Nederigheid en vernedering
“The gospel overturns everything sin does.” D.A. Carson
Nederigheid en vernedering
Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Filippense 2:3)
Paulus sê dat nederigheid ‘n deug is. Dit was ‘n radikale stelling in die Romeinse kultuur van destyds. Die Romeine het feitlik geen verskil tussen nederigheid en vernedering gemaak nie – albei dui op ‘n verlaging van die status van ‘n persoon. Paulus se oproep op nederigheid in die kultuur van destyds was onbekend – geen Romein met enige selfrespek sou nederigheid as ‘n deug gesien het nie. Dade moet gedoen word daar waar mense dit kan sien en jou kan prys. Jou selfwaarde word bepaal deur wat die mense van jou dink en sê. In die Joodse gemeenskap speel nederigheid ‘n meer positiewe rol, maar nie naasteby soos in die Christelike geloof nie. Kyk maar na die verbasing toe Jesus ‘n kindjie as model gebruik (Matteus 18:1 – 5).
Vandag word nederigheid meestal positief beoordeel. Die vraag is egter wat presies ons met nederigheid bedoel Paulus beskryf dit soos volg:Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander (2:4). Nederigheid beteken dus gehoorsaamheid aan die wil van God. ‘n Trotse gesindheid beteken dat ek nie voor God se wil kan buig nie. Net in nederigheid kan ek God se wil sien en my behoefte aan God se krag besef. Paulus glo dat om God se wil te doen ek krag by die inwonende Heilige Gees moet kry.