Ons is geroep om dissipels te maak en nie bekeerlinge nie

The law is a hammer that breaks proud and obstinate hypocrites (Martin Luther.)

Ons is geroep om dissipels te maak en nie bekeerlinge nie

Het die verbruikerskultuur die manier waarop ons die evangelie verkondig, verander? Ons deel die evangelie met ander, maar dit is nie altyd dieselfde evangelie wat Jesus verkondig het nie. Die boodskap is dikwels afgewater. Ons laat sekere “radikale” dele uit, want ons is bang ons skrik mense af. Ons water die evangelie af om ons kultuur te weerspieël. Ons verminder die verwagtings: Jy hoef niks anders te doen nie, jy moet net glo. Geen wonder mense los die evangelie as dinge moeilik word nie.

 

“When Christ calls a man, he bids him come and die.” (Dietrich Bonhoeffer) Daarvan hoor ons niks meer nie. Ons leef in ‘n verbruikerskultuur en daarom moet ons nie verbaas wees as mense hierdie selfde gesindhede in die kerk bring nie: my manier van doen, my voorkeure, my begeertes is belangrik. Kry ek dit nie, gaan ek my heil elders soek. Ons het die evangelie wat alles oor Christus gaan, geneem en nou gaan dit alles oor ons. Jesus is deel van ons lewe – nie ons hele lewe nie.  Ons almal plaas dinge hoër as Jesus – geld, gesondheid, gemak, belangstellings, stokperdjies. Ons kom na Hom met verwagtings oor wat Hy vir ons sal doen.

 

Baie mense glo dat dit voldoende is om te glo en dan op die kantlyn te staan en vir Hom te skreeu. Jesus soek nie koorleiers nie, maar mense wat bereid is om Hom volg – maak nie saak wat dit kos nie. Jesus soek nie bekeerlinge nie, maar dissipels.

 

Bekeerlinge is nuwe gelowiges. Dit is waar almal van ons begin. Ongelukkig is dit ook dikwels waar ons stop. Bekeerlinge is nie verkeerd nie – hulle is soos babas, behalwe dat hulle nie groei en verander nie. Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek ‘n man is, is ek klaar met die dinge van ‘n kind (1 Korintiërs 13:11).

 

Vir jare het die kerk beklemtoon dat jy mense so ver moet kry om ‘n besluit vir Christus te neem. Dit is belangrik, maar wat gebeur dan? Waar is die opvolg? Die dissipel is nie alleen toegewy om vir Christus te sterf nie, maar hy leef elke dag vir Hom.

 

Wat is die verskil?

  • Bekeerlinge is gelowiges wat soos die wêreld leef; dissipels leef soos Jesus.
  • Beheerlinge fokus op hulle waardes, belangstellings, vrese, bekommernisse en prioriteite; dissipels fokus op Jesus.
  • Bekeerlinge gaan kerk toe; dissipels is die kerk.
  • Bekeerlinge moedig van die kantlyn aan; dissipels neem aan die wedstryd deel.
  • Bekeerlinge hoor die woord van God; dissipels leef dit.
  • Bekeerlinge volg die reëls; dissipels volg vir Jesus.
  • Bekeerlinge gaan oor glo; disispels gaan oor wees.
  • Bekeerlinge is gemaklik; dissipels maak opofferings.
  • Bekeerlinge praat; dissipels maak meer dissipels.

 

‘n Dissipel volg die lewe en voorbeeld van Jesus – hulle maak sy waardes hulle waardes, sy roeping hulle roeping. Hulle is toegewy aan sy saak en is bereid om daarvoor swaar te kry. ‘n Dissipels se identiteit, doel en betekenis kry hy in Jesus Christus – Hy is die middelpunt van hulle lewens. Dissipels is nie alleen bereid om vir Christus te sterf nie, maar om elke dag vir Hom te lewe.