Ontmoetings met Jesus: Die lid van die binnekring en die uitgeworpene (4)

image_pdfimage_print

Compassion, in which all ethics must take root, can only attain its full breadth and depth if it embraces all living creatures and does not limit itself to mankind. -Albert Schweitzer, filosoof, geneesheer, musikus en Nobel pryswenner (1875-1965)

Ontmoetings met Jesus: Die lid van die binnekring en die uitgeworpene  (4)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se ontmoetings met Nikodemus en die Samaritaanse vrou. Die vraag wat ons uit hierdie twee ontmoetings gaan antwoord, is: Wat is verkeerd met die wêreld soos dit tans is?

Nikodemus is ‘n belangrike man: hy is godsdienstig, hy is ‘n Fariseër en hy is ‘n leier – ‘n lid van die Joodse Raad. Hy is amper die direk teenoorgestelde van die Samaritaanse vrou. Teenoor die vrou begin Jesus stadig. Hy konfronteer haar nie sommer onmiddellik met haar geestelike behoefte nie. Met Nikodemus is Jesus meer direk.

 

Hy spreek Jesus eerbiedig aan as RABBI. Hy sê dat hy baie goeie dinge van Jesus gehoor het. Maar Jesus konfronteer hom onmiddellik: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodemus is verbaas. Hy aanbid God immers volgens die streng Joodse tradisie; hy is suksesvol, gedissiplineerd, godsdienstig. Jesus hanteer sy selftevredenheid. Jesus sê: “Kyk jy het niks met jou geboorte te doen gehad nie. So is dit met hierdie nuwe geboorte wat jy nodig het. Verlossing is deur genade en jy speel geen rol daarin nie.” Almal is in dieselfde posisie; almal doen sonde; almal is verlore; almal moet voor begin.

Hoe kan Jesus so iets sê? Want Hy werk op ‘n dieper verstaan van sonde as mense. Die vrou – meeste mense sal verstaan as Jesus haar as ‘n sondaar sien – maar Nikodemus?  Hoe kan Jesus sê dat hy eintlik niks gedoen het om sy plek in die hemel te verdien nie? Die probleem is dat ons onsself in God se plek stel en ons eie verlosser word. Om myself in God se plek te stel, is die Bybelse definisie van sonde. Nou tree ons op asof ons goeie lewe en prestasies vereis dat God ons seën en ons gebede beantwoord soos jy dit wil hê. Ons sê dat ons God vertrou, maar wil darem ons eie bydrae ook lewer vir ons verlossing.

Volgende keer gaan ons Jesus se ontmoetings met Nikodemus en die Samaritaanse vrou saamvat.

image_pdfimage_print

You may also like...