Ondervraging deur die bure (9:8-12)
Ondervraging deur die bure (9:8-12) – Francois Malan
9:8-9 Nadat die blindgeborene kon sien, gaan hy terug na sy huis en omgewing, waar die mense hom as ‘n bedelaar geken het. Destyds kon ‘n blinde nie anders bly lewe as om te bedel nie. Sy bure kan moeilik glo dat die man dieselfde is as hulle bejammerenswaardige bedelaar. Sy gesigsuitdrukking en optrede is so anders as die blinde s’n dat party dink dit is ‘n siende man wat tot ‘n mate na die blinde lyk. Hulle verwarring en onsekerheid oor sy identiteit getuig van die grootheid van die wonder wat plaasgevind het. Die blinde maak self ‘n einde aan hulle verwarring.
9:10-11 Die kennisse se nuuskierigheid om te weet hoe die ongehoorde ding gebeur het, is ‘n verdere getuienis oor die wonder wat geskied het. Hy verwys na Jesus as ‘die man wat Jesus genoem word’ – hy ken Jesus se naam, maar weet nie veel meer van hom nie, behalwe wat Jesus vir hom gesê het om te doen, ‘en ek kon sien nadat ek gegaan en gewas het.’ Die geneesde bedelaar word ‘n teken dat iets aan die gang is wat nie van hierdie wêreld is nie, deur die optrede van die man Jesus. Met sy vertelling van wat met hom gebeur het plaas die geneesde man vir Jesus in die middel van die hele verhaal – al is Jesus self nie teenwoordig nie, is Hy so teenwoordig soos Hý alleen maar kan wees.
9:12 Die bure wil weet waar Jesus nou is, maar die blindgeborene weet nie. Trouens, hy het die Lig vir die wêreld (9:5) nog nie met ‘n oog gesien nie, maar het slegs gereageer op die woorde van die man Jesus wat hom in die verbygang raakgesien het (9:1). Nadat hy kon sien gaan hy nie sy Geneser soek nie, maar gaan huis toe. Die bure deel nie in die man se vreugde nie, maar wil nuuskierig die wonderwerker self sien.
Ondervraging deur die Fariseërs (9:13-17)
9:13 Die mense neem die man na die Fariseërs toe, die godsdienstige leiers van die volk, wat altyd die wet van God vir hulle uitlê, en iets behoort te verstaan van die ongehoorde genesing wat slegs deur God gedoen kon gewees het. Die Fariseërs aanvaar ook die Profete-boeke as woord van God, en Jesaja het reeds voorspel dat die blindes weer sal kan sien (Jes 29:18). Dat blindes weer sien, is ‘n teken dat God hier is (Jes.35:4-5), sy Dienaar sal blindes laat sien (Jes. 42:7). Die Messias wat die Jode verwag, het gekom!
9:14-16 Nadat hulle gehoor het dat Jesus die man genees het, ondervra die Fariseërs die man presies hoe hy sy sig verkry het. Die wonderwerk het op die Sabbat geskied, en dit nogal deurdat Jesus klei gemaak het met sy spoeg, wat volgens die Fariseërs ‘n werk was, en die wet van God sê uitdruklik: op die Sabbat mag jy geen werk doen nie. In 5:8-10 het Jesus net ‘n opdrag gegee dat die lam man sy bed moes dra op die Sabbat. Hier het Jesus self gewerk op die Sabbat. Daarom is party van die Fariseërs, wat net teen hulle eie interpretasie van die wet vaskyk, oortuig dat ‘hierdie man’ (neerhalend) nie van God af kan kom nie. Die starre Sabbatsleer van die bewaarders van die wet spreek teen die goddelike sending van Jesus en die grootheid van die wonder. Ander Fariseërs, wat die wonder raaksien, sê: hoe kan ‘n sondige man sulke wondertekens doen? Hoewel hulle begin glo dat Jesus wel van God af kom, hoor ons nie weer van hulle nie (vgl. egter Nikodemus in 3:1,2; 19:39,40; en Gamaliël, Hand.5:34-39; en latere Christene, Hand.15:5). Daar kom toe ook verdeeldheid in die geledere van die Fariseërs, soos onder die mense wat Jesus begin volg het (6:66-69); tussen die feesmenigte (7:12-13, 40-44), die inwoners van Jerusalem (7:30-31), en die Jode (10:19). Die verdeeldheid loop uit op die oordeel oor die wêreld (12:31-32).
9:17 In die verleentheid oor hulle verdeeldheid doen die Fariseërs iets wat hulle andersins nooit sou doen nie: hulle vra ‘n gewone man, trouens ‘n bedelaar, om sy mening oor ‘n saak van Skrifuitleg en teologie. ‘wat sê jý van Hom?’ Hy het Jesus mos persoonlik ontmoet en self die genesing ondervind. Soos die Samaritaanse vrou (4:19) dink hy dat Jesus ‘n profeet is (iemand wat die woord van God aan die volk oordra). By nadenke oor sy genesing is Jesus meer as net ‘die man wat Jesus genoem word’ (v11). Nie elke profeet in Israel se geskiedenis het wonders gedoen nie, en nie alle wonderwerkers was profete nie. Maar alle Jode het onthou dat Moses die grootste profeet van alle tye was, met wie God self gepraat het en wonders deur hom gedoen het, in Egipte en tydens die woestynreis. Wat God deur Moses gedoen het, was vir Israel die grootste van alle wonders (Deutr.34:10-12).
In Deutr. 18:15,18 het die Here beloof dat Hy ‘n profeet sal stuur, soos Moses. Dit het ‘n verwagting in Israel laat leef dat die profeet van die eindtyd, die Messias (Gesalfde) waarna hulle uitsien, óf soos Moses sal wees, óf Moses self sal wees. Die blindgeborene het nog nie daarby uitgekom nie, maar was op pad om Hom as Messias te erken. Dit vererger die verleentheid van die Fariseërs
Skrywer: Prof Francois Malan