Ons Vader wat in die hemel is
While anger lasts, let every thing that comes to the mind be looked upon with suspicion. – Huldrych Zwingli
Ons Vader wat in die hemel is
Meeste van ons gebede begin met Vader. Ons is so geneig om hierdie titel van God sommer net te aanvaar. Ons dink nooit na oor die betekenis daarvan nie; ons besef nie hoe radikaal dit is om na God as Vader te verwys nie. Joachim Jeremias bevind dat in al Jesus se gebede met net een uitsondering spreek Hy Jesus as Vader aan. Dit lok baie weerstand by sy teenstanders uit. Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak: Hy het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem en Hom so met God gelyk gestel (Johannes 5:18).
‘n Baie belangrike leerstelling in die Nuwe Testament is dié van aanneming. God is nie ons natuurlike Vader nie, maar in Christus word ons in die familie van God aangeneem. In hierdie gebed sê Jesus dat nie net Hy die reg het om Jesus as Vader aan te spreek nie, maar sy volgelinge het dieselfde voorreg op grond van hulle aanneming. Elke keer as ons sê ons Vader moet dit ons aan ons aanneming herinner – dat ons in ‘n intieme verhouding met God geplaas is. Dit is iets wat ons nie van nature gehad het nie. Dit is Jesus wat sy erfenis met ons deel.
In die 19de eeu word die analogie van die berg ontwikkel. God sit op die kruin van ‘n hoë berg en daar is baie paadjies wat na die kruin gaan. Party gaan reguit na die kruin terwyl ander kronkel. Die basiese idee is dat dit nie eintlik belangrik is watter pad jy volg nie, want almal kom uiteindelik by die kruin uit. Jy kan dus die pad van Christus of Mohammed of Boeddha loop – dit maak nie saak nie. Almal is net verskillende paaie na dieselfde plek.
Dit is nie waar nie. As die Bybel van God as Vader praat, gaan dit nie net oor die skepping nie, maar spesifiek oor verlossing. Die vaderskap van God is dus eksklusief en beperk. God is die Vader van Jesus op ‘n unieke wyse, maar die Vaderskap van God word uitgebrei na dié wat aangeneem is as deel van sy uitgebreide familie. Hulle is aangeneem omdat hulle in Christus is. Voortspruitend hieruit is daar die gemeenskap wat almal wat deel van die familie is, ondervind – gelowiges is dus broers en susters van mekaar. Weereens is ons nie natuurlik deel van hierdie gemeenskap nie – ons moet weergebore word om deel daarvan te word.
Nie alle mense is my broers/susters nie – net diegene wat in Christus is. Wat die Bybel wel beklemtoon, is dat alle mense my naaste is en God verwag van my om hulle te hanteer soos ek verwag hulle moet my hanteer. Ek moet my naaste liefhê soos ek myself liefhet. My naaste word nie tot my broers/susters beperk nie. Lees net weer die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Jesus het hierdie gelykenis vertel nadat ‘n wetgeleerde Hom ‘n vraag gevra het: En wie is my naaste? (Lukas 10:29).
Met hierdie as agtergrond kan ons nou by die ses versoeke in hierdie gebed kom.
[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]