Openbaring 19 en 20 (2)

image_pdfimage_print

Openbaring 19 en 20 (2) – Francois Malan

Pieter vra:

Dankie vir die antwoord van Prof. Malan.

Ek wil graag vir verdere duidelikheid op die antwoorde van punte (1), (3) en

(4) die volgende vrae vra:

(1) Wanneer Openb. 20:2-3 se bewering dat die Satan die nasies NIE MEER VERLEI

[Gr.: planao] nie, in die premillennialistiese siening verklaar word as ‘n “beperkte speelruimte,” hoe word 1 Tim. 4:1 daarmee versoen wat sê: “die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende [Gr.: planos] geeste en leringe van duiwels sal aanhang”? Sou dit nie in ‘n amillennialistiese siening impliseer dat Satan se onderdane mense kan verlei, maar Satan self dit nie kan doen nie?   Maar wat dan ook van 2 Kor. 4:4? Hoe is dit moontlik dat Satan die nasies NIE MEER VERLEI nie, maar nogtans die “god van hierdie wêreld” is wat die sinne van die ongelowiges verblind? Hoedanig is Satan dan steeds doenig (as brullende leeu – 1 Pet. 5:8) sonder dat hy mense verlei?

(3) Indien die chronologie wat tussen Openb. 20:10 en Openb. 19:20 geïmpliseer word nie binne ‘n chronologiese raamwerk geplaas kan word nie, watter regverdiging is daar dan oor om enige ander chronologie (bv. die satan word gebind en chronologies daarna losgelaat) te handhaaf? Al sou Durand se chiastiese struktuur opgaan, negeer dit tog sekerlik nie die chronologieë wat inherent bestaan nie. Maar die chiastiese struktuur kan ook nie eksak wees nie, want in Openb. 19:19 is dit “die dier en die konings van die aarde” wat teen Christus en sy leër oorlog maak, terwyl dit Satan is wat die nasies tot oorlog verlei in Openbaring 20:8 en nie “die dier” nie (want die dier is in die vuurpoel, volgens vers 10); en die oorlog is teen “die heiliges en die geliefde stad” (Openb. 20:9) en nie Christus en sy leër as sodanig nie. Ek kan dus nie insien hoe die versameling tot oorlog in Openb. 19 dieselfde as dié in Openbaring 20 kan wees nie; maar indien dit nie is nie, dan moes Openb. 19 vóór die koms van Christus gebeur het (volgens die amillennialistiese siening) en daar is geen historiese aanduidings dat dit wel die geval is nie.

(4) Ek verstaan nie hoe die Mediërs die silwer en die Perse die brons kan wees in die beeld nie, aangesien dit, volgens Microsoft Encarta (bv.), nie die Mediërs was wat die Babiloniese ryk oorgeneem het (539 v.C.) nie, maar die Perse (wat teen daardie tyd reeds die Mediërs oorwin het – 546 v.C.).

En die Mediërs en Perse het gesamentlik ‘n nasie gevorm (met die Perse die sterker een tussen hulle), so dit maak ook nie sin om die koninkryke as opeenvolgende wêreldmagte te sien in die visioen nie. Trouens, in die ooreenstemmende visioene van hoofstuk 7 en hoofstuk 8, word die Mediërs en Perse as een koninkryk beskou (vgl. Dan. 8:20).

Antwoord

Prof François Malan antwoord:

Vraag oor punt 1: Nee, die duiwel en sy engele is saam uit die hemel uitgegooi met Christus se kruisiging (vgl. Openbaring 12:9; 2 Petr.2:4; Judas v.6; Joh.12:31; Luk.10:18). Aan Christus, wat al ons sondeskuld gedra het, het God alle mag gegee in die hemel en op aarde (Mat.28:18). Hy heers nou oor hemel en aarde, en nie meer die duiwel nie. Die woord duiwel beteken ‘skinderbek’, wat ons by God beskinder of aankla. Dit kan hy nie meer doen nie. Selfs satan ,‘teenstander’, kan hy nie meer as ons teenstander triomfeer nie, met Jesus wat met ons is tot die voleinding van die wêreld (Mat.28:20).

