik dat Maria en Elisabet skoonsusters was omdat Elisabet reeds gevorderd was in jare (verby kinderbarende ouderdom; Luk 1:7) en Maria nog ’n jong ongetroude meisie, waarskynlik nie ouer as rondom 16 jaar nie. Al wat ons kan sê van die bloedverwantskap tussen hierdie twee is dat vir Lukas die priesterlike konneksie tussen Maria en haar bloedverwant belangrik was. Inderdaad speel die tempel in Jerusalem vir Lukas ’n prominente rol in die lewe van Jesus en sy ouers. So byvoorbeeld bring Jesus se ouers hom ná sy besnydenis na die tempel om Hom aan die Here te wy en die nodige offers te bring (Luk 2:22-24). Daar in die tempel word ook belangrike uitsprake oor Jesus gemaak deur Simeon en Anna (Luk 2:25-40), en dáár beïndruk Jesus later as twaalfjarige seun ook die skrifgeleerdes met sy Godskennis (Luk 1:46-49).
Blykbaar was hierdie tempel- en priesterlike konneksie ook belangrik vir die apokriewe boek, Die Protoevangelie van Jakobus (geskryf ongeveer 150-200 nC). Volgens dié werk was Maria se pa en ma Joagim en Anna, ’n vermoënde egpaar van vermoedelik Jerusalem of omstreke. Nie net was Joagim ryk nie, maar hy en sy vrou was diep gelowig; hulle het offerandes in die tempel gebring en later vir Maria aan die priesters daar toevertrou om heilig vir God te bewaar. Die Protoevangelie teken Maria se ouers ook as aanvanklik kinderloos (vergelykbaar met Sagaria en Elisabet, Johannes die Doper se ouers) en dat hulle die Here gesmeek het vir ’n kind, waarop die Here vir hulle Maria, die latere moeder van Jesus, gebore laat word het. In die Protoevangelie word Maria nie net as ’n maagd geskets vóór die geboorte van Jesus nie, maar ook tydens en ná die geboorte. Hoe interessant hierdie gegewens ook al is, kan ons helaas niks daarvan as histories betroubaar aanvaar nie. Dis kennelik ’n fiktiewe verhaal gebaseer op gegewens in die kanoniese Evangelies om veral die ewige maagdelikheid van Maria te beklemtoon. Ons moet dus volstaan met die feit dat ons niks van Maria se ouers af weet nie.
Kyk ons vervolgens meer spesifiek na die geslagsregisters van Jesus in Matteus 1:1-17 en Lukas 3:23-38 met die oog op Maria se rol daarin, kan ons die volgende opmerkings maak:
Die twee registers verskil van Dawid tot by Josef, laasgenoemde Jesus se wettige aardse vader. Matteus volg die lyn van Dawid se seun Salomo, terwyl Lukas die lyn volg van Natan, ‘n ander seun van Dawid. Vanweë hierdie verskille tussen Matteus en Lukas is al voorgestel dat Matteus Josef se geslagsregister gee terwyl Lukas Maria s’n volg, met die implikasie dat Maria dan ook uit die huis van Dawid was. Maar resente navorsing het egter hierdie oplossing in onguns laat verval. Navorsers is dit deesdae eens dat beide geslagsregisters Josef se lyn gee. Josef was immers die wettige aardse pa van Jesus, en volgens destydse gebruik was sy geslagsregister die bepalende een vir Jesus se aardse afstamming. Die punt is dat ons nie uit één van die geslagsregisters iets kan aflei oor Maria se voorgeslagte nie.
Ander interessante wetenswaardighede omtrent die twee geslagsregisters is die volgende:
Geslagsregisters is redelik akkuraat gehou in die Jodedom, soos die Joodse historikus, Josefus, aantoon (Josefus, Lewe 1). Geslagsregisters was belangrik omdat grondregte hiervolgens toegedeel is aan families en ook omdat sekere ampte, soos priester en koning, van pa na seun vererf is. Geslagsregisters het ‘n rekord bevat van die verlede tot die hede vir verskillende redes: om godsdienstige temas, familieafstamming, politieke konneksies, of gewoon kronologie aan te dui (1 Kron 1-9). Die meeste van hierdie lyste was verteenwoordigend (= opsommend) van aard, eerder as ‘n volledige lys van elke individu in daardie familielyn. Hulle bevat dus nie noodwendig rekord van al die geslagte nie.
