Ons word oud
“The Dogmatic Theologian who does not find that his work drives him to pray frequently and urgently from his heart: ‘God be merciful to me a sinner,’ is scarcely fit for his job.” – Emil Brunner
Ons word oud
J. I. Packer het onlangs ‘n kort boekie oor oud word geskryf: Finishing our Course with Joy. Ek gaan ‘n hele aantal blogs oor oud word skryf en van hierdie boek gebruik maak
Kan ou mense nog vir God verheerlik? Dit hang af van hoe ons ouderdom beskou. Algemeen word aanvaar dat ouderdom ‘n proses van verlies is: krag van beide liggaam en denke word verminder; die vermoë om vorentoe te beweeg, word drasties ingeperk. Meer as vier eeue gelede het Shakespeare in As You Like It die sewe tydperke van die mens se lewe beskryf. Hy eindig met:
Last scene of all
That ends the strange eventful history
In second childishness and mere oblivion;
Sans teeth, sans eyes, sans taste, sans everything.
Ons het eeue vantevore ‘n soortgelyke beeld by die Prediker gekry (12:1 – 5). Hierdie beeld van verlies, swakheid en apatie wat tot die dood lei, is Prediker se storie van ouderdom.
Maar nie in die Bybel en nie in die lewe is dit die volle verhaal nie. In King Lear skryf Shakespeare van ‘n seun wat onterf is, maar weier om hom aan bitterheid oor te gee:
Men must endure
Their going hence, even as their coming hither;
Ripeness is all.
Rypheid? Wat beteken dit? Die woord dra die positiewe betekenis van volwassenheid. Ons ken tog almal die verskil tussen vrugte wat ryp is en vrugte wat nog nie ryp is nie. Vrugte wat nie ryp is nie, is skerp, suur, hard, sonder veel geur en laat jou tande stomp voel. Ryp vrugte is sag, soet, sappig, geurig en laat ‘n aangename nasmaak in jou mond agter.
In mense tydens of na hulle middeljare kry ons ‘n soortgelyke verandering. Sommige ou mense word grasieus oud – vasgevang in die greep van God se genade. Hulle verstaan oud word en het ‘n goedgevormde karakter: ferm, vasberade en met baie hulpbronne om vir ander as mentor te dien. Die Bybel sê dat geestelike rypheid veel meer werd is as materiële rykdom. Die Bybel sê ook dat geestelike rypheid behoort toe te neem namate ‘n mens ouer word.
Die Bybel se siening is dat veroudering onder God en deur genade wysheid sal bring. Dit beteken ‘n groter vermoë om te onderskei en te bemoedig. In Spreuke 1 – 7 is ‘n oënskynlik ouerige vader besig om realistiese morele en geestelike wysheid aan sy volwasse (in ouderdom) seun maar onvolwasse (in karakter) seun te leer. In Psalm 71 bid ‘n ouer prediker wat die beste jare van sy lewe gegee het aan die onderrig van die waarheid oor God ten spyte van sterk teenkanting:
Want U, Here, het ek van jongs af vertrou … Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie, moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het … Ek, sal gedurigdeur bly hoop, ek sal U altyd weer loof. Sonder ophou sal ek van u verlossingswerk, van u reddingsdade bly praat, want hulle is meer as wat ek kan tel. Ek kom om u magtige dade te prys, Here my God, die verlossingswerk wat net U kan doen. U het my van jongs af onderrig, o God, en ek getuig nou nog van u kragtige dade. Nou dat ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen laat nie, o God, dat ek nog aan die geslagte wat kom, kan vertel van u werk en u mag (verse 5, 9, 14 – 18).
Psalm 92:13 en 15 verklaar:
Die regverdiges sal sterk wees soos soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon … Selfs in hulle hoë ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees.
In die volgende blog gaan ons kyk na wat die Bybel oor hierdie laaste rondte sê.