Oorlog – Jan van der Watt

Pieter vra:

Is oorlog tussen lande sonde?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

In die Nuwe Testament word passifisme sterk voorgestaan. Neem byvoorbeeld Openbaring: daar word nêrens gesê dat gelowiges wapens moet opneem as hulle vervolg word nie. Hulle enigste wapen is die Woord en die verkondiging daarvan (vgl. hf. 11). God sal verder sorg vir geregtigheid en oordeel en sal vir sy volk sorg (hf. 12 – nie een van hulle sal skade aangedoen word nie – hf. 14:1-3) – Jesus is immers altyd by sy gemeentes (hf. 2-3).

Jesus self neem nooit ’n wapen op om die Romeine omver te werp nie. As Petrus Malgus se oor afkap om Jesus te probeer beskerm, dat berispe Jesus hom en maak Malgus gesond. Ons lees ook nie van Paulus of Petrus wat geweld aanstig of oproep tot oorlog nie.

Dit is die een kant van die saak. Die ander kant is dat party meen dat Jesus self blykbaar geweld gebruik as Hy die handelaars met hulle diere met ’n swepie uit die tempel uitjaag (vgl. Joh 2:15). Sommige verklaarders meen egter dat die swepie nie vir die mense bedoel was nie, maar vir die diere, wat beteken dat Jesus nie so gewelddadig teenoor die mense was nie. Dit lyk moontlik omdat die Joodse ‘polisie’ Hom glad  nie keer nie. Die ander gedeeltes waarna mense wys om geweld te regverdig is dat Jesus sê Hy het nie vrede gebring nie, maar geweld en die swaard. Pa’s sal seuns oorgee om doodgemaak te word, en omgekeerd, ma’s hulle dogters ens. (vgl. Mat 10:27-36). Die gedeeltes verwys egter na ongelowige familielede wat gelowiges gaan vervolg en verwerp en nie omgekeerd nie. Gelowiges moet getrou bly aan Jesus te midde van sulke gedrag van die kant van die ongelowiges. 

Nou is daar verwysings na oorloë op plekke in die Nuwe Testament waar daar van die einde van die tyd gepraat word (bv. Mat 24:6; Mk 13:7-8). Dit sal tekens wees dat die einde van die tyd oppad is, hoewel dit nog nie die einde is nie. Dit is egter duidelik dat die oorloë nie die Christene is wat oorlog maak nie, maar dat dit tekens is van die bose wat net voor die laaste oordeel verwoed gaan losbars. Daarom word daar gesê dat die oorloë daar moet wees – eintlik was oorloë nog altyd daar omdat die wêreld nog altyd aan boosheid blootgestel is.

In die Ou Testament word daar baie van oorloë en gevegte gepraat. God beveel selfs sy volk om oorlog te maak teen volke wat teen God is. Met die koms van Jesus het die Vredevors egter gekom en sy volgelinge kom leer om in vrede en liefde met mekaar saam te leef. Hulle moet nie onder mekaar baklei nie (bv. Kol 3:12-17) en moet dus ook nie oorlog onder mekaar maak nie. Dit sou teen God se wil (en dus sonde) wees. As ongelowiges oorlog maak is dit onder andere ’n teken van hulle ongelowigheid en strewe om te heers en hulle mag te laat geld.

Nou moet genoem word dat teoloë deur die eeue in die kerk baie oor hierdie saak gedebateer het en die opinies het in alle rigtings gegaan. ’n Sterk siening is dat oorlog nie goed is nie, maar as ’n mens se lewe of besittings bedreig word, mag jy dit verdedig. Selfverdediging of om die slegte te beveg is dus volgens hierdie teoloë geregverdig. Jesus se dissipels dra wel twee swaarde, maar dit is vir selfverdediging en nie om met ander ‘oorlog te maak’ nie (Luk 22:38).

Om dus saam te vat: vanuit die perspektief van die Nuwe Testament moet gelowiges nie oorlog maak nie en moet hulle die wraak aan God oorlaat, veral as hulle as Christene vervolg word. Baie toeloë meen egter dat as jou lewe deur die ‘bose’ onregverdig bedreig word, het jy die reg om dit te beskerm.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt