Matteus 15:26

image_pdfimage_print

 

I do not think of myself as your teacher. I think of myself as a friend who has made a very long journey and has learned something so important that he does not want to keep it to himself.” Henri Nouwen

 

Matteus 15:26

The Gospel Coalition is besig met ‘n reeks oor verwarrende gedeeltes uit die Bybel. Kundiges verduidelik hierdie gedeeltes. Vandag kyk ons na Matteus 15:26.

Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.  ‘n Mens kry amper die indruk dat Jesus so ‘n bietjie onbeskof is. Kom ons kyk na die konteks:

  • Jesus is in die streke van Tirus en Sidon. Hy word deur ‘n Kanaänitiese vrou genader – die ideale geleentheid om oor kultuurgrense heen van die evangelie te getuig.
  • Die moeder vra Jesus om haar dogter wat in die mag van ‘n bose gees is, te genees. Dit is tog ‘n redelike versoek.
  • Die ontstelde vrou praat respekvol met Jesus. Sy noem Hom Here, Seun van Dawid! Ontferm U oor my – sy het vertroue in sy vermoë. Wat was Jesus se reaksie? Hy het haar niks geantwoord nie.
  • Sy dissipels versoek Hom om die vrou weg te stuur. Hy antwoord: Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.
  • As die vrou aanhou met haar versoek antwoord Jesus met ons vers: Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie. In die Joodse kultuur is honde baie negatief beskou.

 

Jesus se reaksie klink vir ons vreemd. Hoe moet ons sy antwoord aan die Kanaänitiese vrou verstaan? Daar is drie moontlikhede

  1. Ons kan probeer om die hardheid van Jesus se stelling te versag. Jesus maak net die punt dat die fokus van sy bediening Israel is. Ander sê dat Jesus se gebruik van hondjies positief gesien moet word – Hy gebruik immers die verkleinwoordjie. Hierdie benadering misluk.
  2. ‘n Tweede benadering sê dat Jesus se woorde sy diep gesetelde seksisme en rassisme openbaar. Dit is nie waar nie. In Jesus se geslagsregister kry ons twee Kanaänitiese vrou – Rut en Ragab. Ons lees ook gereeld van mense wat gevoel het dat Jesus hulle te na gekom het. Dit lyk nie asof hierdie vrou voel dat daar teen haar gesondig is nie. Sy stem selfs met Hom saam: Dit is waar, Here. Dit is duidelik dat hierdie vrou volkome vertroue in Jesus se mag het – selfs ‘n krummel van Jesus se mag sou haar dogter kon genees het.
  3. Die derde benadering is dat ons hier ‘n uitnodiging tot dieper geloof het.
  • Jesus se antwoord gee haar die geleentheid om die diepte van haar geloof te demonsteer. Selfs Jesus se moeilike woorde ontmoedig haar nie. Daarom sê Jesus: Jou geloof is groot. Jou wens word vervul.
  • Jesus se harde woorde aan die vrou moet ander in volhardende geloof onderrig. In die gedeeltes net voor en net na hierdie gedeelte wys Jesus se dissipels hulle gebrek aan geestelike waarneming – dit beklemtoon die kontras tussen hulle klein geloof en die vrou se groot geloof. Dit wys vir hulle wat dit beteken om geloof te hê wat alle hindernisse kan oorwin.
  • Jesus se woorde aan die vrou wys vir ons wat dit beteken om ons kruis op te neem en Hom te volg. As ons nie bereid is om die belediging om honde genoem te word te dra nie, is ons nog nie gereed om sy kruis op te neem nie.
  • Deur die vrou se gewilligheid om in ware geloof te reageer op die eise van dissipelskap, berei Jesus se woorde die dissipels voor vir ‘n wêreldwye sending waarin geloof en nie etnisiteit die kritieke faktor is.

 

Aanvanklik is ons deur Jesus se gebrek aan sensitiwiteit verbaas. Na ons oor die vers nagedink het, konfronteer die teks ons met ons eie gebrek aan sensitiwiteit – vir die krag van die desperate moeder se volhardende geloof, tot die eise van dissipelskap en tot die diepte van genade van Jesus wat gereed is om enigeen wat na Hom in geloof kom, te seën.

 

image_pdfimage_print