‘n Nuwe Kategismus: Vraag 23
Till men have faith in Christ, their best services are but glorious sins. —Thomas Brooks
‘n Nuwe Kategismus: Vraag 23
Vraag:
Hoekom moet die Verlosser ’n mens wees?
Antwoord:
Dat Hy in sy menslike wese volledig vir ons die hele wet kan gehoorsaam en die straf vir menslike sonde kan dra; ook dat Hy simpatie kan hê met ons swakhede. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]
Skrifgedeelte:
Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen (Hebreërs 2:17).
Kommentaar:
Die Seun van God word ‘n mens om mense in staat te stel om seuns van God te word … Die Tweede Persoon in God, die Seun, word mens omdat Hyself in hierdie wêreld as mens gebore word – ‘n ware mens van ‘n sekere lengte, ‘n spesifieke haarkleur, wat ‘n spesifieke taal praat, en wat soveel kilogram weeg. Die ewige Wese wat alles weet en wat die hele heelal gemaak het, word nie net ‘n mens nie, maar voor dit ‘n baba … Die gevolg is dat ons nou een mens gehad het wat werklik was wat die mens bedoel was om te wees … Omdat die hele probleem vir ons is dat die natuurlike lewe, in ‘n sin, doodgemaak moet word. Hy verkies ‘n bestaan op aarde wat beteken dat sy menslike begeertes moet sterf – armoede, Hy word deur sy familie misverstaan, Hy word deur een van sy intieme vriende verraai; Hy word uitgejou en deur die polisie mishandel; Hy word gemartel tot Hy sterf.
En dan, nadat Hy so sterf – in ‘n sin elke dag doodgemaak word – word die mens in Hom, omdat Hy met die goddelike Seun verenig was, weer lewendig. Die Man in Christus staan weer op: nie alleen die God nie. Dit is die hele punt. Vir die eerste keer sien ons ‘n ware mens wat volledig weer lewend word.
Watter verskil het Hy aan die hele mensdom gemaak? Net dit: dat om seun van God te word, om van die tydelike biologiese lewe na ‘n tydlose geestelike lewe oor te gaan, reeds vir ons gedoen is. Ons kan dit op baie verskillende maniere uitspreek. Jy kan sê dat Christus vir ons sondes gesterf het. Jy kan sê dat die Vader ons vergewe het op grond van wat die Seun vir ons gedoen het – iets wat ons eintlik self moes gedoen het. Jy mag sê dat God die dood oorwin het. Almal is waar.
Hierdie kommentaar is deur C. S. Lewis geskryf. Hy was lektor in Engelse literatuur aan die Universiteit van Oxford en professor van Engels aan die Universiteit van Cambridge. Hy skryf literêre kritiek, kinderliteratuur, fantasieliteratuur, sowel as teologie. Sy bekendste werke is Mere Christianity (waaruit hierdie kommentaar kom), The Srewtape Letters en The Chronicles of Narnia. Hy was ‘n lidmaat van die Anglikaanse Kerk. Sy bekering was deur sy vriend en kollega aan Oxford, J. R. R. Tolkien, beïnvloed
Uit “Mere Christianity” in The Complete C. S. Lewis Signature Classics(New York: Harper Collins, 2002), 145–146.
Verdere Leesstof
“The Incarnation” in A Faith to Live By, deur Donald Macleod.
Gebed
Wie kan my uit die hande van God verlos? Watter maatreëls kan ek tref of wie sal my Verdediging wees? Is daar nie wat genoem word die Redder en magtige Verlosser nie? In sy Naam sal ek hard uitroep; Jesus, die geseënde Jesus. Dit, dit is Hy, die Regter, voor wie ek bewe, maar ook die Verlosser op wie ek vertrou … O Jesus, Jesus, in u wonderlike Naam pleit ek dat U my sal hanteer volgens die belang van hierdie Naam. Want dit is die Naam vol liefde, vol vreugde, vol vertroosting en vertroue vir elke sondaar wat toevlug in u Naam neem. Jesus is die Verlosser. Hoekom het u daardie naam aanvaar? Om te verklaar dat U u kinders van hulle sondes sal verlos. Ek pleit dat U inderdaad my Jesus sal wees: U het my gemaak – moenie die werk van u hande vernietig nie. U het my verlos – moenie dit wat U met u kosbare bloed gekoop het, weggooi nie.
Ek bely dat my tekortkominge baie en ernstig is, maar u goedheid en mag ken geen perke nie. Daarom pleit ek, op grond van u liefde so oorvloedig in die verlede bewys, laat u genade by my wees – oneindig. Onthou Here, dat ek aan U behoort – U, wonderlike Verlosser, wat saam met die Vader en die Heilige Gees aanbid en verheerlik word. Amen.
Hierdie gebed is deur Augustinus (354 – 430), die Biskop van Hippo in Noord-Afrika, geskryf. Hy was ‘n teoloog en filosoof. Beide die Katolieke en Anglikaanse Kerk beskou hom as ‘n heilige. Hy skryf oor sy bekering in sy Confessions, sy bekendste boek. Hy was ‘n produktiewe skrywer en het geskryf in Latyn. Baie van sy werke het behoue gebly – honderde titels. Dit sluit in apologetiese werke, werke oor Christelike leerstellings en kommentare en meer as 350 preke wat behoue gebly het.
Uit Pious Breathings: Being the Meditations of St Augustine, his Treatise of the Love of God, Soliloquies and Manual, vertaal deur Geo. Stanhope (London: J. Nunn & Co., 1818), 311–313.
Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church
We encourage you to use and share this material freely—but please don’t charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.