Oordeel: waar ons fouteer

No soldiers of Christ are ever lost, missing or left dead on the battlefield. —J.C. Ryle

Oordeel: waar ons fouteer

Die waarheid maak seer. Dit is iets wat ons nogal dikwels hoor. Is dit waar? Die waarheid mag seermaak vir ‘n beperkte tyd, maar uiteindelik genees die waarheid. ‘n Deel van die lewe van ‘n Christen is om die waarheid van sy tekortkominge te hoor, sodat hy dit kan hanteer. As ons meer en meer soos Jesus wil wees, is dit noodsaaklik. Maar ons is weerstandig hierteen.

Een van die wonderlike aspekte van die geloofsgemeenskap is wanneer ander ingeroep word om ons te help met hierdie vorming. Dit is egter ook iets wat baie maklik misbruik kan word.

 

Oordeel. Hierdie is ‘n woord wat dikwels misverstaan word. Mense voel feitlik onmiddellik ongemaklik en wil net verdedig as hulle hierdie woord hoor. Tog as ons die Bybelse betekenis van die woord aanvaar, bring dit eenheid en heiligheid in die kerk.

Ons hou daarvan om ander te oordeel – dikwels op verkeerde maniere – maar ons haat dit as ander ons oordeel. As dit egter op die regte manier gedoen word, is dit ‘n noodsaaklike deel van die proses om meer soos Christus te word. As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is (Matteus 18:5). Dit is nie alleen my plig om my broers en susters wat verkeerd optree, tereg te wys nie, ek moet ook my broers en susters wat my kom teregwys oor iets wat ek verkeerd gedoen het, ontvang en na hulle luister.

Hierdie is ‘n verskriklike gedagte. Ons bou baie vinnig skanse om ons as dit gebeur. Hoekom is dit so verskriklik? Daar is baie verhale waar broers en susters hierdie opdrag teenoor ander broers en susters misbruik het. Let wel: Christene teenoor Christene.

Een van die bekommernisse is wie ek moet nader – wie moet ek teregwys. Kan ek dit doen teenoor iemand met wie ek geen persoonlike verhouding het nie? Nee, ek moet mense wat saam met my deel van die liggaam van Christus is, teregwys. Verhoudings is die konteks waarbinne teregwysing moet geskied.

Hier is twee belangrike vrae waarna ons moet kyk:

  • Wat is die Christen se rol in die teregwysing van ander Christene? Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie (Matteus 7:1). Maklik. Maar in vers 20 sê Jesus dat ons vals profete aan hulle vrugte sal ken. Dit beteken ons sal na ander kyk en sien wat hulle is. Is dit nie ‘n teenstelling nie? Jesus is bekommerd oor die hart en nie soos ons net oor die optrede van mense nie. Christene moet ander Christene teregwys as hulle ‘n verhouding met mekaar het en as die doel is om te herstel en nie te veroordeel nie.
  • Wat is ‘n Christen se reaksie as hy deur ander tereggewys word? Niemand wil hoor dat wat hy doen, verkeerd is nie. Ons sien dit as vernederend en ons word kwaad. Net so dikwels as teregwysing misbruik word, net so dikwels word dit vermy. Kyk weer na Matteus 18:15: As hy na jou luister … Luister is die kernwoord. Moenie onmiddellik begin verdedig as iemand jou teregwys nie … luister. Dit vereis moed om iemand te konfronteer. Baie doen dit met goeie bedoelings. Ons moet luister en nadink oor wat gesê word as ons tereggewys word. Onthou altyd: ek mag verkeerd wees.

Die belangrikste eienskap as ons ander teregwys of self tereggewys word, is nederigheid.