Mense en Redding: Hebreërs en die ander briewe in die Nuwe Testament (1) – Jan van der Watt
Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.
Redding volgens Hebreërs en die ander briewe in die Nuwe Testament
- a) Redding in Hebreërs
Hebreërs praat sy eie taal. Die skrywer het baie van die Joodse godsdienstige taal en simbole oorgeneem om sy boodskap te skryf. Hy gebruik die verhaal van Israel se tog deur die woestyn as analogie vir wat die gelowiges nou ervaar. So kan die skrywer wys hoeveel beter die Christene af is. Hy gebruik dus die godsdienstige taal van offers, priesters, tabernakels, engele, verbond en so aan, alles dinge wat die Israeliete met hulle tog deur die woestyn leer ken het, om te verduidelik wat redding vir die gelowiges beteken (Heb 8:1-10:22). As kern van sy beskrywing van verlossing is die verlossing van Israel uit Egipte. Die gelowiges word dus aangemoedig om in geloof getrou te bly op hulle moeilike reis deur hierdie wêreld, oppad na die ewige redding by God (Heb 13:13-16).
Die groot struikelblokke om te oorkom is sonde en die dood wat uitdrukkings van ongeloof en ontrouheid is. Sonde lei tot verkeerde optrede voor God en is die bron van onreinheid. God se program van redding word deur Jesus in werking gestel en uitgevoer. Die duiwel was natuurlik die vyand wat vernietig moes word, en juis dit het Jesus kom doen toe Hy mense geword het (Heb 2:14-15): Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy (= Jesus) ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. Ons sien dus hier by Hebreërs dieselfde teologie van dood en lewe. Die dood, wat die gevolg van die sonde is, hou mense in sy mag. Self kan hulle nie weer lewend word nie. Die beeld wat hier gebruik word, is dat Jesus die duiwel, wat die baas was oor die slawe wat in die kettings van die dood was, te kom vernietig en so die slawe te kom vrymaak.
Die Hebreërskrywer plaas ook die redding in ‘n breër perspektief. In Heb 5:8-9 staan daar: Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword. Hier gaan dit oor Jesus en een van die redes waarom Hy redder kon word. Niemand is volmaak nie, behalwe Jesus. Toe Hy op aarde was, het Hy dit bewys deur sondeloos te leef en kan daarom doen wat sondige mense nie kan doen nie, naamlik om voor God vir ander in te tree. So is Hy die bron van saligheid. So verduidelik die Hebreërskrywer waarom ons Jesus vir die verlossing kan vertrou. In die vers wat op bogenoemde gedeelte volg, naamlik, Heb 5:10, word daar dan ook gesê dat Jesus as Hoëpriester aangestel is om vir mense wat aan Hom behoort in te tree.
Die priesters was onder andere verantwoordelik vir die offers vir sonde. Met die sondevergifnis was dit vir Israel moontlik om God se volk te bly. Omdat hulle gedurig gesondig het, moes daar gedurig geoffer word. Met Jesus is dit anders. Hy is nie alleen die Hoëpriester nie, maar ook die offer wat gebring word – en in sy geval is daar net een offer nodig; dit hoef nie herhaal te word nie: So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem (Heb 9:28; lees ook Heb 9:23-28) en omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd (Heb 10:10). Op die manier verduidelik die Hebreërskrywer dat die gelowige nie meer bekommerd hoef te wees oor die sonde nie. Jesus het eens en vir altyd as offer die sonde weggeneem. Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring… Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! (Heb 9:12, 14) en deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak (Heb 10:14)
Jesus is ook die Hoëpriester. Daarna kyk ons volgende keer.