Met oop hande
A holy life will produce the deepest impression. Lighthouses blow no horns; they only shine – D. L. Moody
Met oop hande
In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.
Om te bid beteken dat ek my hande voor God moet oopmaak. Dit beteken ek moet die spanning wat my hande toe klem geleidelik losmaak. Gebed is ‘n manier waarop jy stilte in die wêreld kan kry – jy maak jou hande oop vir God se beloftes en kry hoop vir jouself, jou naaste en die wêreld. In gebed ontmoet jy God nie net in die sagte briesie nie, maar ook te midde van die geraas van die wêreld; in die nood en vreugde van jou naaste; in die alleenheid van jou eie hart.
Gebed lei jou om nuwe paaie te sien; gebed gee aan jou die vryheid om die baie tekens wat die pad na die nuwe wêreld aandui, raak te sien. Gebed is nie net ‘n noodsaaklike kompartement in die daaglikse skedule van ‘n Christen of sy ondersteuning in tye van nood nie. Gebed is nie beperk tot Sondae en maaltye nie. Gebed is om te leef – soos om te eet en te drink. Dit is die voortdurende besef dat God is waar ons is; dat hy ons uitnooi om nader te kom en die gawe van die lewe te vier.
‘n Lewe van gebed is ‘n lewe met oop hande waar ons nie skaam is vir ons swakhede nie, maar waar ons besef dat die beter is om deur God gelei te word as om self alles te probeer beheer. Soms mag Hy ons lei na plekke waar ons nie wil wees nie, maar ons aanvaar dit.
Vraag: Vertrou ek volledig dat met God aan my sy sal ek my ware tuiste kry?