Paulus se brief aan die Filippense (1:3 – 5) – Francois Malan
Dankgebed (1:3 – 11)
Die hele gedeelte (1:3-11) is ’n jubellied oor die heerlikheid van God se genade en sy grootse verlossingswerk in die Here Jesus Christus (1:6,8,10,11). Die hele paragraaf is een Griekse sin waarin alles aanmekaar verbind is aan die hoofwerkwoord, ‘Ek dank’ (eúcharistō) my God (vgl. 4:6 vir ‘dank’ eucharistía). Filippense 1 vers 3-5 1:3-4 ‘Ek dank my God elke (pas) keer wanneer ek aan julle dink. Altyd (patote), in elke (pas) gebed van my vir julle almal (pántōn), bid ek met blydskap… Paulus begin sy brief met sy dankbaarheid oor die seëninge wat ‘my God’ in die gemeente van Filippi uitstort. Sy gebed word vier keer gekwalifiseer met die woord ‘al/elke’(pas) Daarmee wil hy die aandag vestig op die verskillende aspekte van sy gebed: 1 Die persoonlike aard van sy gebed: elke (pásê) keer as ek aan hulle dink, in elke (pásê) gebed vir hulle. 2 Dat hy konstant vir hulle bid (pántote altyd en elke keer, die voortgang daarvan word beklemtoon met die deelwoord ‘steeds maak’ poioúmenos. 3 Dat almal (pántōn) in die gemeente ingesluit word in sy gereelde gebed. 4 Die spontaneïteit van sy gebed wat met vreugde (chará) gedoen word. ‘Dink’ – herinnering (mneía ‘om te onthou en te noem’) voor God. Die ongewone woord vir gebed, déêsis, beteken eintlik om by God te pleit, ernstig te vra, vir iets wat kortkom. In 1:19 pleit (déomai) die gemeente by God vir Paulus se vrylating uit die gevangenis. Hier pleit Paulus by God vir wat die gemeente kortkom – eenheid, nederigheid, wedersydse respek en besorgdheid oor ander (2:2-5). Dit is duidelik dat Paulus gereelde tye van gebed gehad het, soos bv. Daniël (Dan 6:11,14; vgl. Esra 9:5, soos die Leviete, 1 Kron 23:30). Telkens is dit ’n dankgebed wat hy tot God rig vir wat God besig is om aan en met die gemeentelede te doen. Daarby is dit duidelik dat hy gereeld alleen met God in gesprek is, baie persoonlik in ’n innige geloofsverbintenis met ‘my God’. Oor ’n persoonlike verhouding met God brei hy uit in 4:6: maak in alles julle versoeke aan God bekend; 4:7 die vrede van God sal oor julle harte en gedagtes waak; 4:9 die God van vrede sal met julle wees. Hy is die aktiewe teenwoordige God wat elkeen ken, in elkeen belangstel, wat optree en aan elkeen uit genade gee. Die hele brief is ’n vreugdebrief. Die bron van Paulus se vreugde is egter die vrede wat God skenk te midde van voorspoed en teenspoed (4:11-12); vrede en vreugde toe hy nog vryelik kon reis, en ook nou in sy gevangenskap, in lewe en sterwe (1:20-21). Hy sien die Here wat agter al die gebeure staan en die beheer het oor alles wat oor hom kom; en hy het ’n diepe vrede wat berus op die Here se gawe van vrede in sy hart en op sy slaaf Paulus se absolute vertroue op sy Heer. In een van sy vroegste briewe, Galasiërs 5:22, het Paulus al geskryf dat die vrug van die werking van die Gees van God in die gelowiges onder andere ook blydskap en vrede is. Daarom kom hy elke dag met blydskap voor God om Hom te dank vir wat Hy in elke lid van die gemeente in Filippi gedoen het en daagliks mee voortgaan. 5 bid ek met blydskap ‘oor julle deelname aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou.’ Die rede waarom Paulus die Here telkens vir hulle almal met vreugde dank is die gemeente in Filippi se deelname (koinōnía) aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou toe. Paulus gebruik die woord ‘evangelie’ 68 maal in sy briewe, waarvan 9 keer in Filippense. Dit word nie in die brief verduidelik nie, omdat hulle almal weet wat die goeie nuus is. Die eerste Europeër wat die evangelie aanvaar het was ’n godvresende vrou, Lidia die purperhandelaar, wat saam met ’n groepie Joodse vroue by die rivier gaan bid het omdat daar nie ’n sinagoge in Filippi was nie, en wie se hart die Here oopgemaak het vir Paulus se goeie boodskap; daarna die slavin wat Paulus en Silas aankondig as diensknegte van God die Allerhoogste. Uit haar dryf Paulus die waarsêende gees. Die nag kom ’n geharde Romeinse tronkbewaarder en sy hele gesin tot bekering (Hand 16:13-34). Sedert die klein begin van die gemeente lewe hulle saam met Paulus uit die genade van God (Fil 1:7). Die ‘goeie nuus’ gaan oor Jesus Christus wat hy verkondig (2:22; 4:15), die evangelie wat hy verdedig (1:7,16) en waarvoor hy stry (1:27; 4:3). Die inhoud van die goeie nuus beskryf hy in Romeine as ’n krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo in Jesus Christus, want daarin word God se geregtigheid geopenbaar, hoe God mense in die regte verhouding tot Hom stel, wat van begin tot end ’n saak van geloof in Jesus Christus is (Rom 1:16-17)). In Efesiërs 2:8 sê hy, ook die geloof in Jesus Christus is ’n gawe van God se genade. In Romeine 3:22 beskryf Paulus die ‘goeie nuus’ as God se vryspraak wat Hy uit genade gee aan almal wat in Jesus Christus glo. Paulus is bly dat die Filippense deel is van die goeie nuus deurdat hulle glo in Jesus Christus en saam met Paulus deel het aan die genade van God (1:7); ook omdat hulle deelneem aan die verkondiging van die evangelie deur hulle woorde en al meer deur die manier waarop hulle lewe (1:9-10.27). Hulle het deel geword van die teenstand, lyding, vervolging en stryd vir die geloof in die evangelie (1:27-30). Die geharde afgetrede Romeinse soldate wat in Filippi kom aftree het en die hele Romeinse regering was teen die kerk wat verkondig dat Christus hulle koning is. Die gemeente het ook vir Paulus in hulle gebede aan die Here opgedra en vir sy verkondiging van die evangelie (1:19). Hulle volgehoue finansiële ondersteuning van Paulus se evangelieverkondiging is ook deel van hulle deelname aan die evangelie (4:15). Toe hy in Thessalonika was, het hulle meer as een keer vir hom geld gestuur (4:16) ook toe hy in Korinthe gewerk het (2 Kor 11:10) en terwyl Paulus in Rome ’n gevangene is, het hulle Epafroditus gestuur om hom te help en ook ’n ruim bydrae gestuur (Fil 4:10,14,18). Wanneer Paulus aan die gemeente in Filippi se deelname aan die evangelie dink, kan hy sy God net in groot vreugde daarvoor dank oor wat God in en deur die gemeente doen in die wêreld.