1 Tim.4:1 – sien ons huidige lewe tussen Christus se kruisiging en sy wederkoms as die laaste dae (vgl. Hand 2:17-21; Hebr.1:2; 2 Petr.3:3). Paulus is bekommerd oor die ‘vroom’ skynheilige verleiers wat sommige gemeentelede in Efese o.a. verbied om te trou en om bepaalde soorte kos te eet as hulle gered wil word – m.a.w. om te vertrou op hulle eie goeie werke, om deur askese hulle saligheid te verdien. Daartoe word hulle verlei deur misleidende geeste (waarskynlik ‘n verwysing na die duiwels) wat deur die dwaalleraars, leerstellings verkondig wat deur die duiwel geïnspireer is.

2 Kor.4:4 praat van die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, om nie die evangelie van God se vrye genade te aanvaar nie. Die begrip ‘god van hierdie wêreld’ beteken die god wat as die gesagvoerder oor die wêreld gereken word deur die mense van die wêreld. Paulus verwys daarmee waarskynlik na die duiwel, in die sin van 1 Kor.8:4-6 se ‘baie sogenaamde gode en baie wat God genoem word’ deur die mense, maar vir die gelowiges is daar net een God, die Vader as Skepper van alles wat Hy deur Jesus Christus skep, en die enigste ware God is vir wie ons leef deurdat Hy ons aan Jesus Christus verbind het deur geloof wat die Heilige Gees in ons werk. In Filippense 3:19 praat Paulus van mense wie se maag hulle god is, hulle wat as vyande van die kruis van Christus lewe, m.a.w. mense wat nie hulleself verloën en hulle kruis opneem en Hom volg op sy kruisweg van selfverloëning nie, en nie vertrou op sy kruisdood vir ons verlossing nie. So kan die god van hierdie wêreld ook ‘n aanduiding wees van die eie-ek vir wie alle mense lewe, sedert Adam en Eva soos God wou wees om goed en kwaad te kan ken, totdat die Heilige Gees in ons begin werk om nie op ons self te vertrou nie, maar al meer op God, wat ons deur sy Seun se dood aan die kruis van ons self verlos. So verwys Jesus volgens Johannes 8:41-47 na die Jode wat op hulle uitverkiesing as kinders van God roem, maar vir Jesus, wat deur God gestuur is, nie liefhet nie, as kinders van die duiwel wie se wil hulle doen, en daarom nie luister na die woorde van God wat Jesus vir hulle bring nie.

1 Petrus 5:8-9 maan gelowiges tot waaksaamheid teen ons vyand, die duiwel, wat soos ‘n brullende leeu rondloop op soek na buit wat hy kan verslind as die laaste stuiptrekkings van sy mag wat deur Jesus oorwin is. Daarom moet ons vas staan en hom met die hulp van die Heilige Gees teenstaan. Efesiërs 6:10-18 vermaan ons om op ons pos te bly ondanks die aanslae van die duiwel, ons stryd is teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug. Daarom moet ons die volle wapenrusting van God aantrek, o.a. die swaard van die Gees, nl. die woord van God, en God by elke geleentheid smeek deur die Gees, terwyl ons ons krag soek in die Here en sy groot mag. Openb.12:10-17 vertel juis van die gesag van God se Gesalfde, en van die aanklaer wat uit die hemel uitgegooi is deur die bloed van die Lam. Maar terwyl die hemel juig, is daar ellende vir die land en see omdat die duiwel na ons toe gekom het met groot woede in die wete dat hy min tyd het, en hy maak oorlog teen die kerk wat aan Jesus se getuienis vashou.

