Betrokkenheid by die kultuur
“You may run from sorrow, as we have. Sorrow will find you.” — August Nicholson in The Village
Betrokkenheid by die kultuur
Greg Foster (Joy for the world) skryf oor Christene se betrokkenheid by die wêreld. Party glo dat dit iets is wat Christene moet vermy. In Handelinge 17 lees ons van Paulus se besoek aan Atene, die akademiese sentrum van die Romeinse Ryk van destyds. Hy is ontsteld oor die afgodery wat hy daar sien. Dit beteken nie dat hy sy rug op die stad keer nie. Nee, hy is daar op die markplein waar hy met die verbygangers praat. Destyds was die markplein die plek waar jy al die nuus gehoor het. Dit was ook die finansiële en kunssentrum van die stad. Atene saam met Rome was die kultuursentra van die Romeinse Ryk. Daar is idees gevorm en aanvaar – idees wat ‘n invloed op die res van die samelewing gehad het.