Moses maak ‘n keuse

 

No one has ever become poor by giving. -Anne Frank

 

Moses maak ‘n keuse

Toe Moses al ‘n volwasse man was, het hy op ‘n keer na sy eie mense toe gegaan en gesien dat hulle dwangarbeid verrig. Hy sien toe hoe een van sy eie mense, ‘n Hebreër, deur ‘n Egiptenaar geslaan word. Nadat Moses rondgekyk het en niemand gewaar het nie, het hy die Egipenaar doodgeslaan en hom onder die sand toegekrap (Eksodus 2:11 – 12).

Moses was ‘n prins in die paleis van die farao, maar diep in sy hart was hy steeds ‘n Israeliet. Hy glo in die God van Abraham, Isak en Jakob. Hy sien hoe sy mense as slawe deur die Egiptenare mishandel word. Hy was in ‘n bevoorregte posidie, en kon dit geïgnoreer het.

 

Maar Moses se hart gaan uit na sy mense; Hy wil iets vir hulle doen. Wat hy gedoen het was die verkeerde ding. Maar sy hart was reg. Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê (Hebreërs 11:24 – 25).

 

God se slegste is steeds beter as die wêreld se beste. Wat is die moeilikste ding van Christen wees? Vervolging? Wat is die beste wat die wêreld ons kan bied? Sukses of roem of plesier? Dit is steeds slegter as wat die Christelike lewe vir ons kan bied.

 

Daar is kortstondige genieting in sonde – opwinding. Maar daar is gevolge. Moses besluit om die moeilike pad te loop eerder as om die beste wat Egipte vir hom kon aanbied te aanvaar.