Oorlogvoering in die Ou Testament (1)

image_pdfimage_print

Oorlogvoering in die Ou Testament (1) – Coen Slabber

Die herhaalde oorloë waarvan ons in die Ou Testament lees, skep vir baie moderne lesers ‘n probleem. Die probleem word nog erger as God die opdrag gee dat al die inwoners van ‘n stad uitgeroei moet word. Israel het in ‘n wrede wêreld probeer oorleef. Hulle moes voortdurend hulle grondgebied teen invallers beskerm. Dit sou egter net ‘n tydelike fase in die geskiedenis van Israel gewees het.

Jesaja voorsien ‘n tyd van vrede: Daar kom ‘n tyd … Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie (Jesaja 2:2 – 4). Net ‘n paar hoofstukke verder lees ons: Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring … Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid (Jesaja 9:6).

 

Ons gaan na enkele aspekte van fisiese oorlogvoering in die Ou Testament kyk. Maar wat is oorlog? Dit is ‘n geveg met wapengeweld tussen groepe van verskeie aard (lande teen mekaar, een bevolkingsgroep teen ‘n ander, ens. HAT) Dit gaan oor vernietiging en beskerming.

Die eerste aspek waarna ons gaan kyk, is stadsmure.

Stadsmure

‘n Eenvoudige muur sal vyande tydelik buite hou. Om werklik doeltreffend te wees, moes die mure aangepas word. Dit moes ook dien as platform vanwaar soldate hulle pyle kon skiet en hulle spiese kon gooi en so die aanvallers verdryf. So ‘n muur het gewoonlik uit drie dele bestaan:

(a) Die muur self. Gekapte klip is gewoonlik gebruik om die muur mee te bou.

(b) Die platform bo-op die muur. Hierdie platform was die plek vanwaar op die aanvallers geskiet is. Die verdedigers kon op die platform rondloop, want daar was ‘n mate van beskerming vir hulle – gewoonlik ‘n verdere muur. Daar was openinge waardeur hulle hulle pyle kon skiet. Groot klippe is van die platform op die aanvallers gegooi (2 Kronieke 26:15).

(c) ‘n Reeks hindernisse voor die muur. Hierdie hindernisse moes die boogskieters en die stormram verhoed om te na aan die muur te kom. Daar is soms ‘n grag voor die muur gegrawe wat verhoed het dat die stormram tot teen die muur gebring kan word. Die aanvallers moes eers die grag opvul, maar in die proses is hulle deur die verdedigers afgemaai.

Later is daar op gereelde afstande torings op die muur gebou. As aanvallers dalk die verdedigers sou oorrompel en op die stadsmure kom, is daar vanuit hierdie torings op hulle geskiet. Kasematmure is ook gebruik. Dit was eintlik twee mure met ‘n spasie tussenin. Hierdie spasie is gebruik vir stoorplek of selfs vir kamers. Ons sien dat Ragab se huis in die stadsmuur was, sodat sy in die muur gewoon het (Josua 2:15).

Stadspoorte

Die hek/poort van die stad was dikwels die fokus van ‘n aanval, omdat dit as ‘n swakplek in die verdediging beskou is. Hoe is die risiko verminder? Baie van die stede (soos Jerusalem) was op hoogtes gebou. Die pad na die hek het gewoonlik skuins teen die hoogte opgeloop. Daar is altyd probeer om te verseker dat die aanvallers met hulle regtersy na die muur geloop het. Die regterkant is dus blootgestel aan die verdedigers. Hoekom? Want die aanvallers het hulle skilde in die linkerhand gedra.

Die dik houtdeure was swaar en is dikwels met ‘n metaalplaat bedek. Die plaat het verhoed dat die aanvallers die deur kon afbrand. In gevalle waar dubbeldeure gebruik is, was daar ‘n swaar balk aan die binnekant wat die deur gesluit het. Aan beide kante van die hek was torings. Aanvallers wat die deure wou afbreek of aan die brand steek, het deurgeloop onder die verdedigers se pyle, spiese en klippe.

Die probleem met mure was die omtrek van die stad. Mure van tot 2 kilometers lank is gevind. Die hele muur moes beskerm word. Hiervoor was baie verdedigers nodig. Die aanvallers het dikwels hulle aanval op een plek gekonsentreer om die aandag van ander dele van die muur af te lei. Dan het ‘n tweede groep aanvallers die muur oorgesteek waar daar min of geen verdedigers was nie. As die muur eers oorgesteek is, was die verdediging binne die stad self dikwels swak. Sekere stede is in afdelings verdeel met ‘n muur om elk, maar dit was die uitsondering. Die beste soldate is in ieder geval op die buite mure geplaas.

Op die hoogste punt in die stad is daar dikwels ‘n vesting opgerig. Aanvanklik was dit om die tempel te beskerm, maar later is die koning se paleis en huise van hoogeplaastes ook binne hierdie vesting gebou. So lees ons van Simri wat sewe dae lank koning van Juda was. Die volk het egter vir Omri, die hoof van die leër, tot koning uitgeroep. Hy trek op na Tirsa waar Simri was. Dan lees ons: Toe Simri bemerk dat die stad ingeneem word, het hy na die verskanste deel van die paleis toe gevlug en die paleis op hom afgebrand (1 Konings 16:18).

Volgende keer gaan ons kyk na die strategieë wat aanvallers gebruik het om ‘n bres in die mure te slaan.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

image_pdfimage_print

You may also like...