Mense en Redding: Sonde (4) – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Hoeveel maal word mens vergewe en moet mens vergewe?

 Natuurlik beteken sondebelydenis dat God jou vergewe as jy jou sonde bely. Ons kan ook herhaalde kere om vergifnis vra en van God vergifnis en vergewing verwag. ‘n Vraag wat egter dikwels gevra word as dit by sondebelydenis kom, is of mens altyd vergewe word en of hoeveel keer mens ander wat jou om verskoning vra, moet vergewe?

Matteus bespreek die saak in detail. In Matt 18 word verhoudinge binne die gemeente bespreek, onder andere hoe daar opgetree moet word teenoor mense wat nie van hulle sonde af wil wegdraai nie (18:15-17). Petrus vra dan ‘n belangrike vraag, naamlik hoeveel maal mens iemand moet vergewe wat sy ‘sonde bely’. Jesus antwoord, sewentig maal sewe. Die getalle 70 en 7 is natuurlik simboliese getalle wat volheid of volmaaktheid beteken (18:21-22). Wat Jesus dus hier sê is dat daar eintlik geen grense getrek kan word as dit by ware vergifnis kom nie. Maar die verhaal is nie so eenvoudig nie. Jesus vertel dan ‘n gelykenis om sondebelydenis en vergifnis te illustreer (18:23-35) – ‘n koning vergewe ‘n werker ‘n groot bedrag. Die werker weier egter om iemand wat hom geld skuld te vergewe. Daarna roep die koning die werker en gooi hom in die tronk, nie omdat hy die koning iets skuld nie, maar omdat hy nie dieselfde houding as die koning getoon het deur ook te vergewe nie. Die verhaal sluit dan so af (18:35): So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie (sien ook Matt 6:14-15).  

Die verhaal werk met sterk ironie en kontras: dit illustreer beide onbeperkte vergifnis asook geen vergifnis van die kant van die koning af. Hy vergewe eers die werker oorweldigend en as díe dan nie self vergewe nie, word hy ook nie weer vergewe nie. Daaruit kan enkele belangrike teologiese gevolgtrekkings gemaak word: Die hemelse Vader vergewe onbeperk (al is die oortredings onmeetbaar groot); die vergifnis plaas egter die ontvanger onder ‘n verpligting om net soos die koning op te tree. Resiprositeit was ‘n algemene beginsel in die antieke tyd. Dit beteken dat mens vir iemand wat iets aan jou doen of gee ekwivalente ‘waarde’ teruggee. Daarom is dit opmerklik dat die Nuwe Testament nie regtig iets ken soos dankie sê teenoor mekaar nie (wel teenoor God). Ons moet eerder dankie leef deur in respons terug te gee wat ons ontvang het. Dan wys ons ons was die geskenk werd. Die werker doen dit nie en wys daarmee nie alleen sy ondankbaarheid nie, maar ook dat hy nie uit dieselfde blok gesny is as die koning nie. Hy tree nie in ooreenstemming met die waardes van die koning op nie.

Hier kom ook ‘n tweede antieke waarde na vore wat ons help om die gedeelte beter te verstaan: die antieke mense was groepsgeorienteerde mense. Van iemand om aan ‘n groep behoort moes hy of sy soos die groep optree. Die leier was natuurlik die een wat bepaal het hoe die groep moet optree. Die koning het in die geval van die verhaal gewys wat die etos van sy koninkryk is. Hulle vergewe mekaar. Die werker het egter deur sy gedrag gewys hy is nie werklik deel van die groep nie en daarom het die koning hom gestraf en sy genade aan hom teruggetrek. Hy sou gepynig word tot hy alles terugbetaal het, wat natuurlik onmoontlik was. As die gelowige dus nie die genade van God uitleef nie, is hulle dit ook nie werd nie.

God vergewe dus onbeperk, sewentig maal sewe, maar met die voorwaarde dat gelowiges as sy kinders hierdie genade naleef. Wie egter nie binne die raam van hierdie verhouding met God wil leef nie, moet nie op God se genade reken nie.

Die insig voorkom dat vergifnis misbruik word. As iemand deur sy broer vergewe word en dan toon dat hyself nie wil vergewe nie, toon dat hy nie belangstel om in die genadekring van God te leef nie. Hy verdien dit dan ook nie. Maar daar moet ook nie van die ander kant van die wa afgeval word nie – as iemand eenmaal vergewe is en hy maak weer dieselfde fout, beteken dit nie outomaties dat die persoon nie weer vergewe mag word nie. Inteendeel, die reël van sewentig maal sewe geld steeds, maar alleen as die persoon opregte berou vertoon – met ander woorde, as die persoon werklik sy sonde bely soos hierbo beskryf. Hy moet sy fout erken, daarvan afstand doen en toegewyd onderneem om die verhouding te herstel. Dit gee dan aan hom die geleentheid om weer voor te begin as iemand wat binne die genadekring van vergifnis wil funksioneer.

Wat word met sonde tot die dood toe bedoel? Daarna kyk ons volgende keer.

image_pdfimage_print

You may also like...