Die premillennialiste se interpretasie van Openb.20:1-3 se ‘nie meer kan verlei van die nasies nie’ deurdat die satan vir 1000 jaar vasgebind en in die onderaardse diepte toegesluit is as ‘beperkte speelruimte’ is vir my ook nie duidelik nie. Ek veronderstel hulle meen die satan en sy gevalle engele het nog ‘n beperkte speelruimte onder mekaar gedurende die 1000 jaar, sonder enige invloed op die nasies van die wêreld. Dit waarskynlik omdat hulle nie dink dat ons nou reeds in die laaste dae lewe nie, maar dat dit eers na die 1000jaar se vrederyk aanbreek. Na die 1000 jaar sou die duiwel en sy trawante dan vir ‘n kort tydjie loskom om te doen wat 1 Kor 4:1 sê, volgens hulle.

Vraag oor punt 3, oor die chronologie. Die boek Openbaring is aanvanklik gerig aan Christene in Klein-Asië aan die einde van die eerste eeu na Christus, om hulle te bemoedig in hulle swaarkry en krisissituasie. Dit was veral teen die einde van die Romeinse keiser Domitianus se bewind, wat van 81-96 n.C. regeer het, en vereis het dat alle burgers hom as heer en god aanspreek. In sommige plekke in Klein-Asië, bv. in Efese het die keiserverering in keiseraanbidding verander met ‘n tempel vir Domitianus, en is o.a. Antipas in Pergamum weens sy geloof in Christus tereggestel (Openb.2:13).

Die slothoofstukke van die boek is kontrasterend opgebou. Aan die een kant staan die sedelose vrou Babilon, simbolies van Rome (17:1-18), teenoor die bruid van die Lam, simbolies vir Christus se kerk (21:2). Die sedelose vrou word vernietig, en konings, sakelui en seemanne huil (18:1-24). Gelowiges moet egter die kop oplig en luister na die aangrypende hallelujakoor uit die hemel wat God se verlossing verkondig (19:1-4), en die bruilof van die Lam breek aan (19:5-10). Ons moet sulke momente egter nie chronologies probeer verstaan nie, maar eerder as eskatologiese grepe om die eindtyd dramaties en triomfantlik voor te stel. Die bruilof is ‘n feesgeleentheid waar God se alleenheerskappy op die aarde gevier word, asook die verbintenis tussen die gelowiges (bruid) en Christus (bruidegom). Christus word in 19:11-21 geskilder as regter op ‘n wit perd wat voor sy leërmag beweeg om reg te spreek. Sy naam is ‘Woord van God’. Die twee diere wat in diens van die Bose is, die antichris en die valse profeet, word lewend in die poel van vuur gegooi. Goddelose mense word afgemaai en deur die roofvoëls opgevreet. Ook die Satan self word oorwin (20:1-6) en beland in die vuurpoel wat vir altyd brand (20:11-15). Die res van die mense, lewend en dood, moet voor die groot wit troon van God verskyn, waar die finale oordeel bekendgemaak word (20:11-15). Slegs dié wie se name in die Boek van die Lewe opgeteken is, spring die ewige dood in die vuurpoel vry (20:15). Só kom God se oordeelsvoltrekking tot ‘n einde. Al wat oorbly, is ‘n ode aan die verlossing met die aanbreek van die nuwe hemel en die nuwe aarde (21:1-8). Die nuwe Jerusalem daal neer uit die hemel, van God af, en is soos ‘n bruid getooi, simbolies van die volmaakte saamwees van die gelowiges met God en die Lam, volkome en volmaakte gemeenskap vir altyd (21:1-22:5).

Die hele laaste toneel sluit af soos dit in hoofstuk 12 begin het, met Christus se koms (22:17-21).

Vraag oor punt 4: Vir die eerste lesers van die boek Daniël was die boek se boodskap dat hulle in die tyd van die vierde ryk leef, onder die verdrukking van Antiogus Epifanes, die Griekse koning, wat hulle tempel ontheilig het en aan Zeus toegewy het, met ‘n altaar waar varke aan die Griekse god Zeus geoffer is, in 168-165 v.C.

