www.bybelkennis.co.za Blog
Jesus as die ware wynstok (15:1-17) – Francois Malan
In die eerste afskeidsrede (hoofstukke 13-14) wou Jesus sy dissipels voorberei vir die verskriklikheid wat op Hom wag, sodat hulle nie hulle geloof in Hom verloor nie. In tweede afskeidsgesprek (hoofstukke 15-16) is die tema die lewendige gemeenskap tussen Christus en sy volgelinge en die betekenis daarvan as die grond vir die bestaan van sy volgelinge. Baie van die temas in 13-14 kom weer voor in 15-16.
Die Heilige Gees leer en herinner ons aan alles wat Jesus gesê en gedoen het (14:26) – Francois Malan
14:26 Die Vader sal die Gees stuur in die Naam van Jesus – daarmee word die Gees nóú aan die Seun verbind. Jesus is deur die Vader gestuur in die Naam van sy Vader, as verteenwoordiger van die Vader (5:4). Die Gees word deur die Vader gestuur in die Naam van Jesus, as verteenwoordiger van Jesus. Jesus het nie in sy eie Naam gekom nie. Die Gees kom ook nie in sy eie Naam nie (vgl Gal. 4:4-6). Die taak van die Heilige Gees is om hulle ‘te leer (didaskoo) en te herinner (hupomimneskoo)’ aan alles wat Jesus aan hulle gesê het – vgl. Joh. 2:17,22 toe die dissipels gedink het (mimneskoo) aan Ps 69:10 ‘die liefde vir u huis verteer my,’ toe Jesus die tempel gereinig het (v17); en hulle het die woorde van Jesus onthou (mimneskoo) oor sy liggaam as die tempel wat afgebreek en wat Hy in drie dae sal opbou (v22); vgl. Joh. 12:16 nadat Jesus verheerlik is, het hulle daaraan gedink (mimneskoo) dat Sag. 9:9 op Jesus se intog betrekking het: ‘jou Koning kom en Hy ry op ‘n donkie.’
Die ewige lewe is om in die liefde van God te lewe (14:20-25) – Francois Malan
14:20 Op daardie dag – verwys na Jesus se opstanding uit die dood (14:19), maar veral ook na die koms van die Heilige Gees wat in hulle kom woon (in Johannes geskied dit op die dag van die opstanding, Joh. 20:22) om hulle te oortuig dat Jesus in die Vader is, dat Jesus een is met die Vader (10:30). Die Gees verbind hulle ook met Jesus. Hulle kry ‘n aandeel aan sy sterwe en opstanding, aan sy kindskap – hulle lewe in Hom, soos die lote in die wingerdstok (15:5). Jesus woon ook in hulle deur die Heilige Gees in hulle (14:23) – gelowiges is geen weeskinders nie, maar kinders van die lewende God, aan die Kind/Seun van God in geloof verbind, deur die Heilige Gees.
Jesus sit sy werk uit die hemel voort deur die Heilige Gees in ons (14:12-19) – Francois Malan
14:12 Met ‘n plegtige verklaring bring Jesus ‘n asemrowende bemoediging vir sy volgelinge. Omdat Hy na die Vader toe gaan, sit Jesus sy werk in die wêreld voort vanuit die hemel, en doen Hy groter wonderwerke deur die mense wat in Hom glo. Toe Hy nog op aarde was, was sy wonderwerke beperk tot die mense wat met Hom en sy volgelinge in aanraking gekom het. Vanuit die hemel, aan die regterhand van die Vader, bereik Hy die ganse wêreld deur sy volgelinge wat uitgestuur word na alle nasies (vgl.Joh. 10:16; 12:32).