Obed-Edom

 

“Working hard for something we don’t care about is called stress; working hard for something we love is called passion.” -Simon Sinek

 

Obed-Edom

In die Bybel lees ons van ‘n verskeidenheid mense wie se lewe God se mense verteenwoordig. Dink aan Ragab, die prostituut, wat die Here vertrou het en gered is.  Dink aan Mefiboset wat kreupel was en tog genooi is om elke dag aan die koning se tafel te eet. Dink aan Gomer, die gewoonte owerspelige vrou, wie se man haar uit slawerny teruggebring het.

 

En dan is daar Obed-Edom. Min van ons weet iets van hierdie Ou Testamentiese persoon. Sy naam is ‘n samevoeging van twee name.  Obed was Dawid se oupa; Edom was Esau se bynaam. Hy wys vir ons wat met ons deur Jesus gebeur.  Ons lees van hom in 2 Samuel 6. Dit is net na een van die verbasendste stories in die Bybel. Ussa, die Leviet, het pas gesterf omdat hy aan die ark geraak het. Dawid was diep ontsteld.  Hy word bang vir die Here en vra: Hoe kan die ark van die Here nou na my toe kom?  Hy laat die ark vir drie maande in die huis van Obed-Edom. Die Here het hom en sy hele gesin voorspoedig gemaak.

 

Obed-Edom was ‘n Gittiet van Gat afkomstig – nie Israel nie. Hy is dus ‘n Filistyn, ‘n nasie wat vir geslagte lank ‘n doring in die vlees van Israel was. Hy, ‘n Filistyn, dien as gasheer vir die woonplek van Israel se God – die ark. Hy het God se teenwoordigheid in sy voorkamer. Sy huis word in wese ‘n tempel. Oorvloedige seën volg.

 

In Christus is dit ook wat met ons gebeur. Ons is buitestanders, vyande van God. Maar ons het die wonderlike vooreg om as gasheer vir Israel se God op te tree. Ons het as ‘t ware sy teenwoordigheid in ons voorkamers. Ons is sy tempel. Elke geestelike seëning is ons s’n. Ons is Obed-Edom.

 

Dawid hoor dat God vir Obed-Edom geseën het. Dawid gaan toe terug om die ark van die Here te gaan haal en na Jerusalem te bring. God se guns teenoor ‘n heiden lei daartoe dat Israel, die regmatige tuiste van die ark, gehoorsaam is.

 

Dit is wat met Israel gebeur deur die heidene. As hulle sien dat God die heidene seën, word hulle jaloers en keer na Hom terug. As die teenwoordigheid van God na sy stad terugkeer, sal die feesvreugde selfs dié van Dawid oortref.

 

Daar is iets meer aan Obed-Edom se storie. Na die ark na Jerusalem geneem is, het Obed-Edom nie afskeid geneem van God se teenwoordigheid nie. Hy gaan saam met die ark na Jerusalem. Daar tree hy op as poortwagter vir die ark (1 Kronieke 16:37 – 38). Hy en sy familie word soos Leviete behandel. Hulle word by Israel ingesluit en kan  God aanbid – saam met Dawid en Asaf.