Mense en Redding: Paulus (3) – Jan van der Watt
Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.
Geloof vir Paulus hang saam met bekering tot God deur sy boodskap soos dit in Jesus gestalte gekry het, te aanvaar. Dit blyk uit waarskynlik die oudste sendingpreek in die Nuwe Testament: Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos (1 Thes 1:9-10). Dit gaan dus om gelowige assosiasie met God en sy reddingsplan in Jesus.
Daar is egter ‘n vraag: vir die Jode het die Wet sentraal gestaan in die proses van redding en natuurlik om gered oftewel binne die verbond te bly. Paulus argumenteer, soos ons hierbo gesien het, dat redding en ‘n voortgaande verhouding met God en Jesus deur geloof en nie deur die Wet kom nie, soos hy self in Rom 3:20-22 sê: Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ’n mens wat sonde is. Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo en tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie (Gal 2:16 – lees die hele argument in Gal 2:16-5:1). As God self die verbondswet ingestel het hoe is dit moontlik dat Paulus nou kan beweer dat mense sonder die wet met God in ‘n verhouding kan staan? Paulus beargumenteer dit saam volledig in sy brief aan die Galasiërs. Hy herhaal sy argument in Romeine 4. Die argument kom daarop neer dat Abraham deur geloof as vriend van God gereken is – dus in ‘n verhouding met God gestaan het – lank voor Moses en die wet daar was. Redding deur geloof sonder die Wet is dus moontlik, dit het Abraham gewys. Net soos Abraham het Christen gelowiges dus ook nie nodig om deur die wet ‘gered’ te word nie. So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. (Gal 3:6-7).
Paulus het ook ‘n baie spesiale argument oor hoe geloof tot stand kom: Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? … Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. (Rom 10:14-15, 17; sien ook Rom 10:8-10). Vir Paulus is die verkondiging van die Evangelie deel van die proses van redding en dit was inderdaad God se bedoeling (1 Kor 1:21): Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. Redding is nie moontlik as daar nie mense is wat die boodskap verkondig nie, maar dan nie enige boodskap nie – dit gaan om die verkonding van die evangelie van Jesus: Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom (1 Kor 15:1-2). Redding is dus ingebed in missionale ywer (Kol 2:5-8; 2 Tim 1:8-9).
Aangesien verlossing ‘in Christus’ aangebied word (Kol 2:5-15; 2 Tim 2:10; 3:15), laat ons nou op Jesus as Redder fokus. Die term ‘redder’ word deur Paulus uitsluitlik vir God (bv. 1 Tim 1:1; 2:3-4; Tit 1:3, 2:10, 3:4) en Jesus (bv. Fil 3:20; 2 Tim 1:10; Tit 1:4, 2:13, 3:6) gebruik. God se redding word deur Jesus as Redder beskikbaar gestel (Rom 3:21-25, 8:1-4; 1 Kor 1:30-31; 2 Kor 5:19; Gal 4:4-5; Kol 1:13-14; 1 Tim 1:15, 2:5-6) en loop uit op nuut geskepte mense (2 Kor 5:17-19). Hulle kan nou uit genade in vrede met God en Jesus leef: God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God (Rom 5:1-2).
Volgende keer kyk ons na die kruis in Paulus se beskrywing van redding.