Paulus se brief aan die Filippense (Fil 1:18-21) – Francois Malan
In elke geval, of dit met bybedoelings of in waarheid is, word Christus verkondig, en daaroor is ek vol blydskap.’ In vers 18 sê hy wat hy oor altwee die groepe dink. Een groep doen dit onder ’n voorwendsel (prófasis wat teen Paulus praat sonder ’n egte rede). Die ander groep doen dit met opregtheid (alêtheia wat waar is oor Paulus). Dit bekommer Paulus nie, want Christus word deur albei groepe verkondig, en daaroor is hy bly. Dit is een van die fynste voorbeelde van Paulus se adel, dat hy die persoonlike kwessies rondom hom fyn kan beoordeel en vreugde vind (chairō ek is steeds bly, teenwoordige tyd) oor die verkondiging van die evangelie van Christus (vgl.1:9: sy gebed vir die Filippense se toename in fyn aanvoeling). Dit word gedoen uit volkome vertroue op Christus dat Hy al dié verskillende stemme gebruik om sy evangelie bekend te stel en dat Hy sorg vir die voortgang daarvan (1:12).
1:18b ‘Ja, ek sal voortdurend bly wees.’
Hier kom Paulus by sy verwagting oor sy aanstaande verhoor. Vooraf beklemtoon hy sy vreugde oor wat op hom wag, of dit sy dood of sy lewe mag wees. ‘Ja (allá tog, vir seker, beslis) ek sal voortdurend bly wees (chairêsomai toekomstige tyd van voortgang).’ En dan gee hy sy rede vir sy innerlike vreugde in verse 19 en 20: 1:19 ‘want ek weet dat alles tot my verlossing (sōtêria en vrylating) sal lei, omdat julle vir my bid en die Gees van Jesus Christus my ondersteun.’ Hier gebruik Paulus dieselfde woorde as Job 13:16a volgens die Griekse vertaling, die Septuaginta (LXX), wat deur Paulus en die gemeentes as hulle Bybel gebruik is. Job sien daarna uit om sy saak voor God te stel, al sou dit sy dood beteken – Paulus sien daarna uit om sy saak voor die keiser te stel, wat sal beslis of hy sal bly lewe of sal sterf. Maar soos Job, verwag hy tog dat hy vrygespreek kan word. Die woord van God in Job het Paulus help oortuig, ‘ek weet!’ Sy oortuiging is verder versterk deur die gemeente in Filippi se pleitgebede (deêseis dringende pleit in ’n noodsituasie) vir hom by God, asook die besliste wete dat die Gees van Jesus Christus hom voor die keiser sal bystaan en wat nodig is sal voorsien (epichorêgía voorsien wat nodig is, ondersteun – eintlik op sy rekening neem ). So is Jesus deur die Heilige Gees gelei en gedra tydens sy aardse lewe (vgl. Jesus se salwing met die Heilige Gees by sy doop, Luk 3:22); en dat Hy duiwels uitgedryf het met die Gees van God (Matt 12:28). Jesus het gesê die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik voor sinagoges en owerhede leer wat om te sê (Luk 12:11-12), dit is immers nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat (Matt 10:17-20).
1:20 ‘Dit is immers my innige verwagting en hoop dat ek in geen opsig beskaam sal word nie, maar dat Christus met alle vrymoedigheid ook nou, soos altyd, deur my liggaam verheerlik sal word, of dit nou deur my lewe of deur my dood is. Paulus sien met innige verwagting (apokaradokía gretig vooruitsien, met verwagting uitsien) en vol hoop dat hy met sy optrede voor die keiser nie in enige opsig beskaamd sal word nie. Die passiewe werkwoord wys daarop dat hy verwag dat God sal sorg dat hy nie die evangelieverkondiging in die steek sal laat nie. Hy het die diepe begeerte dat Christus nou in sy persoon (sōma) soos altyd en met alle vrymoedigheid verheerlik sal word (megalunthêsetai). Die passiewe vorm verwys na God wat Jesus sal verheerlik deur Paulus se persoon; of dit nou deur sy lewe of deur sy dood sal wees. Die nag toe die kaptein van die keiserlike wag in Jerusalem vir Paulus in die soldate-kwartiere opgesluit het, het Jesus by Paulus kom staan en gesê: ‘Net soos jy in Jerusalem oor My getuig het, so moet jy ook in Rome getuig’ (Hand 23:11). Daarom is Paulus ook steeds bly oor die geleentheid waarop hy wag om persoonlik deur God gebruik te word om Christus met alle vrymoedigheid voor die keiser te verheerlik, of dit nou deur sy lewe of sy dood gaan wees. So het hy al in Romeine 15:18 geskryf dat hy nie sal waag om iets anders te praat as wat Christus deur hom gedoen het nie – daarom dat hy hierdie hele deel van sy brief met voortdurende blydskap kon begin (1:18a).
1:21 ‘Vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins.’ Voorop in die teks, wat nie werkwoorde het nie, staan ‘Vir my.’ In die vorige vers het dit gegaan oor wat Paulus se lewe of sy dood vir die keiser, almal teenwoordig by sy verhoor en vir die koninkryk van God sal beteken; sy diepe begeerte is dat beide, sy lewe of sy dood, Christus sal verheerlik. Hier gaan dit oor wat sy lewe of sy dood vir hom, Paulus, beteken: ‘Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.’ Letterlik staan daar: ’ om te lewe’ (to zên teenwoordige infinitief, die onbepaalde wyse) beklemtoon die belang van die proses om te lewe. ‘om te sterf ‘(onbepaalde verlede infinitief to apothanein) wys na die sterwe as ’n belangrike gebeurtenis. Die werkwoord ‘is’ ontbreek in albei die uitdrukkings, maar word veronderstel omdat ‘Christus’ en ‘wins’ in die gesegde-posisie staan. Vir Paulus beteken om te lewe Christus. Om te lewe is vir Paulus om vervul te wees met Christus, beset deur Christus, alles wat hy doen, vertrou, liefhet, hoop, gehoorsaam, preek, ens. is geïnspireer deur Christus en word gedoen vir Christus. Christus alleen gee inspirasie, leiding, betekenis en sin aan sy bestaan. Sy lewe word ten volle bepaal en beheers deur sy liefde vir en toewyding aan Christus wat aan hom op die pad na Damaskus verskyn het. Paulus is oorweldig deur Christus se majesteit, liefde, goedheid en vergifnis. In Galasiërs 2:19-20 het Paulus geskryf: ‘Met Christus is ek gekruisig; ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof in die Seun van God wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.’ In sy brief aan die Romeine 14:7-9 het hy oor alle gelowiges geskryf: niemand leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons leef, leef ons immers vir die Here en as ons sterf, sterf ons vir die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here. Dit is tog waarvoor Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes. Vir Paulus was om vir Christus te lewe ’n daaglikse las om saam met Christus te ly, en ook saam met Hom verheerlik te word (Rom 8:17). Sterwe beteken nie om sonder Christus te wees nie, maar juis om ook met Christus te sterwe, wat weer opgestaan het, om saam met Christus vir ewig te lewe. In Romeine 8:38-39 sê hy ‘Ek is oortuig dat geen dood of lewe…ons kan skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.’ As hy sterwe sal hy wel ontslae wees van aardse moeilikhede. Vir hom is die hoofsaak die voortsetting van sy verhouding met die verheerlikte Christus. Daarom is om te sterf vir hom ’n wins. Maar die manier waarop hy sou sterf kan ook ’n wins wees vir die evangelie.