Menslike Kloning (5)

image_pdfimage_print

Menslike Kloning (5) – Coen Slabber

Ons het reeds na enkele basiese wetenskaplike beginsels en die verskillende prosedures wat as kloning bekend staan, gekyk. Maar waar staan ons vandag?

Waar staan ons vandag?

Die afgelope aantal jare het die wetenskaplike gemeenskap gefokus op kernoordrag of kloning. Hulle het dit gesien as ʼn oplossing vir die verwerping van oorgeplante materiaal.

Kloning van diere het ʼn lae suksessyfer. Ten minste nege spesies is reeds suksesvol gekloon – skape, muise, beeste, varke, konyne, katte, muile, perde en takbokke. Meer as 90% van pogings misluk. Daar is ook ʼn hoë voorkoms van deformiteite en gestremdhede.

As gevolg van die suksesvolle kloning van diere, is daar voorspel dat menslike kloning ʼn eenvoudige proses sou wees. Hierdie kloning sou vir ons pasiënt-spesifieke stamselle gee wat gebruik kan word vir enigeen wat selvervangingsterapie benodig. Menslike kloning is egter moeiliker as wat verwag is. Menslike eierselle is meer breekbaar as die eierselle van ander soogdiere. Meeste van hulle oorleef nie die prosedure wat gebruik is in diere nie. Die paar verslae oor suksesvolle menslike kloning was persvrystellings wat nie bevestig kon word nie of dit was verdraaiings.

Na Hwang het mense ernstige bedenkinge oor navorsing op kloning uitgespreek. Hwang het duisende menslike eierselle vir sy onsuksesvolle navorsing gebruik. Om eierselle te skenk is nie sonder gevare nie. Is dit moreel geregverdig om sulke eksperimente te doen? Hwang het druk op jong vroulike kollegas uitgeoefen om eierselle te skenk. Hoe gaan ons vroue beskerm teen moontlike uitbuiting deur navorsers?

Hierdie tegniese uitdagings wat Hwang ondervind het, was te verwagte. Verskeie laboratoria het reeds bewys dat dit baie moeilik is om enige dier te kloon. Baie van hierdie embrio’s is abnormaal. Net 0,1 tot 2% is normaal genoeg om te oorleef tot by geboorte. Maar selfs die diere wat gebore word, is nie almal suksesverhale nie. Dit was byvoorbeeld gou duidelik dat Dolly nie normaal was nie. Weens verskeie mediese probleme is sy op die ouderdom van ses jaar uitgesit. Dolly was die enigste van 237 gekloonde embrio’s wat hierdie groep gegenereer het wat oorleef het.

Hoekom oorleef so min embrio’s? Waarskynlik omdat hulle abnormaal is. Kloning produseer baie selde ʼn normale embrio. As ons dus kloning as bron vir stamselle gebruik, kom ons voor ʼn belangrike vraag te staan: Hoe normaal is hierdie selle? Gaan ons nie dalk eindig met ʼn probleem groter as die probleem wat ons probeer oplos het nie? Dit is moeilik om te bepaal of ʼn embrio normaal is. Eers as hy toegelaat word om te ontwikkel word die abnormaliteite duidelik.

 

Pre-inplantasie genetiese diagnose en seleksie

Ons het reeds die moontlike gebruike van kloning aangetoon: die “skep” van tweelinge, voortplanting en terapie. Daar is ʼn nuwe tegniek wat streng gesproke nie kloning is nie, maar wat wel daarby aanpas: pre-inplantasie diagnose en seleksie.

 

kloning5a

 

Daar is prosedures beskikbaar wat paartjies waar daar die risiko van oordraagbare, genetiese siektes is, in staat te stel om hierdie siektes te voorkom – aanneming, die skenking van eierselle of sperme of die skenking van embrio’s. Nou gaan wetenskaplikes ‘n stap verder. Pre-inplantasie diagnose en seleksie laat paartjies toe om ʼn baba wat volledig aan hulle verbind (related) is, maar wat nie die genetiese siekte dra nie, voort te bring. Die prosedure begin net soos in vitro bevrugting. [In in vitro bevrugting word daar gewoonlik meer as een eiersel geoes en bevrug. Gewoonlik word nie meer as drie van hierdie bevrugte eiers in die vrou se baarmoeder teruggeplaas nie. Die ander word of gestoor of vernietig.] Die genes in die siek embrio’s word nie verander nie – die gesonde embrio’s word uitgesoek en die siek embrio’s vernietig. Die gesonde embrio’s word in die moeder se baarmoeder ingeplant.

Pre-inplantasie seleksie kan ook misbruik word. Dit kan vir ʼn onaanvaarbare doel gebruik word. Ons kan selekteer vir kosmetiese of gedragsneigings – iets wat niks met siekte te doen het nie.

In die volgende artikel gaan ons die etiese probleme met kloning bespreek.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

 

image_pdfimage_print

You may also like...