Hierbo is reeds genoem dat beide die geslagsregisters van Matteus en Lukas Jesus as komende uit die nageslag van Dawid beskryf. Die rede was om aan te toon dat Jesus die Messias is volgens God se belofte in 2 Samuel 7:16,29 (vgl Ps 89:36-38; Jes 9:6; 11:1; Jer 23:5; 33:17; Eseg 37:24-28; Matt 22:42,45; Joh 7:42). Dit laat natuurlik die vraag ontstaan hoe Jesus daarby inpas, want Matteus 1:16 formuleer dit baie versigtig sodat dit duidelik is dat Josef nie Jesus se biologiese pa was nie: “… Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.” (Volgens Matt 1:18, 20 was Jesus se verwekking uit die Heilige Gees.) Die feit dat Josef nie die biologiese pa van Jesus was nie, was egter nie ’n probleem met die oog op Jesus se insluiting in Josef se geslagsregister nie. In die antieke tyd was daar geen probleem daarmee dat ‘n aangenome seun (in hierdie geval Jesus) deel was van die vader se geslagsregister nie. Daar is talle voorbeelde uit die Romeinse en Joodse wêreld van destyds dat ‘n aangenome seun vir alle wetlike doeleindes presies op dieselfde manier beskou en hanteer is – en vererf het – as ‘n biologiese seun. (Terloops, dit is bv die argument van Rom 8:15-17: Die frase “wat julle tot kinders van God maak” is letterlik in die oorspronklike Grieks: “van aanneming tot seuns”, bedoelende dat ons deur die Gees tot seuns/kinders van God aangeneem is. En daarom is ons ook volle erfgename, 8:17.) Die feit dat Jesus se seunskap van Josef nêrens betwis word nie, nie in die Christelike óf Joodse geskrifte nie, is tekenend daarvan dat Jesus volledig as Josef se seun aanvaar is (vgl Joh 1:45; 6:42). Dus, selfs al was Maria nie uit die geslag van Dawid nie, is Jesus steeds as uit die huis van Dawid beskou weens die feit dat sy wettige aardse pa, Josef, wel uit die Dawidslyn stam. Om hierdie rede sê Lukas dan ook dat met die sensus wat keiser Augustus uitgevaardig het, Josef en Maria na die Dawidstad – Bethlehem – toe moes gaan om daar opgeteken te word omdat Josef “tot die huis en geslag van Dawid behoort het” (Luk 2:4).
Beide geslagsregisters wil ook aantoon dat Jesus nie net die Jode se Messias is nie, maar dat Hy vir die hele wêreld gekom het. Matteus bewerkstellig hierdie gedagte deur die geslagsregister te laat loop tot by Abraham, want in Abraham wou God al die nasies van die wêreld seën (Gen 12:3). Lukas doen dit weer deur die geslagsregister tot by Adam terug te voer om so aan te toon dat Jesus die Seun van die vader van die ganse menslike geslag is. Beide geslagsregisters het dus ‘n Joods-Dawidiese fokus sowel as ‘n universele inslag.
Die ongewone vermelding van vroue (Tamar, Ragab, Rut en Batseba), en daarby vroue met ‘n ietwat bedenklike reputasie, twee van hulle ook van heidense afkoms (Ragab en Rut), is opvallend in Matteus se geslagsregister. Dit beklemtoon God se genadige handelinge met die mens, dat Hy ook dié red wat deur ander as onwaardig beskou word. Verder beklemtoon dit van die begin af die gerigtheid van die evangelie op die heidene (Matt 28:18-20). Dit is as ‘t ware in die DNA van Jesus vasgelê dat sy boodskap vir alle (soorte) mense bedoel is.
Opmerklik by Matteus is ook die verdeling van die geslagte in drie groepe van veertien (1:17). Dit lê klem daarop dat Jesus se geboorte nie toevallig is nie, maar voortspruit uit noukeurige Goddelike beplanning.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl