‘n Sosiaal-aanvaarbare sonde?
“I have yet to find the man, however exalted his station, who did not do better work and put forth a greater effort under a spirit of approval than under a spirit of criticism.” ~Charles Schwab
‘n Sosiaal-aanvaarbare sonde?
Dit is oral in ons gemeenskappe – ook in die kerk, maar omtrent niemand praat daarvan nie. Christene sê graag dat daar nie so iets soos groot en klein sondes is nie. Ons sê dit, maar wat gebeur in die praktyk? Ons weet mos ‘n wit leuen sal nie jou leierskapsposisie in die kerk bedreig nie,
In die praktyk is daar sekere sondes wat vir die gemeenskap en die kerk aanvaarbaar is. As daar een sonde in besonder is wat ons dwarsdeur ons samelewing kry, is dit die voortdurende soeke vir meer – meer as wat genoeg is. Sommige mense noem dit gulsigheid.
As ons praat van gulsigheid dink ons onmiddellik aan kos. In meeste gemeentes kry ons kompulsiewe eters – dit is darem nie belangrik nie. Kyk ons na HAT sien ons dat gulsigheid meer is as wat ons dink: onbeskeie begerigheid; haastige gretigheid na die genot van iets; baie gretig om iets te bekom. Dit is die verslawing aan oormaat. Dit gebeur onder andere as ons begeertes ons behoeftes oorheers – ek het dit nie nodig nie, maar ek wil dit hê. Hoekom wil ek oormatig hê? Omdat ek nie tevrede is nie; ek is nie tevrede met my deel nie en daarom soek ek ‘n groter deel. Die probleem is dat ek nooit genoeg sal hê nie.
Die doderyk en die onderaardse diepte kry nie genoeg aan dooies nie;’n mens se oë kry nie genoeg van begeer nie (Spreuke 27:20). Sjoe – dit is kwaai. Ons is altyd aan die soek vir iets beter of meer; ons word net nie versadig nie.
Die begeerte na meer is nie inherent sleg nie – dit is dikwels net verkeerd gerig. Het ons ‘n onversadigbare begeerte na God? Sy genade? Daar is net een Bron wat ons bodemlose begeertes kan bevredig. Smaak en sien dat die Here goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil (Psalm 34:9 – OAV).