Moenie die wêreld liefhê nie
You are to follow no man further than he follows Christ. —John Collins
Moenie die wêreld liefhê nie
Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie (1 Johannes 2:15). Maar hierdie selfde Johannes het vantevore geskryf: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16). Weerspreek Johannes hom? Wat beteken dit as Johannes sê dat ons nie die wêreld moet liefhê nie?
J. D. Greear sê dat dit makliker sal wees om te bepaal wat Johannes nie sê nie. Johannes sê nie ons moet:
- Die geskape orde haat nie
Sommige Christene haat wêreldse plesiere soos lekker kos en gemaklike klere. Hulle sit rond en droom van die hemel. Maar God het die wêreld gemaak en toe Hy klaar was sê Hy dat dit goed was. Jesus was hier op aarde en Hy is daarvan beskuldig dat Hy ‘n vraat en drinker van goeie wyn was. Dit wys vir ons dat Hy geweet het hoe om ‘n goeie maaltyd te geniet. Dit verheerlik God as jy goeie musiek en ‘n snoekie op die kole geniet. Dit is hoekom hierdie dinge gemaak is.
- Die ekonomiese en sosiale strukture van die samelewing haat nie
Daar is Christene wat glo ons moet sekulêre beroepe vermy. Hulle begin “Christelike” tipes besighede en vermaak. Natuurlik is dit goed, maar dit is nie wat 1 Johannes sê nie.
- Die kultuur haat nie
Toe ek jonk was, het hierdie versie beteken geen rock musiek of dans nie – dit is wêrelds. Christene dra dasse, hulle hare is kort. Lang hare was ‘n teken van ‘n sondige hart. Tatoes en ringe deur jou neus of oorringe vir mans wat heeltemal buite die kwessie. Christene moes letterlik anders lyk. Kultuur op sigself is nie wêrelds nie.
- Die mense van die wêreld haat nie
Daar is Christene wat glo dat hulle reg optree as hulle hulle misnoeë met nie-Christene uitspreek. Dan gebruik hulle nogal hierdie versie ter verdediging. Hierdie is beslis nie die gesindheid van iemand wat die evangelie ondervind het nie.
Wat is dit dan wat ons nie moet liefhê nie? As Johannes hier van wêreld praat, praat hy van die wêreld in opstand teen God. Net in die volgende vers definieer hy wat hy bedoel: Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar van die wêreld. Begeer verwys na ‘n drang wat jy nie kan beheer nie. Dit word vir jou ‘n obsessie.
- Begeertes van die sondige mens verwys na gesonde fisiese begeertes wat jy uit hulle konteks haal. So, as voorbeeld, word die begeerte na seks ‘n obsessie – “sonder hierdie begeerte sal ek nooit gelukkig wees nie.” Dit is wêrelds.
- Die begeertes van die oë. Jy sien iets goed in die wêreld wat vir jou so belangrik word dat jy alles daarvoor sal opoffer. Ons sien dit byvoorbeeld met geld. Ons is bereid om skuld aan te gaan om goed te kry wat ons dink ons sal bevredig. Dit is wêrelds en sal ons nooit vervul nie.
- My gesteldheid op besit beteken dat ek iets tot die belangrikste plek in my lewe verhef. Maar as iets anders as God vir jou die belangrikste word, gee jy eer aan minderwaardige dinge.
Wat Johannes sê is dat hierdie dinge ons nie moet verteer nie. As my lewe deur dinge beheer word, is die liefde van God nie in my lewe nie – Hy is verplaas deur iets anders. Kyk net hoe sluit Johannes hierdie brief af: Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af (5:21). In wese is afgodery as ek vir iets liewer is as vir God, as ek op iets meer as op God vertrou, as ek aan iets meer gehoorsaam is as aan God. Dit is die begeertes waarna Johannes hier verwys.