Microsoft Encarta is volgens die geskiedenis korrek in hulle stelling dat die Babiloniese ryk deur die Perse oorgeneem is en die Mediërs toe reeds deur die Perse oorgeneem is. Maar die skrywer van Daniël het nie so gedink nie. Volgens Daniël 6:1-29 het Darius die Meder die koningskap by Belsasar die Babiloniër oorgeneem, Daniël in die leeukuil gegooi, en is deur Kores die Pers opgevolg. Volgens 9:1-3 het Daniël in die eerste regeringsjaar van Darius, van geboorte ‘n Mediër, vasgestel dat Jerusalem 70 jaar in puin sou lê. In 11:1-4 het Daniël vir Darius die Mediër bemoedig dat daar nog vier konings oor Persië sal regeer en die vierde sal die Griekse ryk opsweep, en dan sal Alexander die Grote regeer en maak wat hy wil. En as sy ryk skaars gevestig is sal dit in 4 opbreek. Dan gaan die hoofstuk voort met die stryd tussen die suidelike ryk onder die Ptolomeërs in Egipte en die noordelike ryk onder die Seleusiede, en hulle latere koning Antiogus Epifanes se soldate sal die heiligdom in Jerusalem ontheilig, die offers afskaf, en ding wat verwoesting aanrig en vir God ‘n gruwel is, nl. die Zeusbeeld, oprig (11:31, vgl. 9:27; 12:11). Van hierdie Darius die Mediër weet die sekulêre geskiedenis niks. Maar hy en sy regering vul die tweede deel van Nebukadnesar se droombeeld, die bors en arms van silwer.

Jesaja 13:17-20 praat ook van die Mediërs wat die Babiloniese ryk sal oorneem, vgl. ook 21:2; Jeremia 51:11,28. In Esra 4:5-24; 5:5-7; 6:1,12-15 word egter van Darius die Pers (522-486 v.C) gepraat wat vir Kores die Pers (539-522 v.C) opgevolg het (vgl. Haggai 1:1; 2:1,1; Sagaria 1:1,7; 7:1). Dit is blykbaar ‘n ander Darius as die een waarvan Daniël, Jesaja en Jeremia praat.

In Daniël 7 se droom tydens Belsasar se eerste jaar is daar vier diere: ‘n leeu met arendsvlerke (die Babiloniese ryk), ‘n beer (die Mediese ryk van Jesaja en Jeremia), ‘n vierkoppige luiperd met vier vlerke (die Persiese ryk met wêreldheerskappy), die skrikwekkende vreesaanjaende baie sterk dier met tien horings, met die kleinhorinkie wat die ander drie verdring en ‘n mond wat verwaande dinge kwytraak (die Griekse ryk wat in 4 split en die Siries Griekse Antiogus Epifanes as die klein horinkie se mond)

In Daniël 8 se visioen tydens Belsasar se derde jaar is daar twee ramme: die skaapram met twee horings, die korter een eerste en die langer horing tweede (Mediese en Persiese ryke), die bokram wat so vinnig oor die aarde beweeg (Alexander die Grote wie se horing van mag afgebreek het en met 4 horings vervang is wat na die vier windstreke toe gewys het) en uit een van die horings het ‘n onaansienlike horing gekom wat buitengewoon magtig geword het en selfs die daaglikse offer verbied, en God se tempel afgebreek het en ‘n sondige erediens in die plek van die daagllikse offer ingestel het en die ware godsdiens vertrap het (Antiogus Epifanes).

Die eerste lesers van Matteus 24:15 wat die verwoesting van Jerusalem deur die Romeinse generaal Titus in die jaar 70 n.C. beleef het, word verwys na die woord van Daniël se ‘die ding wat ‘n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, wat in die heilige plek staan’ (Markus 13:14 ‘…staan op die plek waar hy nie moet wees nie’) Lukas 21:20 ‘wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is.’

 

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...