Onlangse brande in die Kaap – Francois Malan

Jan vra:

11Kron 7: 13 en 14 sê: As ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hulle weë, dan sal ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.

Op 22 April 2017 het bykans ‘n miljoen mense op ‘n plaas naby Bloemfontein byeen gekom om vir alles wat in die land verkeerd is, te bid. Daar is etlike getuienisse van dit wat daar gebeur het. En mens moet aanvaar dat die persone wat met die byeenkoms gemoeid was dit met integriteit gedoen het en met ‘n ware begeerte dat die Here sal hoor en antwoord. Uiteraard was die spotters ook by.

Sedertdien het daar ‘n tipe geweld losgebars erger as tevore. Mense word koelbloedig doodgeskiet, verkrag, beroof en besteel. Daarmee saam het die verwoestende brande in die Kaapprovinsie voorgekom – mense het gesterf en by dit het die skiereiland die moeder van alle storms beleef.

Een prediker het die opmerking gemaak dat die satan die storm op die meer van Galilea veroorsaak het toe Jesus op die bank aan die slaap was en Sy dissipels gevrees het vir hulle lewe. Insgelyks het ‘n persoon wat in die brande erg beseer is opgemerk dat die brande demonies van aard was.

Die beginsel in 11 Kor 7: 13 en 14 lê klem op verootmoediging, gebed en bekering dan sal die Here hoor.

Ek verstaan nie hierdie gebeure nie?

 

Antwoord

Prof Francis Malan antwoord:

Enkele opmerkings oor die vraag: ten eerste is die laaste teksverwysing seker ’n tikfout deur Kronieke met Korintiërs te vervang.

Tweedens haal die vraesteller enkele verse uit 2 Kronieke 7 aan, sonder die waarskuwing van die Here daarna. Dit gaan oor die Here se belofte aan Salomo by die inwyding van die tempel wat Salomo gebou het as die plek waar die Here aanbid sal word.

In verse  17-18 belowe die Here verder dat as Salomo in die voetspore van sy vader Dawid loop deur te lewe volgens die wil van die Here, alles doen wat Hy beveel en sy voorskrifte en bepalings nakom, sal die Here Salomo se  heerskappy bevestig.

In verse 19-20 waarsku die Here egter: Maar as julle wegdraai en my voorskrifte en my gebooie, wat Ek julle gegee het, verontagsaam, en julle gaan dien ander gode en buig voor hulle, sal Ek julle wegdryf uit my land wat Ek aan julle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal daarvan ’n spot en ’n skimp maak onder al die volke.

In verse 20-21 sê die Here: elke verbyganger sal sê: Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel? En die mense sal sê: Omdat daardie volk vergeet het van die Here die God van hulle voorvaders, wat hulle uit Egipte gebring het. Hulle het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het Hy al hierdie groot rampe oor sy volk gebring.

Die gebedsbyeenkoms in Bloemfontein is nie ’n towerstaf wat alles eensklaps in Suid-Afrika regmaak nie, maar is die verootmoediging en gebede van ’n groep ernstige gelowiges wat die Here vra om die lewe van die bevolking in Suid-Afrika in sy oë reg te maak, sodat ons ons afgode van ’n gejaag na rykdom en eer sal prysgee, en die Here en ons medemense in Suid-Afrika in nederigheid en uit liefde sal begin dien.

In 1 Petrus 1:3-9 loof Petrus vir God, die Vader van Jesus Christus dat Hy ons uit sy groot ontferming, die nuwe lewe geskenk het deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike (selfs nie deur vuur nie), onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word. En omdat ons glo, word ons deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande besproewings (die Griekse woord vir ‘allerhande,’ poikilos, veelkleurig soos ’n lappieskombers – wys op die verskeidenheid van beproewings wat die gelowige se geloof in en vertroue op die Here toets), sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Al het ons Hom nie gesien nie, het ons Hom lief. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap!

Abraham moes die berg Moria opklim om sy seun Isak te gaan offer as toets vir sy geloof (Genesis 22); Josef moes vir 20 jaar slaaf word en in die tronk gegooi word om sy hele gesin en die Egiptenare te red van ’n dodelike hongersnood (Genesis 50:20); die ryk en vrome Job het in die bakkende son op ’n ashoop sy swere met potskerwe gekrap (Job 2:7-8); Die Here se gesalfde koning Dawid moes in ’n grot gaan wegkruip vir sy lewe (1 Samuel 24:4); Elia het nadat hy gebid het en die Here na drie jaar reën gegee het, vir Isebel gevlug en moedeloos onder ’n besembos in die woestyn gaan sit (1 Konings 19:3-4). Al hierdie geloofshelde het krisisoomblikke beleef toe hulle swaar beproef was met die versoeking om te oordeel dat God nie omgee nie, of kragteloos is, of selfs teen hulle is. Aan die einde het hulle almal die geloofspad gevolg en word as geloofshelde onthou. Ander, soos Kain, Simson, Salomo en Judas het die geloofstoets gedop, en wek by ’n mens ’n gevoel van droefheid en jammerte oor wat tog kon gewees het. Selfs die moord van sy Seun het nie God se barmhartigheid oor die mensdom beëindig nie. Deur die wonderkrag van God se reddingswerk het daardie skurkagtige misdaad die dag geword wat ons Goeie Vrydag noem. In Johannes 12:32-33 verwys Jesus na sy kruisiging met: As Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.

Skrywer:  Prof Francois Malan