Paulus oor gelowiges se bydraes – Hoe om te gee [2]
Paulus oor gelowiges se bydraes – Hoe om te gee [2]
Wanneer Paulus die Korintiërs in 2 Kor. 8-9 motiveer om bydraes te gee ter verligting van die nood van die arm gelowiges in Judea, gee hy vir die gelowiges duidelike riglyne oor die gesindheid waarmee hulle hierdie bydraes behoort te gee. Die gesindheid waarmee gegee word is immers vir God belangriker as die grootte van die gawe (8:12)! Drie van hierdie regte gesindhede word hier bespreek, nadat nog vier reeds in ‘n vorige artikel genoem is.
Wanneer Paulus die Korintiërs in 2 Kor. 8-9 motiveer om bydraes te gee ter verligting van die nood van die arm gelowiges in Judea, gee hy vir die gelowiges duidelike riglyne oor die gesindheid waarmee hulle hierdie bydraes behoort te gee. Die gesindheid waarmee gegee word is immers vir God belangriker as die grootte van die gawe (8:12)! Drie van hierdie regte gesindhede word hier bespreek, nadat nog vier reeds in ‘n vorige artikel genoem is.
Met liefde vir God en die medemens: Paulus beskou die manier waarop die Korintiërs gawes gaan gee, al dan nie, as ‘n toetssteen van hulle liefde (8:8), vir sowel God as vir hulle medemens. Hoewel Paulus hierdie argument gebruik om die Korintiërs tot aksie aan te spoor, gaan dit hier oor meer as net aanmoediging. ‘n Fundamentele teologiese uitgangspunt is ter sprake. Liefde vir God word immers vergestalt, nie alleen in diens aan God nie (en Paulus beskryf die fondsinsameling wel as sodanig: leitourgia), maar ook in liefde vir die medemens wat bewys word (9:13) in praktiese dienslewering (diakonia) ten bate van die medemens. In Paulus se hele teologiese beredenering word die manier waarop die Korintiërs hulle gawes gaan gee (al dan nie) dus werklik ‘n toets van hul liefde. Sou hulle met die regte gesindheid gawes (volgens hul vermoëns) gee, bewys dit dat hulle God en hulle medegelowiges wel liefhet en wil dien. Sou hulle vanweë verkeerde gesindhede nie wil gee nie, bewys dit presies die teenoorgestelde.
Met toewyding aan God (bo toewyding aan die saak): Paulus merk op dat die Masedoniërs sy verwagtinge oortref het deur eers hulleself aan God te gee, en daarna ook aan homself; en dat dit inderdaad is hoe God wil hê dit moet wees (8:5). Hiermee bedoel Paulus dat dit reg is dat hulle eerstens toegewyd aan God is, en dat hulle gehoorsaamheid en toewyding aan hom as hulle apostel, spesifiek ten opsigte van die saak van die fondsinsameling, daaruit voortvloei. Sy hele teologiese uiteensetting van die saak van die gee van bydraes, sodat God eintlik as die oorsprong, verloop en doel daarvan beskryf word (vgl. 2 Kor. 9:6-15), maak dit ook duidelik dat die hele saak allereers oor God gaan. Eers dan gaan dit ook oor die ander redes waarom hulle bydraes moet gee, soos byvoorbeeld dat die gelowiges in Judea se nood daardeur verrig sal word. Paulus wil die gelowiges se oë en harte allereers op God rig, om te besef dat Hy ook ten opsigte van ‘n saak soos die geldelike bydraes van gelowiges, die oorsprong en doel daarvan is, en dat Hy ‘n groot invloed het op die manier waarop dit behoort te geskied. Sy genade onderspan alles. Gevolglik moet gelowiges se toewyding die regte prioriteitsorde vertoon: eerstens ‘n toewyding aan God Self, die oorsprong, doel en Here oor die verloop van die saak; en daarna ‘n toewyding aan die saak (waarvoor die bydraes gegee word). As bydraes dus op so ‘n wyse gegee word dat dit eintlik vir God gedoen word (uit toewyding aan Hom), dan sal die motiewe en gesindhede van die gewer dienooreenkomstig gerig wees op die diens aan en verheerliking van God, bo alle ander moontlike uitkomste.
Skrywer: Ds Dirk Venter