Menslike Kloning (6)

image_pdfimage_print

Menslike Kloning (6) – Coen Slabber

Ons kom nou voor ‘n belangrike vraag te staan: as dit vir wetenskaplikes moontlik is om iets te doen, moet dit gedoen word?

Kloning: Moontlike etiese problenme

Van die kerke het sterk standpunt oor kloning ingeneem:

  • Pous Benedictus publiseer Dignitas Personae waarin kloning verdoem word – a grave offence to the dignity of that person as well as to the fundamental equality of all people.
  • Islam: het ʼn fatwa (heilige oorlog) uitgereik waarin hulle sê dat kloning haraam (verbied deur die geloof) is.

Die openbare mening oor kloning is gemeng: sommige steun dit weens die mediese beloftes wat dit inhou; ander verwerp dit, want dit beteken die vernietiging van lewe wat spesifiek vir navorsingsdoeleindes geskep word.

Die geweldige belangstelling in kloning wys vir ons dat ons hier nie net met ʼn nuwe tegniek te doen het nie – dit is iets totaal anders, want dit raak fundamentele aspekte van menswees. Vrae wat na vore kom, is: identiteit en individualiteit; die betekenis van kinders hê; die verskil tussen voortplanting en vervaardiging; die verhouding tussen die geslagte; die manipulasie van mense tot voordeel van ander; die vryheid en waarde van biomediese ondersoeke; ons verpligting om mense te genees – en die perke daarvan; die respek en beskerming van ontwikkelende menslike lewe. Seker een van die belangrikste vrae wat na vore kom, is die verhouding tussen die wetenskap en die samelewing. Moet die samelewing etiese beheer oor biomediese tegnologie uitoefen of is wetenskaplikes outonoom?

Kom ons kyk na die probleme van voortplantingskloning en daarna na die moontlike probleme met die gebruik van kloning vir navorsing.

 

Die etiek van kloning om kinders te verwek

Is dit eties om ʼn mens te kloon? Meeste mense glo dat dit op hierdie stadium oneties is weens die risiko van skade aan die betrokkenes.

Hoekom sou jy ʼn mens wou kloon?

  • Onvrugbaarheid. Paartjies wat beide onvrugbaar is, sou dan ʼn geneties verwante kind kry.
  • Paartjies wat draers is van oorerflike siektes.
  • Kry ʼn kind wat die ideale oorplantingsdonor vir ʼn besondere pasiënt sou wees – ʼn beenmurgskenker vir sy broer/suster met leukemie.
  • Stel ʼn ouer in staat om ʼn lewende verbintenis met ʼn kind of eggenoot wat dood of sterwend is, te behou. Ons praat hier van verplasing van ‘n dooie kind of eggenoot.
  • Laat mense toe om mense met ʼn besondere talent of skoonheid te repliseer. Jy sou graag vir Einstein of Marilyn Monroe wil repliseer!

Mense gebruik argumente soos vryheid van keuse om hierdie ingrype te verdedig. Hiervolgens is onvrugbaarheid ‘n siekte wat ten alle koste genees moet word, want mense het die reg om kinders te hê. Ongelukkig met kloning kry ons soms ‘n begeerte om die dood te vermy – jy bestaan voort in ‘n ander persoon wat identies aan jou is. Die grootste probleem is dat hierdie mense  vryheid, begeertes en beheer van ouers oorbeklemtoon.  Daarenteen gee hulle nie voldoende aandag aan die gekloonde kind nie.

Wat is die saak teen kloning met die doel om voort te plant? Die beginsels van die etiek op menslike navorsing word oortree.  As ons let op die hoë mortaliteit- en morbiditeit-persentasies by ander soogdiere moet ons aanvaar dat menslike kloning onveilig sal wees – en dus oneties. Van hierdie risiko’s mag verdwyn deur verbeteringe van tegniek, maar daar is blywende risiko’s.

Daar is veral vyf kategorieë wat kommer wek:

(1)          Probleme van identiteit en individualiteit. Gekloonde kinders mag ernstige probleme aangaande hulle identiteit ondervind – hulle is dan feitlik identies met ʼn mens wat reeds bestaan of bestaan het. Sal daar nie voortdurend vergelykings tussen die twee getref word nie?

(2)          Probleme met vervaardiging. Hulle is die eerstes wie se volledige genetiese samestelling vooraf geselekteer word. Hulle mag gesien word as produkte van vervaardiging en nie ʼn gawe wat deur die ouers aanvaar word net soos hulle is nie. So ʼn houding mag lei tot kommersialisering van menslike voortplanting.

(3)          Die moontlikheid van ʼn nuwe eugenetika (= rasverbetering). Indien menslike kloning suksesvol gedoen kan word, mag dit lei tot die vermyding van genetiese defekte wat mag gebeur tydens normale voortplanting of dit mag lei tot die voortsetting van uitstaande genetiese eienskappe.

(4)          Vertroebelde familieverhoudings. Die natuurlike grense tussen die geslagte word vaag en word oortree. Dit mag die sosiale band tussen hulle strem. Vaders word nou tweelingbroers van hulle seuns, ens.

(5)          Gevolge vir die samelewing wat hierdie aktiwiteit toelaat of ondersteun. Dit mag die wyse waarop die samelewing na kinders kyk, beïnvloed.

Gevolgtrekking: die gebruik van kloning vir voortplanting is onveilig en moreel onaanvaarbaar en moet dus vermy word.

 

In die volgende artikel bespreek ons die etiek van kloning vir navorsingsdoeleindes.

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber

 

image_pdfimage_print

You may also like...