‘n Kwaai preek
Human jealousy is a vice, but to share divine jealousy is a virtue – Murray J. Harris
‘n Kwaai preek
Baie jare gelede het ‘n aantal regeringsamptenare in Den Haag Van Courtonne, die bekende prediker aan die koninklike hof in Parys, uitgenooi om in hulle kapel van die Staatskerk te kom preek. Van Courtonne was van Hollandse afkoms. Hierdie amptenare was nie juis godsdienstig nie. Van Courtonne weier hulle uitnodiging, want hy beskou hulle belangstelling meer sosiaal as geestelik, meer nuuskierigheid as ywer vir die waarheid.
Hulle nooi hom herhaaldelik uit en uiteindelik aanvaar hy hulle uitnodiging. Hy stel egter ‘n voorwaarde: al die staatsamptenare moet teenwoordig wees. Hulle aanvaar sy voorwaarde.
Die bekende Van Courtonne daag daar op en preek oor Filippus en die Etiopiër (Handelinge 8). Hierdie Etiopiër het ‘n hoë pos aan die hof van die koningin van Etiopië beklee – hy was ‘n staatsamptenaar. Sy preek het vier punte gehad:
- ’n Regeringsamptenaar was sy Bybel lees – iets seldsaam.
- ‘n Regeringsamptenaar wat sy onkunde erken – nog meer seldsaam.
- ‘n Regeringsamptenaar wat sy mindere vra om hom te onderrig – baie, baie seldsaam.
- ‘n Regeringsamptenaar wat bekeer word – die seldsaamste van alles.
Von Courtonne het nooit weer ‘n uitnodiging gekry nie. Harde woorde van ‘n sterk man. Daar was egter ‘n voorbeeld hiervan. Paulus was ‘n sterk man. Hy het nou sy perke met sy teenstanders in die gemeente in Korinte bereik. Daarom het hy harde woorde vir hulle in sy sogenaamde “tranebrief”.
Die woord wat ons vandag algemeen in ons gemeentes hoor, is verdraagsaamheid. Natuurlik moet ons baie dinge verdra, maar as mense die evangelie verdraai – die voorspoedsteologie is ‘n goeie voorbeeld – is harde woorde soms nodig. Is dit nie tyd dat die kerk sterk standpunt inneem teen sosiale euwels in ons samelewing nie?