Paulus oor gelowiges se bydraes – Bestuurders daarvan moet omsigtig optree
Paulus oor gelowiges se bydraes – Bestuurders daarvan moet omsigtig optree
Dikwels wanneer gelowiges bydraes vir bepaalde sake gee, is daar ‘n bemiddelaar of bestuurder van die fondse nodig om dit uiteindelik te besorg aan die doel waarvoor dit gegee is. So het die Korintiërs ook bydraes gegee vir die verligting van die arm gelowiges in Judea se nood, en Paulus het opgetree as ‘n tussentydse bemiddelaar en bestuurder van hierdie fonds. Uit 2 Korintiërs 8-9 is dit duidelik dat Paulus onder sulke omstandighede ‘n beginsel van groot omsigtigheid voorgestaan het.

Dit was vir Paulus van die grootste belang om die hele fondsinsamelingspoging met omsigtigheid en bo verdenking te bestuur. Hy wil die saak so hanteer dat die moontlikheid van oneerlikheid of bedrog nooit eers ter sprake kan kom nie. Gevolglik stuur hy ‘n afvaardiging na Korinte (8:16-24) om die gemeente te gaan bystaan met die insameling van die fondse. Die afvaardiging bestaan uit Titus en nog twee gelowiges, een wat meer bekend was synde ‘n afgevaardigde van die gemeentes self te wees (8:18-19), en een wat minder bekend was maar tog deur Paulus betroubaar geag is (8:22). Deur hierdie afvaardiging, insluitende die gemeentes se eie verteenwoordiger van hulle keuse, saam met homself verantwoordelik te maak vir die hantering van die ingesamelde fondse, bewys Paulus sy versigtigheid en sy openheid rondom die saak, sodat hy beslis nie verdink kan word van verkeerde motiewe ten opsigte van die gemeentes se geld nie (8:20).
Paulus se gewete is skoon voor die Here, hy weet hy tree reg op voor Hom. Wat dit aanbetref is die afvaardiging dus eintlik onnodig. Maar Paulus besef dat hy ook korrek moet optree in die oë van die mense (8:21), daarom tref hy die nodige maatreëls om te verseker dat die fonds in alle opsigte “korrek” hanteer word.
Binne die konteks waar Paulus die afvaardiging as omsigtigheidsmaatreël aankondig, maak hy ruim gebruik van teologiese beskrywings vir die insameling. Dit bewys sy bewustheid van die teologiese aard van die insameling. Die fonds was in Paulus se oë as’t ware “geheilig”: God s’n in alle opsigte.
Skrywer: Ds Dirk Venter