Meriete teenoor genade

 

Love all, trust a few, do wrong to none. -William Shakespeare

 

Meriete teenoor genade

In die verhaal van die genesing van die offisier se slaaf (Lukas 7:1 – 10) sien ons ’n kontras tussen meriete en geloof. Die Joodse familiehoofde sê dat die offisier dit werd is dat Jesus sy slaaf genees. Die offisier, daarenteen, sê dat hy nie waardig is dat Jesus onder sy dak inkom nie. Die offisier kom nie self na Jesus toe nie, want hy glo dat hy onwaardig is. Hy is ‘n bedelaar vir genade. Hy is soos die tollenaar in die tempel wat nie eers sy oë na die hemel kan oplig nie, want hy beskou homself as onwaardig.

 

Die offisier raak hier ’n teologiese waarheid aan wat op ons almal van toepassing is. Sy hoop berus op die goedheid en krag van Jesus en nie op sy eie goedheid en krag nie. Hy weet hy is onwaardig. Hy hoef nie waardig te wees om Jesus te nader en sy hulp te soek nie. Hy besef ook dat hy hulp nodig het en dat hy hulpeloos is om self iets te doen.

 

Die familiehoofde is verkeerd. Hierdie insident maak dit duidelik dat daar geen onderskeid is nie – almal is onwaardig. Ons kan nie vir God sê: “U skuld my iets nie.” Die boodskap is duidelik: nie-Jode kan kinders van God se volk en erfgename word sonder werke of die besnydenis. Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus (Romeine 3:23 – 24).

 

Genade is nie iets wat ons verdien of kry nie … ons ontvang dit.