Mense is die sending

 

The raging of … fools tends toward the suppression of the Christian faith, the denying of the divine word, and the blaspheming of the Divine Majesty. — Martin Luther

 

Mense is die sending

Hy is moeg na ‘n dag in die veld – soos elke ander dag. Hy moet harder werk, want sy broer is weg. Hy is verantwoordelik vir die familieplaas. Sy pa is nie van veel hulp nie, want hy staar die hele dag na die horison – hy dink meer aan die verlede as die huidige. Toe hy naby die huis kom hoor hy die musiek en die singery. Wie het nou tyd vir ‘n partytjie? Hy roep een van die bediendes nader en vra vir hom wat aan die gang is. Die bediende se antwoord ontstel hom: U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.

 

Dit is die verhaal van die verlore seun soos ons dit in Lukas 15 kry. Hier lees ons die verhaal van ‘n verlore seun, ‘n vader wat vergewe en ‘n broer wat veroordeel. In ons gemeente kry ons ook ouer broers – mense wat meer hartseer as vreugde het as ‘n sondaar tot bekering kom en terugkeer. Hulle is die mense wat glo dat God se barmhartigheid net so ver as tot by hulle strek – niks verder nie.

 

Die gees van die ouer broers vorm die laer, beskerm die status quo en beskerm die binnekant eerder as die buitekant. Dit is ‘n gevaarlike kanker wat enige genade wat jy aan mense wat Christus nie ken nie, wegvreet. Die boodskap van die evangelie stop nie by die verlore seun nie. Jesus het gesê dat die evangelie nie net vir diegene met ‘n goddelose lewenstyl is nie, maar vir diegene met ‘n bose hart. Val ons nie almal in die kategorie van of die jonger of die ouer broer nie? Soms is ons sommer beide terselfdertyd. Maak nie saak wie ons is nie die Vader se genade kan ons bereik. As ons mense wil mobiliseer om vir die verlore skape om te gee, kry ons in die verhaal van die verlore seun drie lesse.

 

  1. Ouer broers moet geleer word van genade

Die ouer broer het vergeet en daarom herinner sy vader hom: Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. Die geboorte in die familie en die liefde van die vader gee aan hom die reg om seun genoem te word. Hy het sy posisie vergeet – daarom kom hy in opstand. Baie lidmate wat maar voortsleep, dink nie dat hulle genade vergeet het nie. As hulle nie na ‘n buitestaander uitreik nie, is dit ons taak om hulle daaraan te herinner.

 

  1. Ouer broers moet genade ontvang

Dit is ‘n versoeking om te droom oor hoe die gemeente kan wees as ons ontslae kan raak van al die “ouer broers.”  Dit is nie wat die vader doen nie. Hy wil die ouer broers se hart verander. Die vader sluit in; hy maak plek aan die tafel vir die wat weggedwaal het en vir die wat gebly het. Mense gee net genade uit as hulle dit eers ontvang het.

 

  1. Ouer broers moet aan die visie herinner word

Ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry. Ons is so besig om kerk “te doen” dat ons skoon vergeet van die vreugde om kerk te wees.” Jesus het ons nie geroep om vissers van komitees te wees nie.

 

Iewers langs die pad het baie van ons die pad byster geraak. Ons fokus so op die binnemure van die kerk dat ons skoon van die mense buite die mure vergeet het. Mense is die sending en ons moet bly wees as hulle terugkeer. Dit is wat ons moet doen. Mense beteken alle mense. Jesus het nie vir ons opsies gegee oor na watter mense ons moet uitreik nie.